Jagluiperdwelpies ʼn ‘eerste’ vir Kaapse reservaat

Een van die luiperds by Buffelsdrift Game Lodge in die Wes-Kaap. (Foto: verskaf)

In ʼn eerste vir die Oudtshoorn-omgewing en ʼn reusebewaringsukses, is twee vrylopende jagluiperdwelpies onlangs by die Buffelsdrift Game Lodge gebore.

Wat die geleentheid so besonders maak, sê die reservaat in ʼn verklaring, is dat die welpies gebore is van vrylopende jagluiperds wat reeds meer as drie jaar op die reservaat is.

“Ons glo dit is die eerste keer dat vrylopende jagluiperds in ʼn natuurlike omgewing hier in die Oudtshoorn-omgewing aanteel. Ons was verheug toe ons die foto’s van die twee welpies en die wyfie op een van ons veldkameras opgemerk het. Na aanleiding van hul grootte, is hulle tussen ses en agt weke oud,” sê Arrie Crafford, bestuurder van die Buffelsdrift Stigting wat die bewaringsprojekte koördineer.

“Dit is besonders, omdat die mannetjie en wyfie, wat afsonderlik hier vrygelaat is, nou begin teel het, selfs in hierdie omstandighede. Dit wys dat hulle goed in hul omgewing aangepas is, dat hulle genoeg kos kry om selfs twee welpies te kan grootmaak en dat die teenwoordigheid van mense nie hul gewoontes versteur nie.”

Crafford vertel dat hulle ongeveer vyf maande gelede begin agterkom het dat die wyfie se bewegingspatrone verander het.

“Waar sy in die verlede bykans die hele 1 500 ha waarin sy losgelaat is, benut het, het sy in daardie tyd in ʼn baie klein gebied naby die koppies op die reservaat gebly. Sy het nie meer as ʼn kilometer in radius van een spesifieke plek beweeg nie. Toe ons besef wat dalk aan die gebeur is, het ons ons veldkameras só opgestel dat dit haar looppatrone sou dek.

Volgens Crafford bly jagluiperdwelpies gewoonlik vir die eerste ses tot agt weke getrou in die plek waar hul ma hulle versteek, maar begin daarna saam met haar rondbeweeg. “Ons het haar bewegings noukeurig met ons elektroniese toerusting en GPS-köordinering gevolg en besef dat iets wel aan die gebeur is.

Een van die luiperds by Buffelsdrift Game Lodge in die Wes-Kaap. (Foto: verskaf)

Omdat die wyfie wild is, is dit baie moeilik om haar in die veld te sien en kon hulle nie met die blote oog bevestig of sy wel dragtig is nie.

“Ons het die omstandighede met Vincent van der Merwe, koördineerder van die jagluiperd-metapopulasieprojek van die Bedreigde natuurlewe- trust (EWT) bespreek en hy het ook vermoed dat die wyfie waarskynlik swaar dragtig is en gereed gemaak het om die welpies in die lewe te bring.”

Crafford het ook vertel dat hulle aanvanklik gewonder het of die twee luiperds mekaar sou aanvaar. Ná ʼn paar maande het hulle gesien dat die mannetjie en wyfie meer tyd in dieselfde gebied deurbring en kon met GPS-kruisverwysings sien dat hulle meer gereeld in mekaar se geselskap was.

Andries van Schalkwyk, besturende direkteur van die reservaat, sê die koms van die welpies is verblydend en bevestig dat Buffelsdrift se bewaringspogings en -doelwitte, om vrylopende jagluiperds te help beskerm, vrugte begin afwerp.

“Toe die Buffelsdrift Stigting in 2018 gestig is, was dit een van ons doelwitte om te help dat die vrylopende jagluiperdbevolking op ʼn natuurlike wyse vergroot kan word. Omdat ons hierdie projek in noue samewerking met die EWT, Cape Nature, die Wes-Kaapse regering se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme en ander bewaringsrolspelers bedryf, kan ons verseker dat die beste bewaringspraktyke hier toegepas word.”

Crafford vertel dat die welpies nou vir ongeveer 18 maande by hul ma sal bly en deurentyd gemonitor sal word.

“Daarna sal ons hulle van radiohalsbande voorsien sodat ons hul bewegings verder kan dophou. Hulle sal dan waarskynlik na ander EWT-goedgekeurde bewaringsgebiede uitgeplaas word om inteling hier op Buffelsdrift Game Lodge te voorkom.”

Van Schalkwyk sê die Buffelsdrift Stigting het ook in 2018 met ʼn leeuprojek begin. Daar mag nêrens in die Wes-Kaap met leeus in aanhouding geteel word nie. Toe daar elders in die Wes-Kaap drie welpies gebore is en omdat die geriewe vir hul aanhouding nie geskik was nie, is die regte geriewe geskep en is die welpies na Oudtshoorn geskuif.

“Buffelsdrift bly getrou aan sy doelwitte met die teelprojek – om te verseker dat inteling van jong jagluiperds nie plaasvind nie, om jagluiperds veilig en doeltreffend in hul natuurlike habitat te bestuur en te beskerm, en om toeriste bewus te maak van die bewaringsbelang van hierdie bedreigde diere,” sê Crafford.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.