Jaloerse vrou wat met suur gooi skuldig aan moord

(Argieffoto)

ʼn Ma van twee wat ʼn ander vrou met suur gegooi het, moet 15 jaar agter tralies deurbring nadat haar slagoffer gesterf het.

Precious Ngidi (28) is in Maart 2019 na Noxolo Mkhwanazi (26) se werkplek in Tongaat waar sy haar daarvan beskuldig het dat sy ʼn verhouding met haar man het.

Die twee het in ʼn stryery betrokke geraak. Ngidi het ʼn houer met suur uit haar sak gehaal en dit oor Mkhwanazi gegooi, maar van die suur het ook op Ngidi beland.

ʼn Veiligheidsbeampte het Ngidi inderhaas na die Tongaat-polisiestasie geneem nadat lede van die gemeenskap haar wou bydam. Sy is by die polisiestasie in hegtenis geneem op ʼn aanklag van poging tot moord, sê kapt. Carmen Rhynes, polisiewoordvoerder.

Ngidi se baba was in daardie stadium maar ʼn maand oud.

Die ondersoekbeampte in die saak het dadelik na die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria gery sodat hulle kon vasstel watter soort suur gebruik is. Kenners daar het bevestig dit is swaelsuur wat die vel binnedring en tot orgaanversaking lei.

In Junie het Mkhwanazi by die Albert Luthuli-hospitaal gesterf en die klag teen Ndigi is na moord verander.

Ngidi het tydens haar verhoor weer swanger geraak en haar jongste kind is nou drie maande oud. Die verhoor is weens haar swangerskap boonop ʼn wyle vertraag.

Rhynes sê Ngidi het deur die loop van die verhoor by haar onskuld gehou en aangevoer sy het in selfverdediging opgetree. Tydens strafversagting het sy gesê sy het berou, maar nietemin volgehou sy het haarself verdedig.

Ngidi is Vrydag direkte tronkstraf van 15 jaar opgelê, ʼn vonnis wat Mkhwanazi se familie verwelkom het. Hulle het ook die ondersoekspan vir hul werk geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

CJ ·

Die feite is nie reg nie: Mkhwanazi is oorlede, dus vermoor, nie verhoor nie. Ek twyfel of sy swanger geraak het na die aanval

Christel Cornelissen ·

Dagsê CJ
Baie dankie vir jou boodskap. Daar het inderdaad ‘n fout ingesluip en ons vra om verskoning vir die oorsig.
Die berig is intussen gewysig.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Frederik C ·

Die berig is defnitief nie geproeflees nie. Dit wil voorkom asof ‘n dooie vrou weer swanger geraak het.

Cherokee ·

In Junie het Mkhwanazi by die Albert Luthuli-hospitaal gesterf en die klag teen Ndigi is na moord verander.

Mkhwanazi het tydens haar verhoor weer swanger geraak en haar jongste kind is nou drie maande oud. Die verhoor is weens haar swangerskap boonop ʼn wyle vertraag.

Herpiet ·

3de laaste paragraaf. Mkhwanazi moet Ngidi wees. Die slagoffer is dood en kan nie verhoor word nie

Porseleintjie ·

Met goeie gedrag word haar vonnis nog minder. Wat is die mens se lewe dan werd?

Persheks Adri ·

Berig beslis nie reg nie!

“Sy is by die polisiestasie in hegtenis geneem op ʼn aanklag van moord, sê kapt. Carmen Rhynes, polisiewoordvoerder.”

“In Junie het Mkhwanazi by die Albert Luthuli-hospitaal gesterf en die klag teen Ndigi is na moord verander.”

Aanklag is moord en weer verander na moord? Ek verstaan nie Maroela en die vrou is dood en swanger eish

Mathys ·

Hierdie mense stem, hulle wandel tussen ons, maar die koerante publiseer nie artikels oor die bedreiging wat sosiaal afkeurenswaardige gedrag inhou nie, spreuk dit nie aan nie, die groot ellende wat haat tot gevolg het, want dis nie sensationeel nie. Die gevolg is, mense word nie gestop as hulle kwaad praat van ‘n ander nie, wanneer hulle openlik beskryf wat hulle sal doen wanneer x, y of z gebeur. Dis maar ‘n onskuldige geskinder, al wat ander psigopate hoef te doen om ene te mobiliseer, is luister wie die wreedste voorstel het vir ‘n denkbeeldige scenario en se vir hom of haar sy vrou of man verneuk hom of haar, of Gertjie sus of Daantjie so en kry die springmielies en word vermaak deur die vernietiging wat jy met jou woorde aangerig het. Ons is ‘n siek nasie, dit breuk my hart.

jou gewete ·

die nasie is siek, dis waar maar die regstelsel wat misdadigers regte toestaan en nie na behore straf maak dat sulke dinge gebeur. Bring doodstraf terug, stop regshulp en maak korrektiewe hotelle weer tronke waar gewerk en nie grade verwerf word dan sal die prent vinnig verander

Cabytheron ·

Hoe wreed was dit nie! Dit was beslis beplan. Ek glo nie mense loop sommer maar net met ‘n bottel suur in handsakke rond nie! Sy het geweet waarheen sy oppad was en wat haar plan was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.