Inwoners brand twee wat hulle van veediefstal verdink

(Argieffoto: Kent Williamson)

Twee mans wat in die Oos-Kaap van veediefstal beskuldig is, is aangerand en in hul voertuig by Baziya, naby Mthatha, aan die brand gesteek.

Kapt. Kaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, het gesê twee persone in ʼn bakkie met ʼn sleepwa vol vee was glo op pad na Ngcobo deur Mputi nadat hulle die beeste na bewering by Xhongora gekoop het.

“Die twee mans het glo by Mputi probleme ondervind toe die sleepwa losgekom en die beeste ʼn veld vol rondgeloop het.

“Terwyl die twee mans die beeste bymekaargemaak en terug op die sleepwa gelaai het, het plaaslike inwoners die twee van veediefstal beskuldig en die bestuurder en sy passasier begin aanrand,” het Tonjeni gesê.

Die twee is terug in hul eie voertuig gedwing en daar doodgebrand.

“Toe die polisie daar aankom, was daar niemand op die toneel nie.”

Twee sake van moord en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiehoof, het die voorval ten sterkste veroordeel en ʼn streng waarskuwing gestuur aan diegene wat die reg in eie hande neem en wie se optrede tot die dood of besering van onskuldiges lei.

“Niemand mag iemand anders aanrand nie. As iemand van ʼn misdaad beskuldig word, moet dit by die polisie aangemeld word sodat die bewerings getoets kan word. As iemand skuldig bevind word, moet die regsproses gevolg word, eerder as dat lewens op ʼn pynlike manier geneem en eiendom verwoes word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.