Intercape kap minister oor langafstandbusse se veiligheid

Intercape busse. (Foto: Intercape/Facebook)

Intercape-busdiens het die minister van vervoer, Fikile Mabula, Sondag in ʼn verklaring gekap oor sy “volgehoue versuim om die lewensbedreigende situasie” te hanteer wat voortslepende geweld teen Intercape-langafstandbusse betref.

In stukke wat Vrydag by die hooggeregshof in Makhanda in die Oos-Kaap ingedien is, verwys Intercape na Mbalula se miskenning van die erns van die situasie. Dit is in ʼn beëdigde verklaring vervat in reaksie op die hofbevel wat bepaal dat Mbalula en die LUR vir vervoer in die Oos-Kaap saam met polisie werk om ʼn nasionale aksieplan op te stel om geweld teen Intercape-busse hok te slaan, maar waarteen Mbalula appèl aangeteken het.

Die hooggeregshof het in September bevind dat Mbalula versuim het om met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) saam te span om beskerming en ondersteuning aan Intercape te probeer bied teen meer as die 150 gevalle van intimidasie en geweld wat teen sy bates en passasiers aangemeld is.

Maroela Media het vroeër berig dat Mbalula nie die sperdatum van die hooggeregshof vir die nasionale aksieplan nagekom het nie. Mbalula het nie net versuim om dié plan teen 28 Oktober te verskaf nie, maar ook ʼn appèl teen die oorspronklike bevel op die laaste nippertjie aangeteken. ʼn Aksieplan is wel deur Xolile Nqatha, die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap, ingedien, maar is volgens Intercape nie doeltreffend of volledig nie.

In sy beëdigde verklaring wat Vrydag ingedien is, het Johann Ferreira, Intercape se uitvoerende hoof, gesê dat dit juis “hierdie einste pligsversuim” deur Mbalula was wat van Intercape vereis het om hofverrigtinge in te stel. Volgens Ferreira is die “omstandighede wat die saak dringend gemaak het”, steeds van toepassing.

Hy het aangevoer dat, nieteenstaande die minister se appèl, dit noodsaaklik is om die krisis in die Oos-Kaap onverwyld aan te pak. Intercape het verder aangevoer dat die minister se aansoek om verlof tot appèl geen rede is dat hy nie aan die formulering van die aksieplan deelgeneem het nie, aangesien hy “verplig bly om deel te neem aan die formulering van die aksieplan uit hoofde van sy grondwetlike en statutêre verpligtinge”.

Intercape het gesê hy het ʼn beroep op die minister gedoen om in te stem tot die voortgesette werking van die hofbevel hangende enige appèl waarvoor verlof gegee kan word.  “Ongelukkig het die minister geweier om hierdie toestemming te gee.

“Om die krisis met die vereiste dringendheid aan te pak, is dit nodig dat Intercape die aksieplan alleen met die LUR bevorder. Hoewel dit nie is wat die hofbevel vereis nie, is dit beter as die alternatief dat daar geen toepassing van die hofbevel is nie.”

In terme van die aksieplan soos voorgehou deur die LUR vir vervoer, is ingrypings gelys wat wissel van onmiddellike aard tot op medium en lang termyn. Intercape het die indiening van ʼn plan verwelkom, maar is bekommerd oor die doeltreffendheid van die plan en die gebrek aan vasgestelde tydlyne.

“Die plan het ʼn algemene gebrek aan detail met betrekking tot die ingrypingsmaatreëls wat dit uiteensit. Dit spesifiseer ook nie daadwerklike tydlyne vir die inwerkingstelling van elke aspek van die plan, soos vereis deur die hofbevel nie,” het Intercape aangevoer.

Die ingrypingsmaatreëls wat in die plan gespesifiseer word, is volgens Intercape “onvoldoende om voorsiening te maak vir die redelike beskerming van Intercape se bestuurders en passasiers”.

“Sonder genoegsame besonderhede van wat gedoen moet word, asook deur wie, waar, wanneer en hoe, kan die plan nie sy beoogde doel dien nie. Inderdaad, sonder daardie besonderhede is dit glad nie ʼn plan nie, maar hoogstens ʼn verklaring van voorneme.”

Volgens Intercape het die plan ook versuim om die heropening van die sogenaamde “verbode sones” aan te raak, waar Intercape deur plaaslike taxiverenigings verbied is om sake te bedryf.

