ID-nagmerrie byna verby vir SA’ners wat oorsee gebore word

‘n Voorbeeld van die nuwe slim ID-kaarte

Die DA verwelkom die bevestiging dat die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, uiteindelik ingestem het met die DA se herhaalde versoeke dat genaturaliseerde burgers en Suid-Afrikaners, wat in die buiteland gebore is, slim ID’s moet kan ontvang.

Tommy Makhode, die direkteur-generaal van binnelandse sake, het gister tydens ʼn parlementêre portefeuljevergadering aan die DA bevestig dat hy opdrag ontvang het om dit met “onmiddellike effek” te implementeer. “Die DG het aangedui dat stelselaanpassings aan die gang is om dit te fasiliteer en ʼn oplossing vir hierdie saak te bring wat, om die DG aan te haal, die DA ‘herhaaldelik aangeroer het’,” sê Adrian Roos, die DA se skaduminister oor binnelandse sake.

Tot dusver kon die betrokke Suid-Afrikaanse burgers slegs aansoek doen vir die ou groen identiteitsboekie, en in sommige gevalle moes hulle honderde kilometers reis om aansoek te doen by die naaste klein kantoor wat steeds aansoeke vir die groen ID-boeke verwerk. “Slim ID’s is baie minder vatbaar vir bedrog en word ook aansienlik vinniger verwerk as groen identiteitsboeke,” voeg Roos by.

Volgens hom is die DA aan die voorpunt van die stryd vir die reg van Suid-Afrikaners op burgerskap en om hul burgerskap sonder beperkings te kan geniet. “Van ons oproep aan binnelandse sake om gratis DNS-toetse vir behoeftige Suid-Afrikaanse vaders te fasiliteer om die ouerskap van ongedokumenteerde Suid-Afrikaanse kinders te bewys; tot die aanhoudende druk op minister Motsoaledi om sy belofte na te kom om geboorteregistrasie by alle gesondheidsfasiliteite wat geboortes hanteer beskikbaar te maak; en die herstel van burgerskap aan Suid-Afrikaners wat hul burgerskap sonder hul medewete as gevolg van ‘n apartheidsera bepaling in die Burgerskapswet verloor het. Die DA sal parlementêre vrae indien oor die volledige besonderhede van die stappe wat gedoen word en die datums teen wanneer dit geïmplementeer sal word. Die party sal ook die verwikkelings noukeurig monitor om te verseker dat daar geen verdere vertraging is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Wie wil dan nou hierdie simpel land se burgerskap hê as hy/sy gebore is in lande SONDER:
beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Onbeheerbare misdaad
Regstellende aksie en BEE
Swak of geen munisipale dienslewering
Diskriminasie teen minderheidsgroepe
En en en en….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.