Jhb-tragedie: Oorlewendes maak harte oop

Oorlewendes in ‘n tydelike skuiling in Johannesburg (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

GroundUp, Kimberly Mutandiro

Adam Time, ’n immigrant uit Malawi, sê hy sal nooit die woorde vergeet wat sy bure geskreeu het toe hy Donderdagoggend omstreeks 01:00 skielik wakker geskrik het nie.

“Brand! Brand!”

Sy blyplek op die tweede verdieping van Albertstraat 80, in die middestad van Johannesburg, waar hy en sy vrou, Joyce Arafat, die afgelope jaar gewoon het, was teen die tyd reeds met rook gevul.

“Ek het dadelik vir Joyce en ons kindjie wakker gemaak, maar ek kon nie die woonstel se deur oop kry nie.”

Dit is toe dat hy vir Joyce vra om hulle kindjie aan hom te gee sodat hy hom deur die venster na veiligheid aan iemand kan aangee wat reeds op die grond gestaan ​​het.

Toe spring hy uit en vra sy vrou om hom te volg, maar sy het nie gekom nie.

“Ek onthou hoe Joyce angstig by die venster uitgestaar het.” Dit was egter die laaste keer dat hy sy vrou gesien het.

Presies hoe die logistiek gewerk het om van die tweede verdieping tot op die grond te kom, is onduidelik. Om te verwag dat geheue akkuraat en beskrywings samehangend sal wees in die nasleep van hierdie tragiese gebeure, is onrealisties.

“Ek het probeer teruggaan om haar te kry, maar die ingang van die gebou was aan die brand en mense het my gekeer om deur te gaan,” het Time met trane in sy oë gesê.

“Almal van ons moes saam by die venster uitgespring het.”

Hy sê hy onthou hoe hy tot by die venster vir sy vrou geskree het, “maar daar was geen teken van haar nie”.

Time het later dieselfde dag gesien hoe die lewelose liggame van mense wat in die brand gesterf het, uit die gebou herwin word.

“Ek weet nou nog nie of my vrou lewe en in die hospitaal is en of sy dood is en haar liggaam gevind is nie.”

Omar Arafat, Joyce se broer wat aan die einde van 2022 van Malawi gekom het om by Joyce aan te sluit, verwyt homself dat hy nie sy suster kon red nie.

“Ek het haar probeer vind voordat ek deur ’n venster van die derde verdieping uit die gebou ontsnap het.

“Alles het so vinnig gebeur.

“Ek het eers ’n paar uur later my bewussyn herwin,” sê Arafat. Hy het ’n foto van haar in sy hande gehou.

Die gebou, waar hoofsaaklik immigrante uit Malawi, Zimbabwe en Tanzanië woon, maar ook ’n paar Suid-Afrikaners huisves, was op ’n stadium ’n skuiling vir mishandelde vroue en kinders.

Dit is egter in 2021 gekaap. Baie vroue en kinders wat daar gewoon het, het na nabygeleë en veiliger geboue gevlug, het sommige van die oudinwoners gesê.

Die gebou het daarna glo in ’n misdaadsentrum verander waar gevegte ’n gereelde verskynsel was. Volgens verskeie inwoners is hulle tydens Herman Mashaba, leier van ActionSA, se tyd as burgemeester van Johannesburg gevra om die gebou te verlaat. Hulle het egter gebly en huurgeld van tussen R800 tot R1 600 per maand aan die kapers betaal.

Sommige gesinne het kamers gedeel om die las te verlig. Terwyl chaos in die gebou sigbaar was, het inwoners probeer om vrede in hul huise te handhaaf.

Nog ’n oorlewende, Atoo Makanjira, ook van Malawi, sê hy woon al vier jaar in die gebou. Hy het in die vroeë oggendure wakker geword, maar kon nie deur die ingang kom nie. Hy kon egter ook daarin slaag om deur ’n venster van die eerste verdieping te ontsnap.

Vier van sy kamermaats – sy vriende – word steeds vermis. Hulle het ’n kamer gedeel om die huur van R1 600 te help betaal.

“Ek het seergekry toe ek grond toe gespring het. In al die jare wat ons in die gebou woon, het daar nog nooit so iets hier gebeur nie,” sê Makanjira.

Poshia Sithole, van Ruwa in Zimbabwe, sê sy het na haar vriende, Swaga en Blessing kom soek, maar kon hulle nêrens kry nie. Sy het vroeg in Augustus uit die gebou getrek.

Sithole sê terwyl sy in die gebou gewoon het, was daar bendelede en dwelmhandel – dit is hoekom sy weg is.

“Alles wat ek gehad het, is in die brand vernietig, ek het niks oor nie,” het Sam Mandebvu, ook van Zimbabwe, gesê.

Miriam Mutasa sê sy was by die werk toe sy hoor die gebou is aan die brand. Sy het vinnig huis toe gehardloop en was gelukkig genoeg om haar twee kinders se lewens te red.

Moreboys Munetsi van Great Hope, ʼn organisasie wat begrafnis- en repatriasiedienste vir Zimbabwiërs verskaf, sê meer as tien Zimbabwiërs is reeds as vermis aangemeld.

Die organisasie sê hulle gaan kos skenk, die oorlewendes van tydelike akkommodasie voorsien en Zimbabwiërs wat in die brand gesterf het met ʼn begrafnis by die huis (Zimbabwe) help.

“Ons is hartseer oor die situasie en doen ’n beroep op Zimbabwiërs om uit te reik en ons medemense in nood te help.

“Ons hanteer baie gevalle van Zimbabwiërs wat onder hartseer omstandighede sterf. Daar is vyf liggame van Zimbabwiese vroue wat aan die einde van 2022 herwin is, maar wat nog nie geïdentifiseer is nie,” sê Munetsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.