IMF aan SA: ‘Hervorm nou óf …’

Die Internasionale Monetêre Fonds (Foto: Oliver Douliery/AFP)

Geen ekonomiese groei nie is bes moontlik vanjaar Suid-Afrika se voorland. En die sukkelende toestande gaan heel waarskynlik versleg sonder die nodige hervorming, waarsku die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Suid-Afrika se ekonomiese groei het van 4,9% in 2021 tot 2% in 2022 gedaal te midde van Rusland se voortslepende oorlog in Oekraïne, internasionale monetêre beleidverstramming, ernstige vloede op tuisbodem, sowel as ʼn ongekende energiekrisis.

Die gemiddelde indiensnemingsvlak verlede jaar was boonop sowat 5% laer vergeleke met 2019.

Toenemende ekonomiese en maatskaplike uitdagings staar Suid-Afrika in die gesig, waarsku die IMF nadat sy uitvoerende raad verlede maand hul Artikel IV-konsultasie met Suid-Afrika afgehandel het.

Hoewel die IMF se direkteure Suid-Afrika se sterk grondbeginsels erken, het hulle opgemerk dat die post-pandemiese herstel, te midde van verskeie skokke, agter die rug is. Dit “vererger ekonomiese en maatskaplike uitdagings in ʼn konteks van verhoogde armoede en ongelykheid”.

Sake- en verbruikersvertroue en beleggersentiment bly ook swak.

Volgens die direkteure het Suid-Afrika dringend hervorming nodig om die volgehoue en inklusiewe groei te bevorder wat nodig is om hierdie uitdagings te pak.

Hooflyninflasie het te midde van hoër voedsel- en energiepryse bo die Reserwebank se teikenband van 3% en 6% gestyg. Inflasieverwagtinge het ook toegeneem, maar darem binne die teikenbestek gebly.

Verlede jaar het die lopende rekeningsaldo boonop tot ʼn -0,5%-BBP-tekort gedaal van ʼn 3,7%-BBP-surplus in 2021, as gevolg van laer kommoditeitspryse en logistieke knelpunte. Dit, tesame met taaier wêreldwye finansiële toestande, verskuiwings in beleggersentiment en verhoogde binnelandse politieke onsekerheid, het die rand laat verswak.

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die fiskale tekort het wel danksy lewendige inkomste- en uitgawebeheer 4,2% van die BBP in die 2022-’23-boekjaar bereik vergeleke met 4,8% in die 2021-’22-boekjaar.

“Ondanks hierdie verbetering het die staatskuld-tot-BBP-verhouding na raming tot 70% toegeneem. Die Reserwebank het rentekoerse proaktief verhoog om inflasie binne die teikenbestek af te bring en inflasieverwagtinge te anker en gaan voort met die verwydering van monetêre toegeeflikheid,” het die direkteure bevind.

Reële BBP-groei word nou op 0,1% vir vanjaar gestel, wat ʼn beduidende toename in die intensiteit van kragonderbrekings, en swakker kommoditeitspryse en eksterne omgewing weerspieël.

Suid-Afrikaners kan ’n jaarlikse groei van ongeveer 1,5% op mediumtermyn te wagte wees.

Dié groei is egter te min om voldoende werk te skep om nuwe toetreders tot die arbeidsmark te absorbeer. Die fiskale posisie sal daarom na verwagting versleg weens verswakkende inkomste uit minerale bronne, die Eskom-skuldverligtingsreëling, loonrekeningdruk en stygende skulddiens.

Die direkteure verwag daarom nie dat openbare skuld binnekort gaan stabiliseer nie.

Positiewe terugvoer

Die direkteure het wel die Reserwebank se verbintenis tot prysstabiliteit en die tempo van monetêre beleidsnormalisering geloof en gesê dit behoort inflasie weer binne die teikenband te bring.

Die direkteure het aanbeveel dat ʼn data-afhanklike benadering tot monetêre beleidsbesluite gehandhaaf word.

Die direkteure het ook die verbetering van die inflasieteikenraamwerk gesteun deur die huidige fokus op die middelpunt van die teikenreeks te formaliseer en die inflasieteiken te verlaag “met goeie kommunikasie” en “soos die omstandighede dit toelaat”.

(Argieffoto)

Die direkteure het die onlangse vermindering in die fiskale tekort geprys, wat pogings weerspieël om openbare besteding te beperk en inkomste-administrasie te verbeter. Hulle het ook sterker fiskale konsolidasie onder ʼn geloofwaardige mediumtermynraamwerk aangemoedig om openbare skuld op ʼn dalende trajek te plaas, terwyl produktiewe belegging en goed-geteikende maatskaplike besteding beskerm word.

“Dit moet ondersteun word deur hervormings aan die fiskale raamwerk, verkrygingstelsel en openbare beleggingsbestuurders,” het die IMF se direkteure gesê.

Hulle het ook die veerkragtigheid van die finansiële sektor verwelkom, veral te midde van die onlangse wêreldwye onbestendigheid in finansiële markte.

Die direkteure het beklemtoon dat die bevordering van ʼn volhoubare, inklusiewe en omgewingsvriendelike herstel, hervormings vereis wat private investering, ʼn gebalanseerde energie-oorgang en goeie bestuur bevorder.

Hulle het ook verdere maatreëls aanbeveel om SO’s te hervorm, sleutelnetwerkbedrywe vir deelname aan die private sektor oop te stel, die regulatoriese las te verminder en arbeidsmarkbuigsaamheid en die gehalte van onderwys te verbeter om hoë strukturele werkloosheid aan te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime kan nie hervorm nie. Hule kan wel transformeer.

Leon ·

Alles dui duidelik dat daar negatiewe ekonomiese groei gaan wees vir ten minste die volgende 5 jaar !!!!! Hoe dan anders dit is wat die regering beplan het

JvR ·

Alles deel van die ekonomiese gedeelte van die reset. Want iets moet eers geruineer word, en dan wil hul dit opbou na hul eie standaarde. As hul eie. Maar hierdie is n grand reset.

Papsak ·

Hierdie regering moet uit gelig word en vinnig ook genoeg is genoeg nou

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is teen die planke. Hy sal nie weer opstaan nie. Intussen moet ons werk aan alternatiewe planne.

Impact ·

Aan alles word ras gekoppel in die land tot nadeel van die burgers met hullel transformasie (drakoniese) instellings. Kyk maar na die res van Afrika, orals waar hulle in beheer is, is ‘n totale gemors en in wanorde. Hulle kos ons Telkom/Eskom/Transnet/Denel en en en ………………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.