Johannesburgse burgemeester kap terug oor salaris

Geoffrey Makhubo, die uitvoerende burgemeester van Johannesburg (Foto: Joburg Government)

Die kantoor van die uitvoerende burgemeester van die Stad Johannesburg sê vals gerugte rakende die Stad se begroting en die beweerde salarisverhoging van die burgemeester, Geoffrey Makhubo, is besig om die rondte op media platforms te doen.

Mlimandlela Ndamase, woordvoerder van die burgemeester, sê op sekere aanlyn media platforms word daar beweer dat Makhubo homself ʼn maandelikse salarisverhoging van R106 000 per maand en ʼn jaarlikse verhoging van R 1 445 060 toegeëien het. Ndamase sê dié gerugte is gebaseer op ʼn vals verklaring wat deur Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg en stigter van The People’s Dialogue, gemaak is.

Hy voer aan Mashaba se stelling is nie feitelik korrek nie en is bedoel om die publiek doelbewus te mislei vir politieke wins.

Maroela Media het vroeër berig die voorgestelde begroting vir die Stad Johannesburg sal na verwagting Donderdag tydens ʼn raadsvergadering voorgelê word. Mashaba het gesê dié begroting stel voor dat geld vir verskeie noodsaaklike dienste met miljoene rande en in sommige gevalle met tot 80% gesny gaan word terwyl ’n salarisverhoging vir die burgemeester voorgestel gaan word.

Makhubo het dit ontken en gesê die begroting wat Donderdag voorgelê word, gaan eerder ʼn aansienlike salarisverlaging toon weens die Covid-19-pandemie.

Volgens Ndamase het Makhubo verlede week vir sy koukus gesê dat hy in elk geval nie ʼn salarisverhoging sou aanvaar nie. Hy het met die instel van die landwye afsondering homself daartoe verbind dat indien hy ʼn salarisverhoging kry, hy dié bedrag aan die regering se Solidarity Fund sou skenk. Hy het aan die begin van die afsonderingstydperk reeds ʼn derde van sy salaris aan hierdie fonds geskenk, het hy gesê.

Ndamase sê die salarisse en toelaes van die burgemeesters sowel as dié van al die senior politieke personeel van munisipaliteite landwyd word deur die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Staatsamptenare bepaal. Hy sê die burgemeester of sy munisipale raad kan nie self hul salarisse bepaal nie.

“Die voormalige burgemeester [Mashaba] was self ’n begunstigde van dieselfde voordele en bepalings van die Onafhanklike Kommissie tydens sy drie jaar as uitvoerende burgemeester. As hy die tyd geneem het om homself te vergewis van die wette en beleid wat die plaaslike regering reguleer, sou hy geweet het die burgemeester kan nie sy eie salaris bepaal nie,” sê Ndamase.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stofdonkie ·

En so sê hy asof hy en ander raadslede hulle steur aan die wette en beleid. Hulle het mos lankal besluit hulle is groter as die wette en beleid.

Plaaskind ·

Ek stem stofdonkie – en alle gerugte wat hul skelmstreke oopvlek kan ook nie altyd vals wees nie.

JohanR ·

Hoekom word almal wat in die politiek betrokke is sukke groot salarise betaal? Is dit omgewoond om miskien te stel dat die persoon wat aangestel is om Geoffrey Makhubo se trolley met sy tee in die more te bring, oor ‘n miljoen rand ‘n jaar bedien? Ek is nou miskien bespot maar die politiek kry nie klein geld nie, en dit is belastingbetaler se geld. Wat my ook kry is dat hulle stel voor wat hulle verhooging moet wees. My verhooging en miskien ‘n bonus het gekom na my baas met my bespreek het hoe my jaar gegaan het, en ons het tot ‘n verluiking gekom dat ek of ‘n 1, 2, 3 ,4 of 5 kry. As ek ‘n 3 gekry het dan het ek ‘n verhooging en bonus gekry. As ek ‘n 5 gekry het dan het ek die groot baas geword. Sien jy hoe dit werk Geoffrey Makhubo? It is performance based over 12 months.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.