Insette oor Bela-wet steeds met ‘minagting’ bejeën

(Argieffoto: Shutterstock)

Dit lyk asof die regering lede van die publiek se kommentaar oor die omstrede Bela-skolewetgewing vir ʼn tweede keer “met minagting hanteer”, sê die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Die tweede ronde van die openbare deelnameproses om kommentaar oor dié omstrede wetsontwerp in te dien is tans onderweg, maar vaar weereens op troebel water. Nes die eerste ronde is ouers verlede week weer op kort kennisgewing van die eerste sessie in Mpumalanga in kennis gestel – en dít te midde van eindeksamens.

“Die kennisgewing oor openbare konsultasies in Mpumalanga is Woensdag [15 November 2023] aan rolspelers in dié provinsie gestuur. Die eerste sessie vind reeds op 23 November 2023 plaas,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

“Dit is eksamentyd en die hooffokus van ouers, voogde en onderwysers is tans op leerders, soos dit hoort. Soos met die eerste openbare konsultasies vroeër vanjaar, wek die regering se hantering van hierdie sessies die indruk dat daar geen waarde daaraan geheg word nie.”

Deacon sê die wetsontwerp is uit die staanspoor in omstredenheid gedompel en word deur ernstige tekortkominge gekenmerk wat “ingrypende implikasies vir die onderwyssektor inhou”.

“Verskeie drukgroepe en organisasies het reeds aangedui dat hulle die grondwetlikheid van Bela in die hof sal betwis. Fedsas het ook al ʼn kundige span aangestel om die stryd na die hof te neem.”

Hy sê voorts verskeie provinsies het reeds met die proses begin nog voordat die wetsontwerp amptelik voor die Nasionale Raad van Provinsies gedien het.

Deacon moedig elkeen wat nie met die wetgewing saamstem nie, aan om steeds aan die openbare proses deel te neem.

“Elke mening tel, selfs al is dit eers tydens ʼn latere hofproses. Skoolgemeenskappe moet die reg voorbehou om self oor die taal- en toelatingsbeleid van skole te besluit.

“Dertig jaar van swak onderwysbestuur op veral provinsiale vlak het gewys dat die alternatief dít wat wel nog in die skoolstelsel funksioneer, gaan uitwis. Goeie skole gaan gedwing word om ʼn aantal leerders in te neem ver bo die kapasiteit van die skool. Skielike veranderinge aan taalbeleid sal onderwysers se werklading verdubbel. Dit is onvermydelik dat dit ʼn negatiewe invloed op gehalteonderwys sal hê.”

Maroela Media het vroeër berig dat 99% van Afrikaanse ouers wat onlangs aan ʼn meningspeiling deelgeneem het, ook nie ten gunste van die wetsontwerp is nie.

Luidens ʼn verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) is 1 289 van die 1 302 respondente (99%) oortuig dat die gehalte van onderrig negatief deur die wetgewing geraak gaan word.

Deacon sê ouers en rolspelers moenie tou opgooi nie, maar steeds hul stemme laat hoor, al is die hele proses gebrekkig.

“Moenie voel dat hierdie proses reeds te ver gevorder het en dat deelname nie meer ʼn invloed kan hê nie. Groot openbare druk het die portefeuljekomitee oor openbare onderwys gedwing om derduisende bykomende openbare voorleggings en kommentaarbydraes by te werk. Dit is nou op skrif gestel en kan dus in hofprosesse gebruik word. Dieselfde geld vir die volgende ronde van kommentaar.

“Politici hanteer ongelukkig die openbare deelname soos ʼn referendum – wat dit beslis nie is nie –   en getalle maak dus vir hulle saak. Ouers en skoolgemeenskappe moet dus in groot getalle opdaag om hul stem te laat tel.”

Deacon sê voorts dat Fedsas sy ontstaan en steun oor die afgelope 30 jaar grootliks aan die konsep van openbare skole te danke het, en dat die instansie overpoosd sal voortgaan om gehalteonderrig vir elke kind in Suid-Afrika te verseker.

“Met die opstel van die Grondwet is besluit om weg te beweeg van staatskole en dat Suid-Afrika openbare skole sal hê wat behoort aan die gemeenskappe waar hierdie skole geleë is. Dit is die verpersoonliking van demokrasie en Suid-Afrikaners behoort hand en tand te baklei om dit te behou.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suzette ·

Dit is hoe die regering dit doen – hanteer insette en raad van minderheidsgroepe met minagting en druk alles deur met hulle meerderheid – maak nie saak of die werk of nie. Vele bewyse van waarskuwings en raad wat hulle geminag het en dit is hoekom SA vandag in die toestand is.

Marthinus Johannes ·

Julle luister nie, keer nie lesse nie. Maak nie saak wat julle doen of sê nie die ANC gaan alles wat hulle in plek wil hê deur stoomroller. Hulle ignoreer reeds Baie keer wat die hof beslis het ( ook net vir die skyn want hulle is ook ANC)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.