Inwoners wat wil, kán kragkrisis omseil

Rural se sonkrag-aanleg by Frankfort in die Vrystaat. Dit wek sowat 4,2MW op. (Foto: Rural Maintenance)

Daar is geen rede waarom die sukses wat ʼn private maatskappy met die bestuur van die Mafube-munisipaliteit in die Vrystaat se kraglewering behaal het, nie elders en veral op die platteland nagedoen kan word nie.

Die maatskappy Rural Maintenance het in Februarie 2012 die munisipaliteit, wat die dorpe Frankfort, Tweeling, Cornelia en Villiers bedien, se elektrisiteitsbestuur oorgeneem. Sedertdien lewer die maatskappy van die goedkoopste krag in die land, inwoners (sommige munisipaliteite uitgesluit) betaal hul rekeninge getrou en ten volle en wanneer ʼn probleem opduik, word dit as ʼn saak van dringendheid reggestel.

Rural Maintenance is ʼn nutsmaatskappy wat sy eie en ander mense of instellings se bates bestuur en bedryf, verduidelik Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural.

“Die munisipaliteit het bates; hy het ʼn netwerk, maar dit is totaal vervalle. Ons bou die netwerk amper oor, doen herstelwerk, lewer die krag en betaal dan vir Eskom namens die munisipaliteit.”

Dit is ʼn wen-wen-situasie, maar dit het aanvanklik groot sukkel en stoot gekos om hierdie punt te bereik.

Mense het dikwels die vooropgestelde idee dat ʼn private maatskappy se betrokkenheid gaan lei tot duurder pryse, dat die diens net ʼn sekere groep beskore gaan wees en afleggings onvermydelik gaan volg. In hierdie geval het hulle die teendeel bewys, sê Bosch. Rural het aanvanklik die nagenoeg 15 personeellede by die munisipaliteit se kragafdeling oorgeneem en deesdae is daar 40 permanente werkers.

“Almal kry elke maand betyds hul volle salaris,” sê Bosch, en hulle het al die toerusting wat nodig is om herstel- of instandhoudingswerk behoorlik te doen. Verder word voortreflike diens aan almal gelewer, maak nie saak of jy arm of ryk is nie.

Boonop lewer Rural “flinke diens teen billike tariewe”. In die Ngwathe-munisipaliteit, byvoorbeeld, betaal huishoudings wat ongeveer 300 kWh per maand gebruik gemiddeld 20% meer vir krag as hul bure in Mafube, sê Bosch.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) bepaal kragtariewe maar Rural kon die krag, weens ʼn doeltreffende beperking van tegniese en nietegniese verliese, vir laer tariewe met Nersa se ondersteuning aan die publiek beskikbaar stel.

Die munisipaliteit was woedend. Amptenare wou hê die krag moes steeds teen die hoër tarief verkoop word en dat die verskil eerder aan die plaaslike owerheid oorbetaal word, sê Bosch. Hierteen het hulle vasgeskop.

Inwoners betaal getrou hul kragrekeninge en Rural handhaaf ʼn betalingskoers van gemiddeld 90%+ – en dit ten spyte van groot armoede onder talle inwoners. Die maatskappy bedien sowat 14 000 kliënte en sedert hy meer as ʼn dekade gelede die bestuur oorgeneem het, is net omtrent 65 kliënte se kragskuld afgeskryf.

“Mense kan en wil betaal. Ons groot krisis is die klein persentasie wat die res se lewe in ʼn nagmerrie verander.”

Eie energie

Tweeling se behoeftes is veel minder as dié van Frankfort. (Foto: Rural Maintenance)

Rural het in vennootskap met boere in die streek reeds twee sonplase by Frankfort en Tweeling teen ʼn geraamde koste van sowat R100 miljoen op die been gebring. ʼn Derde een by Villiers, van 84MW, word beplan met grond wat reeds aangeskaf is.

Die twee sonplase lewer sowat 4,6 MW en die proses om die aanlegte se stoorkapasiteit te verhoog, is onderweg. Dit gaan beteken beurtkragfases later in die jaar kan verminder of selfs later heeltemal opgeskort word, sê Bosch.

Rural se versoek aan Eskom om die inwerkingstelling van beurtkrag self te bestuur, is egter van die hand gewys. Dit beteken ʼn hele dorp soos Frankfort se kragtoevoer word op dieselfde tyd afgeskakel en dít maak weer die deur oop vir boewe wat weet hulle kan nou op enige plek die infrastruktuur plunder.

