Jhb-leerder glo nie voor sy dood geboelie

Queens High School in Johannesburg. (Foto: Verskaf)

Die Gautengse departement van onderwys het “geen bewyse” gevind dat ʼn gr. 9-leerder aan die Queens High School in Johannesburg geboelie is voor sy dood op 31 Julie nie.

Familie van Brian Ndlovu het kort ná sy dood aangevoer dat ʼn matriekleerder hom in die skool se kleedkamer vergiftig het.

“Luidens ʼn voorlopige verslag was daar geen bewyse van afknouery waarby die oorledene betrokke was nie. Die beweerde vergiftiging is ook nie op die skool se kringtelevisie vasgevang nie,” sê Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng.

“Die leerder het die skool in goeie gesondheid verlaat, en nie sy ouers of die skool se beraders het enige vorige voorvalle van boeliery aangemeld nie.”

Chiloane sê voorlopige inligting dui daarop dat Ndlovu voor sy dood in ʼn onderonsie met ʼn gr. 8-leerder betrokke was. Albei leerders sou op 1 Augustus saam met hul ouers by die skool aangemeld het as deel van ʼn dissiplinêre proses. Brian is dood voor hierdie verrigtinge kon plaasvind.

Ndlovu se familie sê hy het die aand van sy dood “gekla oor maagpyn” waarna hy na ʼn mediese fasiliteit geneem is. Hy is daar dood verklaar.

Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng, en die skoolhoof van Queens High School, Johan Lourens. (Foto: Verskaf)

“Ons kan inderdaad nie die negatiewe uitwerking van afknouery by ons skole onderskat nie en ons erken dat dit oral in ons skole ondervind word,” sê Chiloane.

“As sodanig het ons ʼn skoolveiligheidsveldtog van stapel gestuur wat ons sal help om boelies te identifiseer en hulle vir die nodige dissiplinêre ingryping te stuur.”

Die polisie ondersoek die omstandighede van die leerder se dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

domheks ·

Hoekom dink die ouers hy was vergiftig? Dit gebeur nogal gereeld dat iemand dink hy/sy is vergiftig.

Linda ·

Skole het dit nie maklik nie maar my kleinkind word ook geboelie en skool ontken dit dood eenvoudig,hulle wil dalk nie n slegte naam he nie. Sekere onderwysers verwag ook van GR1 en 2 en 3
kinders om soos rekenaars op te tree.

SwartBees ·

Vandag se onderwysers kan nie eers vir die Gr1’s n gediggie in die klas leer nie nou wil hulle gedrag monitor.

Wat het geword van daai liefdevolle yster-onderwysers wat ons skool gegee het? As Gr1’s het ons op die storie mat gaan sit en in ‘n middag ‘n gedig geleer voor huistoe gaan tyd. Vandag se onnies print n gedig en stuur die kind huis toe om hom te leer. Kinders was in DAAI tyd tougher as vandag….Aan die ander kant, vandag se kinders word so toe gegooi onder die skoolwerk en prestasie stress sodat die kwartaal af gerammel word en die onnies nog die buite seisoen pryse kan betaal vir hul laaaaang Hartenbos/Goerge/Knysna vakansies.

Sê maar net ·

Daai yster onderwysers het reeds afgetree, soos ek :-)
Gereeld al my gedigte met drama bewegings vir kinders geleer. Hulle het dit so geniet en dit maklik onthou….

George ·

Ongelukkig voel baie onderwysers voel dis nie hulle probleem nie en die kinders moet dit self uitbaklei, of by die huis reggestel word.

George ·

Boelie gedrag word meer en meer in SA. As dit so aanhou, gaan ons gou ook begin skoolskieters kry.

daarsdit ·

Daar is stappe wat gevolg moet word om dit aan te amptelik te maak, eers moet mens die klas onderwyser se 3x en as dit aanhou met mens na die graad hoof toe gaan en as dit dan nog aanhou kan jy ‘n afspraak maak met die hoof om dit ‘n amptelike klag te maak. En daar is ouers wat gekla het as hulle vir die klas onderwyser se vererger dit, so die kind praat net nie daaroor nie en trek terug, want hy of sy is net nog banger en word meer geboelie omdat hulle geklik het, onderwyser het sommer voor die hele klas gese ek hoor jy boelie daai een, stop dit. (my kind het my sommer gese wat aangaan met die maatjie en ek het sommer die hoof gaan sien)Dit is ‘n hele proses want die onderwysers het nie tyd om na almal se klagtes te luister nie. So dalk het hy iets gese en dit het vererger?

SwartBees ·

Soos iemand hier genoem het, onderwysers draai n blinde oog en hoop die probleem sorteer homself by die huis uit. Dan eindig dit in n tragedie soos die.

ALTA ·

Verpes dit as mense wolf wolf skree en dan kom dit aan die lig dat dit vals was

Vanessa ·

Ek persoonlik voel dat dit die ouers se plig is om kinders disipline te leer. Daar kan nie verwag word van die onderwysers om nog dit ook te doen nie. Ek is by die huis gedisiplineer en daarom was dit nie nodig vir die onderwysers om dit te doen nie en so het ek ook my kinders gedisiplineer. Ouers laat kinders weg kom met swak gedrag. Onderwysers is daar om jou kind te leer. Kinders word nie meer pakslae gegee nie. Ek is jammer ek glo nog in ‘n goeie pakslae. Selfs die Bybel sê tugtig die wat jy lief het. Moenie altyd die blaam op ander sit as jou kind die verkeerde een is. As die “boelie” by die huis gedisiplineer word sal hy/sy hom/haar gedra by die skool en as jy hoor jou kind boelie ander, gesels met die kind en hoor waarom hy/sy so optree en dat dit verkeerd is en as hulle dan nie hoor nie wetter hom/haar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.