In ʼn kajak op Oranjerivier van Lesotho tot Namibië

Edward John Hill en Taro Niehaus (Foto: Verskaf)

Twee mans gaan duisende kilometers van Lesotho tot Namibië op die Oranjerivier in ʼn kajak roei om geld in te samel om mense in nood te help.

Edward John Hill en Taro Niehaus, in samewerking met Chris van Biljon se Bring Hoop‑ en Boeredroogtehulp-projek, gaan in April vanjaar sowat 50 dae lank op die Oranjerivier roei – van die begin van die rivier in Lesotho tot waar dit in die see uitloop by Oranjemund in Namibië.

Hill sê hulle het ʼn liefde daarvoor om mense te help en dat hulle op hierdie manier iets doen vir die geld.

“Mense het nie vandag meer geld om net te gee nie. So ons wou graag iets doen wat nog nie vantevore gedoen is nie om geld in te samel,” sê hy.

Klarissa Joubert (Foto: Argief)

Hulle dra ook die projek, Kajak vir Liefdadigheid, op aan die 19-jarige Klarissa Joubert wat in Januarie vanjaar haar lewe verloor het toe sy saam met vriende op binnebande op die rivier afgedryf het en toe van die band afgeval het en deur die stroom meegesleur is. Joubert se liggaam is op 25 Januarie na ʼn reusesoektog gevind.

Hill sê hulle is tans besig met beplanning en dat hulle party dae tot 50 km gaan roei. Daar gaan ook dae verbygaan wat hulle nie mense gaan sien nie, waar hulle net blikkieskos kan eet en waar hulle op hul kajakke gaan moet slaap omdat die gebied nie van so ʼn aard is dat hulle kan aftrek nie.

Die roete wat hulle van Lesotho tot in Namibië aanpak, is sowat 2 200 km lank. ʼn 4×4-voertuig sal saam met hulle ry so naby as wat hulle kan en hulle gaan in radioverbinding wees met die mense in die voertuig.

Die kajakduo beoog om af te trek vir middagete, maar waar die terrein dit nie toelaat nie, sal hulle klaarkom met energiestafies, maaltydvervangingsdrankies en blikkieskos.

Hill sê hy hoop hulle kan deur hierdie projek mense help en ʼn bietjie hoop teruggee wat verlore is.

“Ek weet ons kan nie al die bekommernisse van al die mense wegvat nie, maar ons hoop dat, sover ons kan, ons mense kan help om hul lewe te geniet en hulle nie te bekommer oor probleme nie. Mense is so bekommerd oor hoe hulle hul huis, mediese fonds en kos vir die maand gaan betaal, en dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie.”

Om ‘n skenking te maak vir hierdie saak, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Rob Wilson het die hele Oranje in 2009 geroei.

SomeOne ·

ek wil julle net mooi vra, pasop vir water, dis nie elke man se speelmaat nie, wees veilig en ek bid dat julle deur Jesus veilig gehou sal word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.