Iqbal Sharma-saak duur voort

Mbana Thabethe, Limakatso Moorosi, Seipati Dhlamini en Iqbal Sharma in die hof. (Foto: Verskaf)

Iqbal Sharma, voormalige raadslid van Transnet en sakevennoot van die Gupta-familie, se aansoek om borgtog in die Bloemfonteinse landdroshof hervat Dinsdag.

Die hof het Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, vroeër vandag vrygelaat op borgtog van R10 000, het Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, gesê.

Sharma en Thabethe is van die 15 beskuldigdes wat tereg staan op aanklagte wat verband hou met bedrog by die Vrystaatse departement van landbou.

Die saak spruit uit bedrog van R25 miljoen toe ʼn lewensvatbaarheidstudie in 2011 onreëlmatig toegeken is aan Nulane Investments 204, ʼn maatskappy wat Sharma besit en bestuur het. Die maatskappy moes binne sewe maande ʼn verslag vir die departement saamstel. Nulane het egter die werk aan Deloitte Consulting uitgekontrakteer vir R1,5 miljoen. Werk wat reeds deur Deloitte gedoen is, is na bewering ook na Gateway Limited uitgekontrakteer en hulle het R19 miljoen ontvang.

Die geld is van daar na Islandsite Investments 180 oorbetaal – ʼn maatskappy wat die Gupta-familie besit en bestuur het.

Die NVG voer aan Sharma, Thabethe, die voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou Limakatso Moorosi, en die voormalige finansiële beampte van die departement Seipati Dhlamini, het saamgespan om die geld, wat vir landelike ontwikkeling in die Vrystaat geoormerk is, te kanaliseer. Die geld is aan die Gupta-familie beskikbaar gemaak.

Moorosi en Dhlamini is Donderdag vrygelaat op borgtog van R10 000 elk ná hulle op 3 Junie in hegtenis geneem is.

“Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van bedrog en geldwassery. Die voormalige regeringsbeamptes staan ook tereg op aanklag van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur,” het Seboka bygevoeg.

Die vyfde beskuldigde in die saak, Sharma se swaer en ʼn verteenwoordiger van Nulane Investments, Dinesh Patel, sal eersop 15 Junie 2021 formeel in die hof verskyn, weens gesondheidsredes.

Die persone word saam met Nulane Investments, Wone Management, Pragat Investment en Islandsite Investments aangekla. Die res van die verdagtes op die klagstaat is nie tans in Suid-Afrika nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Laat hulle maar gaan hulle gaan ons ken al die storie. Die land se regstelsel is n grap nes die anc

ES ·

En dis hoe die Guptas so ongelooflik ryk geword het. Ons regering het hulle befonds. Maar niemand in die ANC wat met hulle verbind is/was word vervolg nie. Zumpie, inteendeel, maak en breek soos hy wil en verontagsaam die tientalle hofbevele teen hom.

En die ergste van als is, hy word nie eers verder of meer streng vervolg vir sy arrogansie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.