Besliste ‘nee’ vir Bela-wet van Afrikaanse ouers

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Afrikaanse ouers is nie ten gunste van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) wat die staat, eerder as ouers, in beheer van hul kinders se skole sal plaas sou dit ’n werklikheid word nie.

Die meerderheid van Afrikaanse ouers wat onlangs aan ’n meningspeiling rakende die omstrede wysigingswetsontwerp deelgeneem het, glo nie dat dit deurgevoer moet word nie.

Dit is meer as ’n 1 000 Afrikaanse ouers wat hul afkeur met die regering se planne te kenne gegee het.

Luidens ’n verslag deur die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI), glo 1 289 van die 1 302 respondente (99%) dat die gehalte van onderrig negatief deur die wetgewing geraak gaan word.

Daar was wel vyf (0,38%) respondente wat van mening is dat die wysigingswetsontwerp nie die gehalte van onderrig sal beïnvloed nie, terwyl agt (0,61%) respondente aangedui het dat hulle onseker voel oor hoe dié wetgewing die gehalte van onderrig sal beïnvloed.

(Grafika: Tania Heyns/Maroela Media)

Die oorgrote meerderheid (98,16%) voel ook dat Afrikaans deur die Bela-wetsontwerp bedreig word. Altesame 1 278 van die 1 302 respondente het hul kommer hieroor aangedui.

Tien (0,77%) respondente het egter aangedui dat hulle nie voel dat Afrikaans deur die wetsontwerp bedreig word nie en 14 (1,08%) voel nog onseker.

(Grafika: Tania Heyns/Maroela Media)

Sowat 97% voel negatief oor die voorgestelde wetgewing.

Die SNI wys dan in die verslag daarop dat Afrikaanse skole oor die algemeen goed presteer en dat die meeste van die land se Afrikaanse skole in die stadium deur ’n beheerliggaam bestuur word.

Luidens die verslag vaar skole waar beheerliggame nie besonder betrokke is nie, of waar die staat in beheer van die skool staan, oor die algemeen swakker. “Hierdie skole het ook ʼn reputasie van verval en swak dissipline wat meebring dat minder leerders aansoek doen om toelating tot hierdie skole,” aldus die verslag.

Die leerders en ouers wat vervreem voel blyk dan by presterende en veral Afrikaanse skole aansoek om toelating te doen.

Die SNI sê gehalte-onderrig en dissipline is waarskynlik die beweegredes hiervoor.

Min, maar tóg steun vir Bela

Slegs twee respondente het aangedui dat hulle van mening is dat die staat meer beheer oor openbare skole moet uitoefen. Een van die respondente het aangevoer dat die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar moet word.

Altesame 25 (2%) van die 1 302 respondente het aangedui dat hulle onseker voel oor wat die gewenste verhouding tussen die skool en die staat moet wees.

Ander respondente het aangedui dat hulle nie kenners op hierdie gebied is nie en dus nie gemaklik voel om ʼn opinie te lewer nie.

Kommer oor finansiële besluite

Luidens die verslag het sommige van die respondente tydens die meningspeiling sterk klem gelê op taal, kultuur en godsdiens en dat die beheerliggaam die ouers verteenwoordig en daarom die mag moet hê om besluite te neem.

Finansiële besluite word ook pertinent genoem.

“Behalwe dat ouers die staat nie met hulle kinders vertrou nie, vertrou hulle die staat ook nie met die skool se geld nie,” lui die verslag.

Die SNI sê dit is wél so dat sommige Afrikaanssprekende respondente positief voel oor die staat se betrokkenheid by skole.

“Dit is moontlik dat hulle steeds voel die staat het ʼn plig teenoor die kinders en gemeenskappe en dat die staat ʼn verantwoordelikheid het wat hy teenoor skole moet nakom.”

Die respondente stel dit egter baie duidelik dat die staat nie sy wil moet afdwing nie, maar dat hy skole moet vertrou om hulself te bestuur en self besluite te neem.

“Afrikaanse mense verkies dus die afwenteling van mag, terwyl basiese dienste en infrastruktuur om hulle te ondersteun, deur die staat gelewer moet word,” is die SNI se gevolgtrekking.

Daar was wel respondente wat aangedui het dat daar geen vorm van staatsbeheer by skole moet wees nie.

“Dié respondente het oor die algemeen min of meer dieselfde frases gebruik en min van hulle het werklik uitgewei oor hulle standpunte. Dit is nie duidelik of hierdie respondente voel die staat moet wel ʼn ondersteunende rol speel nie. Dit is egter duidelik dat die staat volgens hierdie persone geen vorm van beheer of besluitnemingsbevoegdheid vir ʼn skool moet hê nie,” lui die verslag.

