Jagersfontein-myn vat verantwoordelikheid

(Foto: Verskaf)

Die maatskappy wat die diamant-verwerkingsaanleg in Jagersfontein in die Vrystaat besit, het sy stilte verbreek oor die ramp wat Sondag afgespeel het nadat ʼn slikdam van die aanleg se wal gebars het. Hy sê nou hy aanvaar verantwoordelikheid vir die ramp, hoewel die damwal volgens hom nie weens nalatigheid aan die myn se kant gebars het nie.

Jagersfontein Developments het nou R20 miljoen ter verligting aan die dorp en inwoners wat deur die ramp geraak is, beskikbaar gestel.

Leigh-Ann Carey, woordvoerder van Jagersfontein Developments, sê die maatskappy het die R20 miljoen onmiddellik beskikbaar gestel om kospakkies en ander benodighede aan diegene wat deur die ramp geraak is, te verskaf, asook hul mediese en hospitaalrekeninge te vereffen. Die geld gaan ook gebruik word om die dorp se infrastruktuur en inwoners se huise te herstel.

Volgens die maatskappy is die dam se infrastruktuur wel onderwerp aan gereelde instandhouding en nakomingskontrole.

“Hoewel mynbedrywighede in die dorp baie jare lank rustend was en nie deur Jagersfontein Developments onderneem is nie, is die verwerkingsaanleg, wat wel deur die maatskappy besit word, ʼn lewensvatbare en funksionerende aanleg. As sodanig is dit onderwerp aan gereelde instandhouding en nakomingskontrole, en is die diamantafval wettig verwerk,” sê Carey.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het Dinsdag tydens sy besoek aan Jagersfontein klem daarop gelê dat die eienaars van die myn verantwoordelikheid moet aanvaar vir die skade.

Hy het die inwoners nietemin verseker dat die regering sal help om ʼn oplossing te vind weens die omvang van die ramp.

Aanvanklik is berig dat drie mense dood is, maar die kantoor van die Vrystaatse premier het Woensdag gesê slegs een mens (70) is dood en nog ʼn vrou (50) word steeds vermis. ʼn Verdere 73 mense is in die hospitaal opgeneem nadat die wal van die slikdam 06:00 Sondag meegegee het. Meer as 200 families is dakloos gelaat en weet nie wat die pad vorentoe vir hulle inhou nie.

Sophy Beukes en haar kleinkinders is hartseer oor hul huis wat oorstroom het [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Maroela Media het vroeër berig inwoners het die regering menigmaal gewaarsku oor die gevaar wat die slikdam inhou en sê hierdie ramp kon voorkom gewees het as daar die afgelope paar jaar na hul hulpkrete geluister is.

Hulle het gekla dat die dam nie aan die nodige veiligheidsmaatreëls of -gehalte voldoen nie.

Boonop leef hierdie inwoners in vrees dat die dam verder kan bars.

Carey het egter hierdie vrese in die kiem gesmoor toe sy bevestig dat die oorblywende damwal stabiel is. Sy sê die proses om oorblywende afval uit die dam te pomp, asook herstelwerk aan die damwal het reeds afgeskop.

ʼn Volledige ondersoek na die oorsaak van die ramp is hangende.

“Altesaam 70% van Jagersfontein Developments se arbeidsmag kom uit die omliggende gemeenskap. As sodanig is dit daartoe verbind om bedrywighede so gou moontlik te herstel sodat hierdie gesinne nie te lank sonder ʼn inkomste sit nie.”

Die maatskappy het ook duidelik gemaak dat die slik nie gevaarlik vir mens en dier is nie.

Watertoetse wat vroeër die jaar gedoen is, het egter daarop gedui dat die ondergrondse water in die mynskag – waarvandaan die slik kom – hoë vlakke van arseen bevat. Die water gemeng met die arseen is nie geskik vir menslike verbruik nie en is ook moontlik giftig vir diere en plante.

Water- en kragtoevoer is ook intussen na die dorp herstel.

Eskom het in ʼn verklaring bevestig grootmaat-elektrisiteitstoevoer na Jagersfontein is Woensdag omstreeks 04:25 herstel.

“Eskom-tegnici het dag en nag gewerk om ʼn vervangingstransformator by die Badplaas-substasie in Jagersfontein te installeer en te bekragtig, nadat die Rietkuil-substasie deur slik verswelg is,” sê Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom.

Mantashe sê die departement sal alles in sy vermoë doen om die gemeenskap te help ondanks ʼn hofuitspraak van 2007 wat hom daarvan vrygestel het. Die myn se vorige eienaars, De Beers en Ataqua Mining, was by dié hooggeregshofuitspraak betrokke.

Mantashe het gesê die uitspraak dui daarop dat slikdamme nie deel van sy departement se verantwoordelikhede uitmaak nie, maar die verantwoordelikheid van die departement van waterwese is.

“Nietemin sal die departement nie sy rug op die gemeenskap draai nie,” het die minister tydens sy besoek gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Departement van Water en Sanitasie se Hoofdirektoraat Compliance Monitoring and Enforcement dus aandadig aan hierdie ramp. Asook Direktoraat Damveiligheid. Hartseer dat dit so moet gaan. Gaan die boere vergoed word?

Chris dupreez ·

Hulle moet net die R20 miljoen self hanteer, en geen regerings amptenare naby dit toelaat nie. Gee dit vir die ,,Gift of the givers ,, om te help.

Kobus ·

En met die volgende verkiesing gaan hy ewe trots daar staan en vertel hoe die ANC die mense gehelp het

Mariana ·

Natuurlik is als ok en niemand se skuld nie. Ons doen almal maar als om die mense te help maar ons moet bysê dis nie ons skuld nie. Altyd die ander se skuld. Verdomp help net die mense, ongeag wie die blaam wil of moet vat. Dis nou hulp aan die mense wat alles verloor het wat belangrik is.

Vonny ·

Ons smeek…Carey ASB hanteer die fondse jul self.
So nie vloei die geld soos water….weg!

marius ·

Kader ontplooing en dit verdwyn soos mis op die horison . Hou maar dop .

anneke ·

Net R20 miljoen? Wie probeer hulle bluf? Dis mos heeltemal te min om almal se skade te dek.

Jixy ·

As myne genasionaliseer was soos die regering wou hê sou hierdie mense waarskynlik nie die R20mil hulp gekry het nie. Ek hoop van harte die geld verdwyn nie net nie en dat almal wat deur hierdie tragedie geraak is gehelp word. Sterkte aan al die slagoffers!

SjN ·

Mooi gebaar van die myngroep, hou dit asb net ver weg van die kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.