Internasionale uitgewersreus neem Lapa onder sy vlerk

(Foto: Jamie Taylor/Unspslash)

Penguin Random House Suid-Afrika, ’n afdeling van die internasionale uitgewersreus Penguin Random House, het pas aangekondig dat hy Lapa Uitgewers by die ATKV gekoop het.

“ʼn Mens moenie die trefkrag van dié transaksie onderskat nie,” vertel Izak de Vries, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Lapa Uitgewers. “Dit is ʼn geweldige pluimpie vir Afrikaans.”

Lapa word as Suid-Afrika se grootste Afrikaanstalige uitgewer beskou, terwyl Penguin wêreldwyd een van die grootste handelsuitgewers is wat onder meer publikasies in Engels, Spaans, Duits en Portugees uitgee.

Die oorname is Woensdag gesamentlik deur Steve Connolly, uitvoerende hoof van Penguin Random House Suid-Afrika, en Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW (maatskappy sonder winsoogmerk), aangekondig.

De Vries vertel dat hy opgewonde oor dié nuwe hoofstuk is.

“Dis asof hulle met verkykers gekyk en toe ʼn klein Afrikaanse uitgewer raakgesien het,” vertel hy. Vir hom is dit nie net ʼn nuwe begin nie, maar dit gaan ook oor die blootstelling wat Afrikaanse boeke en skrywers wêreldwyd sal kry.

“Die pad vorentoe blyk op grondvlak nie veel anders te wees nie. Ons gaan voort met die werk wat ons doen, maar in samewerking met die span by Penguin.”

Sylvia de Wet, uitvoerende hoof van Lapa, verduidelik dat dié uitgewer se sakekern en redaksionele integriteit onaangeraak bly, maar dat Lapa deel word van ’n handelsmerk wat wêreldwyd aansien geniet. “Penguin se ongeëwenaarde kultuur, kommersiële sukses en steun aan skrywers word hoog op prys gestel.” Lapa behou dus sy naam, identiteit, leierskap, sakestrategie én personeel.

Penguin en Lapa gee albei oorspronklike fiksie en niefiksie in hardeband, sagteband en digitale formate vir volwassenes en kinders uit.

“Lapa se bestuurspan is bekend vir sy indrukwekkende vermoë om te groei en ons is van plan om hulle te help om nog groter hoogtes te bereik,” meen Steve Connolly, uitvoerende hoof van Penguin Random House Suid-Afrika. “Ek sien uit na die opwinding van gedeelde idees en ’n begeesterde energie in die saamgesmelte onderneming.”

Dié oorname sal dus ook tot voordeel van Penguin strek. Dit stel die uitgewery in staat om sy plaaslike markaandeel te verhoog, sy posisie te verstewig en die reikwydte en diversiteit van sy publikasielys en titels te versterk.

Penguin se bekroonde en topverkoper-skrywers sluit internasionale name in soos Michelle Obama, James Patterson, Roald Dahl en Margaret Atwood. Plaaslik word skrywers soos Pieter-Louis Myburgh, Lauren Beukes, Fred Khumalo, Tembeka Ngcukaitobi en Max du Preez deur hulle verteenwoordig. Penguin se skrywerskorps word uitgebrei en verryk met die werk van Marita van der Vyver, Sophia Kapp, Fanie Viljoen, Jaco Jacobs en Armand Aucamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

AmandaDup ·

Ek hoop dis ‘n goed deurdinkte besluit hierdie. Gaan LAPA werklik steeds kan funksioneer soos voorheen? Ek is nie altyd seker dat dit ‘n goeie idee is om jou identiteit prys te gee om deel van die wêreldmark te word nie. Bygesê Penguin is ‘n gerespekteerde handelsnaam regoor die wêreld – net versigtig dat LAPA sy “touch” gaan verloor deur uit te verkoop aan Penguin.

charmaine ·

Ek is nou al n paar jaar lid van LAPA hoop nie met tyd gaan ons dalk minder afrikaanse boeke sien nie, hierdie is nou lekker heuning om die mond smeer en wortel voor die neus hou maar ek hoop nie ons Romanza’s en dramaboeke ens verdwyn nie.

Karin ·

Ek stem saam met jou AmandaDup, dit maak nie sin nie. Die feit dat die ATKV so ‘n groot Afrikaanse stem in hulle middele verkoop het laat mens wonder……….

Annatjie ·

Max du Preez net die naam maak my wil weghardloop. Die skrywers klink my maar asof dit net een spesifieke groep lesers verteenwoordig.

JM ·

Nou het ons soveel doemprofete in ons geledere wat nou weer net die negatiewe kant raaksien!

Leon ·

Stadig maar seker sal Afrikaans verminder word en dan heeltemal verdwyn by LAPA.
Hou die spasie dop. Dit is ‘n plan wat van die Britte af kom. Hulle sukkel al sedert die 1830’s om dit reg te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.