Impakstudie oor onteiening bloot ‘politieke regverdiging’

Sakeliga sê die regering se impakstudie is bloot ‘politieke regverdiging’.(Argieffoto: pixabay)

“Die departement van openbare werke en infrastruktuur se sosio-ekonomiese impakstudie lyk meer na ’n politieke regverdiging vir onteiening sonder vergoeding as ’n billike ontleding van die werklike koste-implikasies.”

Só het Gerhard van Onselen, senior analis by Sakeliga, Maandag gesê oor die 28-blad-verslag wat dié organisasie met ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bekom het.

Die verslag wat aan Sakeliga gestuur is, sit die regering se assessering van die koste en voordele van die omstrede onteieningswetsontwerp uiteen, maar bevat geen berekeninge, bedrae, ontledings of data om die argumente wat in die verslag gemaak word, te staaf nie. Verreikende ekonomiese gevolge is ook nêrens ter sprake nie.

Van Onselen sê sosio-ekonomiese studies is verpligtend om te verseker dat die kostes van enige veranderings aan wetgewing en beleide nie groter is as die voordele nie.

“Die impakstudie beweer dat die Onteieningswet van 1975 eienaars onregverdig behandel en dat die onteieningstelsel van Suid-Afrika met die Grondwet moet ooreenstem. Die studie beskou die voorgestelde wetsontwerp op onteiening as die antwoord op hierdie uitdagings.”

Van Onselen sê dit is egter ’n ongeordende studie wat gebruik word om die ontneming van eiendomsreg te steun.

“Dit blyk ook dat dié sogenaamde studie al ’n geruime tyd afgehandel is, maar van die publiek weerhou is.”

Boonop sê Van Onselen dat dié studie nie aan internasionale standaarde vir die vereistes van ’n impakstudie voldoen nie.

“Die huidige beoordeling, volgens ons oorweging, voldoen nie aan die maatstawwe van ’n noukeurige regulatoriese impakstudie nie. Dit kom eerder oor as ‘n politieke regverdiging vir die onteieningsbeleid en hou nie werklik rekening met die koste van die voorstel nie.”

In die dokument word onder meer beweer dat banke voordeel sal trek uit ‘n toename in hul verbandboeke weens onteiening en staatsbeleid. Sakeliga beskou hierdie bewering as feitelik ongegrond.

“Die dokument dui ook nie die impak aan van die onteieningsbeleid op byvoorbeeld BBP-tendensgroei, werkloosheid, belegging en armoede nie. Inteendeel, dit gaan net oor direkte koste vir die staat – byvoorbeeld om teen litigasie te verdedig – en nie ekonomiese gevolge nie.”

In terme van die ontleding van die vraag of die wetsontwerp belegging sal afskrik, word die beleggers se kommer bloot van die hand gewys deur te beweer dat sulke beweringe “swak ondersteun word” en word daarop gewys dat daar “geen empiriese bewyse” is om die waarneming van die afskrik van belegging te ondersteun nie, voeg Van Onselen by.

Benewens al die staatsdepartemente word instansies soos Agri SA, die Bankvereniging van Suid-Afrika (BVSA), die Amerikaanse kamer vir koophandel, Eskom en Nedbank in die verslag genoem.

“Teenstrydige stemme soos dié van Sakeliga, die Instituut van Rasseverhoudings en die Vryemarkstigting word uit die verslag weggelaat.”

Besware soos dié van beleggers word kortliks genoem, maar dan vinnig weer afgemaak.

Sakeliga sê hy doen ’n beroep op die instansies wat in die verslag genoem word om die inligting wat hierin vervat is, te verifieer.

Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga, sê dat Sakeliga se kommentaar nie as teenstrydig met die bevindings van ‘n regeringsverslag beskou moet word nie.

“Daar is niks van wesenlike aard om mee saam te stem nie, want die dokument kom neer op ‘n uitgebreide opinieartikel. Ons stem miskien nie saam met die uitgesproke mening nie, maar daar is geen werklike feite, data of ontledings om in ag te neem nie.

“Dit is nie heeltemal onverwags nie, want daar is in werklikheid geen voordele aan ‘n regstelsel wat regte ontneem soos die beoogde Wetsontwerp op Onteiening sou doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Richardt

My generasie en sover ek weet ons volk, is groot gemaak om anti-kommunisties en anti-sosialisme te wees. Hier is ‘n direkte ‘rooi’ aanslag op en teen ons volk en die ‘akademici’ besig pragtige woordjies en argumente oor redes waarom dit nie koste-effektief sou wees en elke ander ‘gematigde’ argument teen onteiening of teen die intensiteit en omvang van die beplande ‘onteiening’… Dis van poog om met kommuniste te ‘redeneer’ waarom ons sit waar ons is. Hulle beplan om die roof van ons eiendom, bates en oorlewingsmiddele ‘wettig’ te maak. Hule beplan ‘n grootskaalse aanslag en gewapende roof teen ons volk,… Lees meer »

Tipper

So gaan ons land maar net gebuk.

Hennie

Niks nuut nie… Hierdie is kenmerkend van die swaap wat die land regeer!

Pieter

Dis mos vanselfsprekend dat anc hul nie steur aan opinies wat hul nie pas nie, al plek wat huidiglik nog werk is die howe.

Pietertjie

Pleks hulle doen ‘n impakstudie oor bedrog, diefstal en kader-ontplooiing.