Jacques van ‘BSV’ soek spontane, energieke pasmaat

Jacques. (Foto: Verskaf)

Jacques, ’n 26-jarige boer, is die vyfde geslag wat boer op ’n wolskaap- en beesplaas tussen Venterstad en Steynsburg.

Hy is een van die tien boere wat liefde wil vind in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou.

Marciel Hopkins bied vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aan, en dié maatsoekreeks sal van Julie 2024 uitgesaai word.

Kykers sal dan die boere se liefdesreise kan volg, en die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.

Jacques was ná skool van plan om ’n graad én dalk ’n vrou te gaan vang, maar toe ry die pandemie sy planne in die wiele. Hy moes terugkeer plaas toe en sy honneursgraad aanlyn voltooi.

Toe alles rustiger geraak het, het iemand die idee van bemarking aan hom genoem en vandag is hy mal daaroor.

“Dit is een van die lekkerste goed vir my om te doen, want ek werk elke dag met boere en elke dag met vee. Ek kan nie lank stilsit nie, ek moet besig wees. Die bemarking vat lekker hande met die boerdery.”

Jacques bieg dit is nie altyd so besig op die plaas nie. “Junievakansies is dit jagtyd met die familie; bergfietsrenne en skemerdrankies met vriende,” sê hy.

Hy verklap dat hy soms, wanneer hy met sy bakkie op die plaas rondry, kyk vir plekke waar hy sy pasmaat graag sal wil vra om te trou. Vir hom is die plaas besonder mooi, en hy geniet dit geweldig om daar te wees.

Jacques. (Foto: Verskaf)

Jacques was ’n hakkelaar as kind en ly aan disleksie, maar vandag is hy ’n welsprekende jong man propvol vertroue.

“Ek is ’n persoon wat nooit opgee nie.” Dit is dalk hoekom hy partykeer ongeduldig raak. Hy erken hy kan ook baie uitgesproke wees. Volgens Jacques sê sy vriende hy het nie die vermoë om te luister nie.

Aan die ander kant van die muntstuk is hy ’n hardwerkende en waardegedrewe jong man wat altyd positief probeer wees, beide in denke en teenoor ander mense. Hy is ook baie lief vir lag.

“Ek hou van ’n stylvolle vrou wat elegant is en een wat weet wat sy sê. Sy moet weet wie sy is. Ek gun haar haar eie loopbaan en om haar eie sukses te bereik.”

Hoewel hy wens vir ’n spontane, energieke meisie met ’n lus vir die lewe, besef hy wanneer die regte mens oor sy pad kom, daardie aspekte nie juis gaan saakmaak nie.

Hy dink ook nie romanse is iets wat elke week moet opduik nie, maar hy is nie ongeneë vir die gedagte om so nou en dan iets spesiaals vir haar te doen nie.

“Ek dink romanse is ’n baie belangrike deel van ’n verhouding en dat dit meer natuurlik sal kom met die regte mens.”

Hy wil ook hê sy vrou moet besef hoe belangrik sy vir hom is. “Jy hoef dit nie net vir haar te sê nie, maar jy moet dit ook deur jou dade lééf.”

Wil jy vir ’n boer skryf?

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.