“Die aksieplan identifiseer sekere ‘brandpunte’ waar die geweld teen busbestuurders en passasiers die ergste is. Dié brandpunte bestaan ​​uit slegs vyf roetes waarop Intercape se busse ry. Die lys sluit geen dorpe of gebiede in wat Intercape in sy aansoekstukke beskryf het as so vyandig en wisselvallig dat dit ‘verbode sones’ is waarin hy nie kan werk nie.”

Intercape het die LUR gevra om ʼn hersiene aksieplan op te stel wat Intercape se insette in ag neem en dit dan vir verdere oorweging voor te lê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kokerboom ·

Die onbevoegde Minister se optrede en houding spreek van arrogansie en minagting wat ANC vir inwoners van land het!

Nicholaas ·

Heeltemal reg, net jammer die massas wat so bly stem vir hulle kan dit nie insien.

Perdeby ·

Sit self op elke bus ‘n gewapende wag, en skiet die rook uit hulle!

Koos 100 ·

Jy verstaan nie. Hierdie rowers kom in groepe. Geen enkel persoon kan hulle teengaan nie. En indien wel, hoeveel onskuldige passasiers op die bus sal sterf as die kriminele losbrand op die bus???

Anel ·

So die taxis wil vir die mense voorskryf van wat se vervoer hulle moet gebruik maak! Waar is demokrasie? Hierdie land het donder om ‘n skoot af te vuur in ‘n komunistiese staat verander. Met kastige ministers. Die lot geet geen idee wat hulle doen nie. Om appél aan te teken oor iets wat reg gedoen MOET word wat jy nog steeds nie reg wil doen nie. Hierdie is sommer ook ‘n bewys dat daar niks gevoel word vir die burgers van hierdie land nie. Verder, KRY DIE SPOORSTELSEL WEER OR STANDAARD!!!!!!

Swerwer ·

Hoor presies wat Intercape-busdiens sê want dit is ‘n verantwoordelik om mense te vervoer en ten miste is hul nog bekommerd oor die veiligheid van hul passasiers waat die Taxibestuurders glad geen duiwel omgee oor padveiligheid en gehoorsaamheid aan padveiligheidsreëls nie. Taxi’s behoort verban te word van SA Paaie en busdienste behoort uit te brei.

Pampoen ·

Iets wat my nog altyd dronkslaan is dat die Intercape busse altyd netjies vertoon en dit lyk op die oog af of hulle goed onderhou word. Mens sien so baie ander busse wat krom en skeef is en nie eers op die pad hoort nie. Dan lees mens aanhoudend in die nuus hoe Intercape deur owerhede geteister word, maar die ander busse wobbel maar ongestoord voort.

Frank ·

Met die heel eerste volgende geval dagvaar die minister in sy persoonlike hoedanigheid en dit behoort eintlik nou die norm te wees dat besluitnemers in persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word, net soos maatskappy bestuur aanspreeklik gehou word.

Danie ·

Kyk hy vee net sy g.t daaraan af.Gebruik ons geld on n hofbevel teen te staan.Waar is mnr hoed in die geval wat het hy vir homself te se.Dis n misdaad kwessie .Ek se weer kry gewapende wagte op die busse net vir n rukkie dan sal jy vonke sien.

whatever ·

Hy sit hand om die blaas met die taxi mafia. Kry heel waarskynlik ‘n ou meevallertjie ook

Koos 100 ·

My kommentaar in die verband is mooi geweier. Jy slaan die spyker op die kop!

Althes ·

Fikile Mabula doen tog net jou werk. Jy het ñ verpligting om paaie veilig en in stand te hou en om na padgebruikers en passasiers se belange om te sien.
Jy kry mos ñ goeie salaris, a nee man!

Gert ·

Die kort en die lank is Inter Cape wil nie omkoopgeld aan die taxi vereniging betaal om handel te dryf nie en dit is reg so. Ongelukkig kom dit teen ‘n prys van veiligheid vir drywers en passasiers. Sit maar pantser plate in en bull bars en gewapende wagte wat die bus verdedig. Minder wins maar jou integriteit bly behoue

christo ·

Ooglopend bewys dit dat die minister gereeld versuim om sy werk te doen. Tweedens weet ons wie is betrokke, maar daardie gedeelte van die passasiers vervoer industrie se eienaars nie eens inkomste belasting betaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.