Kommer oor openbare deelname  

Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die SNI, sê die data in die peiling wys hoe die regering se openbare deelnameprosesse onvoldoende was en dat die kommentaar van die publiek en veral minderheidsgroepe geïgnoreer is.

Ongeveer 9 000 uit 11 000 aanlyn insette (e-pos of Google-formaat) wat op ʼn sigblad deur die portefeuljekomitee oor basiese onderwys weergegee word, is teen die aanvaarding van die Belawetsontwerp gekant.

Altesame 150 het aangedui dat hulle ten gunste van die wetgewing is. Die wysigingswetsontwerp is nietemin met ʼn meerderheidstem deur die portefeuljekomitee aanvaar.

Toe gebruik die ANC verlede maand met die EFF, IVP, NFP en AIC se steun sy meerderheid. Die wysigingswetsontwerp is gevolglik tydens ʼn sitting van die Nasionale Vergadering met 223 stemme goedgekeur.

Prinsloo sê die studie beklemtoon Afrikaanssprekendes se behoefte dat skoolbeheerliggame hulle regte moet behou bloot omdat mense nie die staat en die departement van onderwys vertrou nie.

“Ouers wil nie sien dat die toekoms van hulle kinders, of hulle taal, deur hierdie amptenare se toedoen bedreig word nie. Hulle verkies dat ouers in beheer van skole bly en self besluit hoe daardie skool in die beste belang van die leerders bestuur word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hendrik ·

Iemand wat steeds nog ten gunste van die voorgenome Bela wet stem. is beslis oningelig rakende die vervalle toestand van die regering, sy grenslose korrupsie, integriteitlose vlak en onbevoegdheid. Hoe kan jy sover gaan om jou ouerskap prys te gee aan so n vervalle toestand? Die lang termyn werklikheid is die aanslag op die wese vanjou kind.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nicky, die staat het daai rol oorgeneem. So stil-stil..

Michiel ·

Jy kan skop en kerm dit gaan niks help.

Die enige, strukturele oplossing vir 100 jaar is: ‘n eie Afrikaans ééntalig soewereine Republiek.

Afrikaans = naasteliefde, hoop, orde, regverdigheid.
Engels = rassime, korrupsie, haatspraak, chaos.

Aai ·

Te veel mense verlaat SA so die staat wil gehalte van onderig verswak so kan mense nie land verlaat en so stem hulle vir CancER.

Nici ·

Ongelooflik dat die regering dink hul kan ‘n positiewe bydrae maak tot onderwys. Ek wonder of dit ‘n tipe massa psigose is dat hul aanhou glo hul kan bou terwyl hul net kan breek?

Suzette ·

Die anc gee nie om wie wat sê nie – solank hulle kry wat hulle wil hê.

Marina ·

Solank daar Afrikaanse skole is, gaan daar n standaard wees wat net eenvoudig te hoog vir 90% van die bevolking blyk te wees. In plaas van standaarde te probeer verhoog, word alles eerder afgetrek. Nou is almal mos gelyk? Minderwaardigheids kompleks op sy beste. Al word die laaste Afrikaans-medium skool “getransformeer”, sal die probleem in die onderwys nie opgelos word nie. Tensy die waarde van onderwys nie in die ouerhuis besef en aangemoedig word nie, stry ons ongelukkig n verlore stryd. Onthou die, “liberation before education…”? Daardie mentaliteit bestaan vandag nog.

Karoo ·

Ek weet regtig nie hoekom enige persoon in SA nog kinders wil he nie…. dis ‘n doodsfonis vir hulle, al wat voorle is mismoedigheid, ons ervaar dit daagliks en dit word erger. Wakw up and smell the Roses.

Karoo ·

….. of in die geval, “Wake up and smell the Surage”. Ons tyd is verby, moenie hieraan deel neem deur om kinders in die wereld te bring nie, leef jouself anders uit, jy gaan elke sent nodig he vir jouself, hulle kom vir alles.

Leona ·

Mense dankie tog vir dele soos die WesKus. Hier doen ons alles in Afrikaans. Dit is vreemd om engels te hoor. Suid adrikaanse tale, veral Xhosa, Tshwana en Zulu word hier gebruik. Maar ons hooftaal bly Afrikaans.. Ek ondersteun ten volle die BELA wetgewing. Laat die ouers wat die skoolfonds betaal besluit watter taal die hooftaal by die skool gaan wees.

Alida ·

Jy weerspreek jouself. Een oomblik sê jy dat jy BELA ondersteun, en dan dat ouers wat skoolfonds betaal, moet besluit oor die hooftaal by die skool. BELA wil juis daardie besluit uit die ouers se hande neem en dit aan die onderwysdept gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.