En omdat Eskom die krag afskakel, word die krag wat van die sonplase afkomstig is ook afgeskakel, sê Bosch.

“Ons wil ons eie batterye installeer om dit te omseil, maar dit kos ons miljoene rande omdat Eskom nie wil luister nie.”

Namate die stoorkapasiteit verhoog word, sal hoër fases van beurtkrag op Frankfort verlaag kan word – en eindelik sal inwoners glad nie meer beurtkrag hoef te verduur nie omdat die sonplase genoeg krag opwek en die batterye dit kan stoor vir wanneer beurtkrag moet inskop.

“Die enigste antwoord is gemeenskappe wat hul eie ding doen,” sê Bosch.

Hy verwag ook al hoe meer hofsake wat wetgewing betwis wat Suid-Afrikaners as’t ware gevange hou binne ʼn raamwerk van dienste wat nie gelewer word nie, maar wat hulle terselfdertyd verhoed om daardie dienste óf self te lewer óf elders te bekom.

Platteland reggeruk

“As ons bure honger is, gaan ons nie lekker slaap nie,” sê Bosch. “Hierdie soort ontwikkelingsprojekte wat werk gaan skep gaan al hoe meer deur gemeenskappe self gefinansier word. Mense in hierdie land is fenomenaal, maar ons raak gatvol vir dit wat aan ons gedoen word; en dit is dalk ʼn goeie ding dat dit gebeur.”

Hy meen gemeenskappe gaan toenemend begin opruk oor vrotsige dienslewering en optrede eis.

Verlede week het chaos in Parys in die Vrystaat geheers toe hordes inwoners die strate ingevaar het in protes teen wateronderbrekings en vuil water. Voeg hierby groot woede oor voortgesette beurtkrag en die vet was in die vuur.

Bosch sê Suid-Afrikaners moet al hoe meer druk op amptenare plaas sodat hulle eindelik nie anders kan as om hulp te vra nie. Of dit nou by Rural, hul gemeenskap of enige ander bekwame maatskappy is, is hul eie keuse.

“Staatsamptenare moet begin besef hulle is nie te belangrik om die mense te dien nie.”

Rural volg ook ʼn strategie wat wyer is as net kragvoorsiening. “Ons hoop om die klein dorpies een vir een reg te maak sodat mense daarheen kan terugkeer. Ons wil nie net kyk na energie nie, maar ook na grondontwikkeling.”

Sakelui word gelok met dienste wat werk – en krag wat bekostigbaar en betroubaar is – wat beteken meer werk word geskep en ʼn gebied begin floreer.

“Ons kyk holisties na die hele proses en sê vir iemand wat sy geld hier wil belê, dat hier krag en water is. Kom ons groei.

“As ons basiese dienslewering op die platteland uitsorteer, gaan die land werk,” sê Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Jixy ·

Rural Maintenance het die oplossing gesien en Eskom is glad nie in hul skik daarmee nie. Hulle is soos n kind wat nie sy veter self kan vasmaak nie, maar steeds weier dat n grootmens hom help. Eskom moet wakker skrik en besef hulle gaan niks regkry sonder hierdie soort hulp nie.

kaplyn ·

Eskom word deur die anc gedryf. Eskom is een groot politieke gemors. Ek dink dit is die anc wat nie in hulle skik is daarmee nie, want dit pas nie hulle idologie van die staat (lees die anc) beheer alles nie. Ek dink die anc WIL nie wakkerskrik nie, want as hulle sou, dan erken hulle dat hulle kommunistiese idologie is verkeerd en het misluk.

Heinrich ·

Kaplyn, beter kon ek dit nie gestel het nie. Dieselfde klomp wat dit gebreek het, beloof nou om dit reg te maak (die ANC soos jy gesê het). Om hulle nou weg van die trog af te kry gaan nie gebeur nie.

Jacobus ·

Kaplyn dit is presies wat jy se, n kommunistiese regering wil almal onder hulle beheer he.

marius ·

Natuurlik sal die munisipale kaders woedend wees . Hoe gaan hulle miljoeners lewenstyle voortgesit kan word as hulle nie hul kloue in die geld kan slaan nie . Wel gedaan !

Goldy ·

Hulle moet maar net op hulle plek gesit word deur om aan hulle te sê dat hulle publieke dienaars moes wees maar die pakt gebreek het en nou net rowers is. Hulle het die pakt gebreek, dis hulle skuod dat hulle moet terugstaan.

Manie ·

Tweeling se behoeftes is veel minder as dié van Tweeling. (Foto: Rural Maintenance) Verduidelik asb.

