Inwoners by Bethlehem-sorgsentrum oorval, beroof

(Argieffoto: Eduardo Barrios/Unsplash)

Veiligheid by ʼn sorgsentrum vir ouer mense op Bethlehem word selfs verder opgeskerp nadat drie inwoners van die Sonskyn-dienssentrum Saterdag in die vroeë oggendure in hul onderskeie woonstelle oorval en beroof is.

Die aanvaller of moontlike aanvallers het omstreeks 02:00 toegang deur die geëlektrifiseerde heining gekry en eers ʼn vrou, vermoedelik in haar 70’s, in haar wooneenheid oorrompel. Die vrou is glo onder meer van haar bed gestamp en van haar selfoon beroof. Haar been is in die aanval gebreek.

Die aanvaller het glo ook ʼn voertuig by haar geëis, maar sy het gesê sy het nie een nie.

Die rower is daarna na ʼn ander wooneenheid, waar hy ʼn egpaar oorrompel het. Hier het die aanvaller glo ʼn skoot afgevuur en die man teen ʼn kas geslinger. Dié inwoner sal nou onder meer ʼn skandering vir beserings aan sy rug en nek ondergaan. Sy vrou is van haar juwele beroof en albei se selfone is gebuit. Albei het ook kneusplekke in die aanval opgedoen.

Die aanvaller het eindelik in hul voertuig gevlug.

Melanie Kramer, direkteur van bejaardesorg by Vrystaat Versorging in Aksie wat die Sonskyn-dienssentrum bedryf, sê die sentrum bestaan uit afsonderlike wooneenhede op ʼn gemeenskaplike terrein.

Daar is die afgelope paar weke grootskaalse opknappingswerk gedoen om veiligheid by die sentrum te verbeter. Dit het onder meer die aanbring van die elektriese heining ingesluit.

“Dit is vir ons baie sleg. Ons probeer ons inwoners so veilig moontlik hou. Ongelukkig kom die skelms in op maniere wat ʼn mens nie altyd kan voorsien nie.

“Die veiligheid van ons inwoners is egter ons prioriteit,” sê Kramer.

Alle inwoners van die sorgsentrum is oor die voorval ingelig.

“Uiteraard is dit ʼn baie hegte gemeenskap en ons gee vir hulle die nodige emosionele ondersteuning,” sê sy.

Annemie Bosman, bestuurder van die sentrum, was enkele minute ná die voorval op die toneel en ondersteun inwoners ook sover moontlik. Talle van hulle is geweldig getraumatiseer ná die voorval.

Kramer sê veiligheidsmaatreëls is opnuut opgeskerp, met veiligheidswagte wat onder meer bykomende patrollies sal doen.

Vrystaat Versorging in Aksie is ʼn organisasie sonder winsbejag en bedryf verskeie behuisingsentrums  vir ouer mense in die provinsie.

“Ons is verantwoordelik vir die weerloses en ons probeer werklik vir hulle ʼn veilige hawe bied,” sê Kramer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.