Inflasie laagste in 13 maande

(Foto: Unsplash)

Die inflasiekoers het vir die tweede agtereenvolgende maand skiet gegee: van 6,8% in April tot 6,3% in Mei. Die koers is nou die laagste in 13 maande.

Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) sê Mei se lesing is die laagste sedert April 2022 toe die inflasiekoers op 5,9% gestaan het.

Die jaarlikse koers vir kos en nie-alkoholiese drank het ook met meer as twee persentasiepunte gedaal: van 13,9% in April na 11,8% in Mei.

StatsSA sê die meeste kategorieë wat kos en nie -alkoholiese drank behels het verlede maand ʼn laer jaarlikse inflasiekoerse aangeteken, met die uitsondering van suiker, lekkers, nagereg en koeldrank.

Bitter smaak vir dié met soettand

(Foto: Unsplash)

Die prys van suiker, lekkers en nagereg het in die 12 maande tot Mei met 11,9% gestyg – die hoogste lesing sedert Julie 2017 toe die inflasiekoers op 14,5% gestaan het.

Die prys van wit suiker het tussen April en Mei met 2,7% gestyg. ʼn Plak sjokolade het intussen 2,9% duurder geword.

In die 12 maande tot Mei het die gemiddelde prys van ʼn 2,5 kg-sak wit suiker van R49,68 tot R53,00 gestyg. Die gemiddelde prys van ʼn plak sjokolade (80 gram) het oor dieselfde tydperk van R17,11 tot R20,26 gestyg.

Gaskoeldrank, vrugtesap en mineraalwater is ook duurder.

Die koeldrankkategorie het ʼn gemiddelde jaarlikse prysstyging van 10,5% in Mei aangeteken, vanaf 10,3% in April. Mei se lesing is die hoogste sedert Maart 2019 (13,1%).

(Grafika: Tania Heyns/Maroela Media)

Uiteet meer gewild, maar duurder

Luidens die jongste BBP-syfers het huishoudings die afgelope tyd weer ʼn voorliefde vir restaurante en hotelle ontdek. Verhoogde huishoudelike besteding in die eerste kwartaal van die jaar word spesifiek toegeskryf aan die besteding by restaurante en hotelle, wat met 6,9% in reële terme gestyg het.

(Foto: Unsplash)

Restaurantpryse het tussen April en Mei met 1,2% gestyg. Dit het die jaarlikse koers vir restaurante van 7,1% in April tot 7,4% laat opskiet.

Die produkte by restaurante met die hoogste jaarlike prysstygings is vis en seekos (11,3%), pizza (9,3%) en rooivleisprodukte (9%).

Die produkte met groot maand-tot-maand-verhogings in Mei was pasteie (2,3%), warm drankies (1,9%), pluimveeprodukte (1,8%), hamburgers (1,6%) en rooivleisprodukte (meer as 1,5%).

Vleis nou goedkoper

Jaarlikse vleisinflasie het wel van 9,5% in April na 7,1% in Mei verlangsaam. Vleispryse het gemiddeld tussen April en Mei met 0,4% gedaal, met noemenswaardige maandelikse dalings in die prys van stowebeesvleis (-2,4%), varkvleis (-1,4%) en beesmaalvleis (-1,3%) .

Die prys van olies en vette het in Mei weer skerp gedaal – die negende agtereenvolgende maand van daling. Pryse vir olies en vette het tussen April en Mei met 2,2% gedaal, wat die jaarlikse koers tot -2,4% afgebring het.

Brood- en graaninflasie het in Mei tot 18,1% verlangsaam van 20,8% in April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Koos 100 ·

En ek glo dit nie, hoekom nie? Dis getalle wat deur ‘n regerings departement uitgereik word. Die regering lieg letterlik oor alles, en manipuleer enige iets om hulle te pas. Kyk hoe daal inflasie as dit tyd is vir salaris verhogings vir staatsamptenare, want hulle verhogings is gekoppel aan inflasie.

Amelia ·

Seker nie eskom se salarise nie hul 7% gekry sonder enige problemewaar ander maatskappy waar daar hard gewerk word niks kry nie

Koos 100 ·

Soos jy kan sien het Eskom nie probleme nie. R500 mil vir 3 maande se sekuriteit, dan is 7% seker niks om te betaal om jou werkers stil te hou nie.

Koos 100 ·

Nou sal ons seker 3 jaar moet wag vir die rentekoers om af te kom??????

houopkruip ·

Die gekwoteerde syfers is so niksseggend soos my sleepwa se een pap wiel.
Inflasie is in die omgewing van 15%.
Kwoteer tog die regte syfers ?!

Papsak ·

Alles gaan net by die uur op niks kom laer nie wat gaan in SA nou aan kan nie meer hier leef nie regtig

Hendrik ·

In my jong dae 1960 en 1970’s kan ek nie supermarkte onthou nie, Alles wat jy nie self geproduseer het soos vrugte en groente is by klein winkels gekoop. Die Jood en die Griek se winkels. Ons begin nou weer sulke markdae elke Saterdag in ons gemeenskap hou waar jy jou ware gratis uitstal. Met eie krag, water en goeie sekuriteit is ons maar seker uniek, behalwe ons susterdorp Orania.

Owlie ·

Iewers weet iemand minder as niks van wiskunde, rekeningkunde, finansies, ekonomie, INFLASIE
Hoe is dit moontlik om te sê inflasie is die laagste in 13 maande as pryse en rente net hoër en hoër en hoër gaan, die wat wel werk het se salarisse verhoog nie behalwe die staat en verder is die werklike werloosheid syfer baie hoër aswat erken word???!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.