Janice du Plessis ·

Dagsê Manie
Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die flater, die berig is gewysig.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Danie ·

Ek vra myself hoe kan hulle dit bereik maar ander nie?Wel gedaan en bou n suksesvolle besigheid.

Benn ·

Eskom, jy kan nie die elektrisiteit voorsien nie maar niemand anders mag dit doen, wat jy nie kan doen nie., maar veronderstel is om te doen! Mens sal dink die verligting wat Rural bied, minder druk op julle sal plaas om krag te voorsien. Word wakker en begin hande vat met mense wat weet wat hulle doen. Dan sal jul dalk ook oorleef.

Jacobus ·

Benn dit is nie Eskom nie maar die kommunisties ANC wat vir Eskom se wat om te doen. Het jy nie gisteraand op die 7 uur nuus gehoor wat Andre de Ruyter te se gehad het nie? Die politisie moet Eskom uitlos dat hy sy werk kan doen.

Eugene ·

Baie goed mnr Bosch. Hou net die regering daar uit, en ook vir Mantashe, de ruyter werk saam met die regering, hou hom ook uit.

Jacobus ·

Jy het seker nie gisteraand se 7uur nuus gekyk nie? Andre de Ruyter se politiek moet uit Eskom gehaal word want hulle kniehalter hom op elke moontlike manier om sy werk te doen. Jy sal sien wat gebeur met Eskom na einde Maart as deRuyter en Jan Oberholzer klaarmaak.

Pierre ·

die regering is bang dat eskom dieselfde pad sal loop as die poskantoor waar privaat besighede soos Postnet oorgevat het n ware gevoel van mislukking en die erkening daar van

Matmiet ·

Hierdie is die manier waarop ons nasie nog altyd te werk gaan om die uitdagings waarvoor ons te staan kom die hoof te bied, terwyl ander net hulle koppe in die sand druk. Baie mooi inisiatief, mag dit groei van krag tot krag – Ons sal self, as ander nie wil nie!

Andre ·

Daar is te veel beheer deur mense met ‘n ander agenda as dienslewering.

Josua ·

Wel gedaan aan die mense, ongelukkig sit ons met n groot probleem in SA en dit is dat ons met n sekere groep mense in SA sit wat alles verniet wil hê en al kry hulle dit verniet word dit misbruik, die tweede probleem is dat enige maatskapy wat sukses behaal in SA word gedwing deur BEE ens om “sekere” mense aan te stel in top posissies en sodra dit gebeur begin die maatskapye skielik groot winste verloor tot die deure moet sluit weier jy die aanstellings is jy rassities dan word die derde kaart gespeel genaam GRONDGRYPE en sal hulle enige snert opdis om op die een of ander manier te bewys dat daardie stuk grond voorheen deur n sekere voorvader “gees” besit was en is deur die apartheid regering van die grond verdryf en so slaan hulle die kloue weereens in die geld kas in en die res weet ons nou al wat die gevolge is. Ek hoop regtig die eienaars van die suksesvolle besigheid het hul huiswerk baie gedoen, want die oorlog het reeds vir julle begin.

Suzette ·

Sal wonderlik wees as Rural Maintenance kan ingryp by die Mangaung Metro – die onbevoegdes stel elke kort-kort “regrukkers” aan en niks word reggeruk nie, net uitmekaar geruk en so verdwyn die belastingbetalers se geld saam met die riool in die straat af.

Wakkerslaper ·

Om ons eie krag op te wek en ons eie basiese dienste te voorsien is nie die probleem nie – dit sal ons regkry. Ons is vooruitstrewende volk met ‘n hoë intellektuele vermoë.

MAAR, dan moet ons asb ophou belastings betaal aan die terroriste regime… en sommer ophou voldoen aan hulle belaglike eise – b.v. ten opsigte van SEB ens.

Paul ·

So dit is duidelik dat die anc verantwoordelik is vir die mislukkings en in die pad staan van sukses in SA

Strandloper ·

Wow…daar is lig in die swartgat wat die anc so rigtigloos in rond ploeter. Welgedaan Rural Maintenance!

Goldy ·

Ons wil ja en sal moet. Daar bestaan nie meer n regering nie, net n kriminele mob wat ons gevange hou. Hulle het geen reg oor ons lewens nie en moet uit. Ons kan onsself honderde kere beter regeer as n spul kriminele.

Hennie ·

En so gaan die 42 000 ANC parasiete by EKSDOM stadig maar seker hul werk verloor… Is dit nou nie goeie nuus nie? Luigatte wat hemel hoë salarisse kry vir niks doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.