Immigrante nie die oorsaak van SA se probleme – Navorsers

Argieffoto (Foto: Guillem Sartorio, AFP)

Die meerderheid van Suid-Afrikaners beskou immigrante, wettig of onwettig, as ʼn bedreiging en gee hulle die skuld vir werkloosheid en ander maatskaplike probleme in die land. Dit wil boonop voorkom asof die anti-immigrante-sentiment sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie toegeneem het. Dié inligting blyk uit ʼn navorsingsverslag wat die afgelope week deur die departement van wetenskap en innovasie, in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), gepubliseer is.

Die verslag dui daarop dat immigrante ʼn baie klein persentasie van die bevolking én werkersmag uitmaak, en dat hulle nie as die oorsaak van Suid-Afrika se probleme beskou moet word nie.

“Suid-Afrika het baie probleme, maar om dit bloot aan die voorkoms van internasionale migrante toe te skryf, sou verkeerd wees,” lui die verslag. Die verslag is opgestel na aanleiding van die onlangse opvlam van geweld teenoor immigrante.

Luidens die verslag het Suid-Afrikaners ʼn wanpersepsie oor die hoeveelheid internasionale immigrante in die land en dink die meerderheid Suid-Afrikaners daar is baie meer immigrante as wat in werklikheid in die land woon.

“Volgens die laaste sensusopname wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgevoer het, was daar in 2011 2,2 miljoen buitelanders woonagtig in Suid-Afrika. Dit is dubbeld die hoeveelheid buitelanders (1,03 miljoen) wat in 2001 aangeteken is.”

SSA se skattings is dat sowat 850 000 migrante die land tussen 2016 en 2021 binnegekom het, en die huidige getal immigrante word as net minder as 4 miljoen geskat, dus minder as 10% van die bevolking. Amper die helfte van dié migrante vestig hulle in Gauteng. Ten spyte hiervan het die Gautengse bevolking tussen 2020 en 2021 slegs met 1,9% gegroei.

Die RGN se South African Social Attitutes Survey (SASAS) wat in 2018 onder Suid-Afrikaners gedoen is, wys egter dat Suid-Afrikaners onder ʼn wanindruk verkeer en dink daar is baie meer buitelanders in Suid-Afrika as wat daar in werklikheid is.  Volgens die opname glo die meeste van die deelnemers (35%) daar is meer as 20 miljoen buitelanders woonagtig in Suid-Afrika. Die RGN wys ook daarop dat daar nie miljoene onwettige immigrante in Suid-Afrika is, soos wat dikwels beweer word nie. Dit is omdat daar nie ʼn demografiese voetspoor vir só ʼn groot ongedokumenteerde bevolking is nie.

Die navorsers wys verder daarop dat geen bewyse bestaan dat internasionale migrante die rede vir die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika is nie. Die Wêreldbank se ontleding van arbeidmigrasie in 2018 wys met elke aanstelling van ʼn immigrant in Suid-Afrika word twee werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners geskep. Immigrante maak volgens SSA se opnames sedert 2011 ook net 10% tot 12% van die arbeidsmark uit.

Internasionale migrante word boonop meermale in die informele sektor in diens geneem, waar hul werksomstandighede dikwels haglik is. “Eerder as om Suid-Afrika se probleme op immigrante te pak moet die land eerder aan die hoë werkloosheidskoers aandag gee en beleid formuleer om te verseker dat die ekonomiese groei kan herstel tot pre-Covid-19-vlakke.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

Ek stem nie heeltemaal saam met die skrywe nie. 90% van alle boewery (inbrake, zama zamas, roof, verkragtings) is immegrante (meetal Zimbawiers) by betrokke. Dit maak dat Suid Afrikaners alle immegrante beskou as ‘n bedryging.
Dit kan nie verseker gese word dat die aantal immegrante korrek is nie aangesien baie immegrante onwettig die land binne kom en net tussen die mense verdwyn en dan op onwettige manier burgerskap verkry.

Lillian ·

Nee, wat, hul dra by tot die probleme in ons land, kom hier opsoek na werk, dan wanneer dinge nie so uitwerk nie, dan gaan hul nie terug na hul land van oorsprong nie, maar begin dan misdaad pleeg om aan die lewe te bly, en omdat meeste ongedokumenteerd is, is dit maklik om misdade te pleeg en dan te verdwyn want daar is geen rekord nie van hul op ons data basisse nie. So, navorsers nie heeltemal so korrek met hul bevinding nie.

Boatsie ·

Dink dis meer ‘n geval van skuldige gewete. Die mense kom wys ons luigatte hoe om innoverend te wees , werk/inkomste vir jouself te skep en nie op jou gat te sit en wag dat die regering moet help nie.

Snowball ·

As daar net 50 werksgeleenthede is en 30 word vir immigrante gegee (òf omdat die locals gesien word as onbetroubaar en lui, òf omdat die onwettige immigrante bereid is om te werk vir minder as ‘n minimum loon en uitgebyt kan word) gaan dit ‘n probleem word vir ALMAL wat werkloos sit – niemand gaan na statistieke en persentasies kyk voordat hulle in opstand kom nie, hongersnood en werkloosheid weeg swaarder.

Jack ·

Liegstorie want hulle het geen idee hoeveel onwettige spoke in die land is nie. Nog altyd n probleem gewees dat getalle aangepas word by die reeds beplande resultaat voorgeskryf.

Shakespeare ·

Die skrywer dat immigrante nie ‘n probleem is nie het oogklappe aan en is onnosel. Tipies vd ANC/EFF kultuur is die totaal onwettige immigrante ook oëverblindery. Die ANC/EFF is die grootste bedreiging vir ons “afgrond” land.

Thea ·

Dis ongelukkig sommige SA’ners se probleem. Wil altyd die skuld op ander pak.

Ettienne ·

My genade …bestaan die RGN nog. Nog nie deur kaderontplooings totaal geruïneer nie…????

lodewyk ·

Ag asb wie dan? -Elkke keer as daar geweld,moord of wat ook al is,kan jy maar lees dat dit onwettige insypelaars is -veral plaas moorde,onwettige mynbedrywighede,koper diefstal,motor kappings en transito roof…soo gaan die lys aan -The proof is in the pudding!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.