Agt boere – en twee boerinne! – soek vanjaar maat op kassie

Marciel Hopkins, aanbieder van ‘Boer soek ‘n vrou’. (Foto: Skermgreep)

Vanjaar is daar twee vroueboere wat deel vorm van die toptien-boere wat na liefde gaan soek in die 16de seisoen van die kykNET-pasmaatreeks Boer soek ʼn vrou.

Die toptien-boere is Sondagaand op kykNET bekend gemaak. Potensiële pasmaats kan nou vir dié boere skryf.

Lulani (40), ʼn bees- en skaapboer, is op soek na ʼn vrouepasmaat, terwyl wild- en beesboer Sanel (39) van Dwaalboom op soek is na ʼn manlike pasmaat.

Al die boere wat vanjaar deelneem, is tussen 23 en 40 jaar oud. Die boere verteenwoordig ook vanjaar sewe van die nege provinsies.

Marciel Hopkins gaan vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aanbied, en die reeks sal vanaf Julie 2024 op kykNET uitgesaai word.

Kykers sal dan die boere se liefdesreis kan volg en oudergewoonte sal die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.

Diegene wat vir een van die toptien‑boere ’n brief wil skryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 30 November ingedien word.

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Besoek www.kyknet.tv.
  • Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app KOER.
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
  • Stuur ’n e-pos na [email protected].

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom. Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse:

  • Boer soek ’n vrou, PostNet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129.
  • Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.

Die sluitingsdatum vir briewe is om middernag op 30 November 2023.

So lyk 2024 se toptien-boere:

André.

André, 31 (vrouepasmaat), vee-, wild- en pekanneutboer, Modimolle (Nylstroom), Limpopo

Daandré.

Daandré, 26 (vrouepasmaat), Groenteboer, Brits, Noordwes

Hendri.

Hendri, 31 (vrouepasmaat), bees-, skaap- en olyfboer, Dewetsdorp, Vrystaat

Jacques.

Jacques, 26 (vrouepasmaat), skaap- en beesboer, Venterstad, Oos-Kaap

Janco, 37 (vrouepasmaat), bees-, skaap- en wildboer, Colesberg, Noord-Kaap

JW.

JW, 23 (vrouepasmaat), appel-, peer- en skaapboer, Villiersdorp, Wes-Kaap

Lulani.

Lulani, 40 (vrouepasmaat), bees- en skaapboer, Philippolis, Vrystaat

Niel.

Niel, 30 (vrouepasmaat), saai- en veeboer, Dannhauser, KwaZulu-Natal

Quintus.

Quintus, 38 (vrouepasmaat), vee- en saaiboer, Winburg, Vrystaat

Sanel, 39 (manlike pasmaat), wild- en beesboer, Dwaalboom, Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonny ·

Eerste keer in die geskiedenis dat by al di manne se name staan hul verkies Dames…
Dan di ander vroue boer soek n man…
En die vroue boer soek n vrou!

Nommer 7 ·

Dan ook, as ‘n boer ‘n man of ‘n vrou soek, verdubbel die kanse!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.