Inkomstediens vorder byna R10 miljard meer in as verwag

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID het teen die einde van die 2023-’24-boekjaar byna R10 miljard meer in belasting ingevorder as die gewysigde bedrag waarvoor die nasionale tesourie vroeër begroot het.

Dít ondanks ʼn beduidende toename in terugbetalings aan belastingbetalers, lae ekonomiese groei, logistieke uitdagings, ongekende kragonderbrekings en ʼn daling in kommoditeitspryse.

Daar was ook ʼn enorme afname in die belasting wat uit die mynboubedryf ingevorder is.

 Volgens die SAID het hy ʼn nettobedrag van R1,741 biljoen teen Sondagaand (31 Maart) ingevorder.

Dit is R54,2 miljard (3,2%) meer as die vorige finansiële jaar.

Voor ʼn rekordbedrag terugbetalings van R414 miljard het die brutobedrag op R2,155 biljoen gestaan.

Terugbetalings vir die afgelope boekjaar het met 8,6% toegeneem.

BTW-terugbetalings van R343 miljard is ook meer en verteenwoordig jaarlikse groei van 7,5%. Dit is 6% van die bruto binnelandse produk (BBP). Uit dié terugbetalings is R120 miljard en R37 miljard onderskeidelik aan medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) en individue uitbetaal.

Die SAID sê hy het egter geweier om ʼn verdere R100 miljard se ongeoorloofde uitbetalings te doen. Dit is deel van die inkomstediens se pogings om belastingbedrog in die kiem te smoor.

“Hoewel ons bly is dat die R414 miljard weer in die hande van belastingbetalers is en die ekonomie goed doen, is ek steeds bekommerd oor terugbetalingsbedrog en -misbruik,” het Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, gesê. 

Luidens die SAID se jongste verslag het die instelling sedert 1994 al R21,6 biljoen se netto belastinggeld ingevorder.

Die soorte belastinginkomste het soos volg teenoor die vorige boekjaar verander:

  • Persoonlike inkomstebelasting was R651 miljard; dit is R49 miljard meer as die vorige jaar. Dit kan toegeskryf word aan hoër as verwagte vergoeding vir werknemers en hoër plaaslike BTW van R39,3 miljard.
  • Maatskappybelasting was R317 miljard, wat 8,9% of R31 miljard minder is as die vorige boekjaar. Dit kan onder meer toegeskryf word aan die afname van R42 miljard se inkomstebelasting in die mynboubedryf. Dit is ʼn enorme 66% minder as die vorige jaar. Slegs R25 miljard is uit dié bedryf ingevorder. Luidens die verslag maak die invordering van maatskappybelasting sowat 18% van die totale omset uit.
  • Invoertariewe was R70 miljard, wat op ʼn afname van R1,8 miljard in vergelyking met die vorige boekjaar dui.
  • Eiendoms- en aksynsbelasting het onderskeidelik met R1,8 miljard en R1,7 miljard afgeneem, terwyl dividendbelasting met 2,6% tot R39 miljard toegeneem het.
  • Die brandstofheffing is op R91 miljard 13% meer as die vorige boekjaar.

Hoewel die algehele invorderings steeds minder is as waarop die SAID gehoop het, is Kieswetter ingenome met die inkomstediens se prestasie. Hy meen die SAID, wat nou 30 jaar bestaan, is onlosmaaklik aan die land se demokrasie verbind.

Volgens Kieswetter sal die SAID dit ook toenemend moeilik maak vir mense wat belasting wil ontduik of opsetlik versuim om aan belastingvereistes gehoor te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Die regering is agterbaks. As dit kom by salarisse en rekeninge betaal, pleit hulle bankrotskap, as dit kom by geld uitdeel (heel moontlik om stemme te “koop”) is daar skielik ekstra geld. Hulle speel duidelik nie oop kaarte nie.

Manie ·

Hulle gaan ook die grootste wenners wees indien mense toegelaat gaan word om jaarliks geld uit hul pensioenfondse te onttrek.

kaplyn ·

Ek dink dat nasionale tesourie het met opset die bedrag met 10 miljard onderskat sodat die anc goed lyk in die verkiesings jaar. Die boodskap wat aan die stemvee uitgestuur word is, dat daar nou meer geld is en dat solank ons (die anc) aan bewind bly gaan ons hierdie miljarde aan julle uitdeel. Dan stem die stemvee weer anc!!!! Ek ruik ‘n rot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.