Jong mans moet oplossing vir geslagsgeweld help vorm – Ramaphosa

(Argieffoto: pixabay)

“Een van die redes waarom geslagsgebaseerde geweld voortduur is omdat daar ʼn kultuur van ambivalensie by mans bestaan, wat [beteken dat hulle] misdade teen vroue en kinders as ʼn ‘private aangeleentheid’ of ‘ʼn familiesaak’ beskou.

“Ons moet ʼn ingesteldheid ontwikkel wat jong mans as deel van die oplossing sien en nie net as die probleem nie,” het pres. Cyril Ramaphosa Maandag met die aanvang van die jaarlikse 16 dae van aktivisme van geen geweld teen vroue en kinders- veldtog gesê.

Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê dié tydperk word egter oorskadu deur ʼn gru-aanval op ʼn vrouestudent van die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT).

Beeldmateriaal van die voorval het vroeër vandeesmaand die ronde op sosiale media gedoen. Foto’s is gedeel wat wys hoe ʼn jong manstudent ʼn vrouestudent op die kampus met ʼn skerp voorwerp steek. Die twee is luidens berigte getroud.

“Die feit dat hierdie aanval helder oordag en in die openbaar gebeur het, is ʼn bewys dat sommige misdadigers skynbaar nie eens omgee dat daar getuies van hul misdade is nie, en ook nie bang is om in hegtenis geneem te word nie,” sê Ramaphosa.

Die president sê hy is dankbaar vir die studente wat tussen beide getree het, selfs toe hulle gewaarsku is om dit nie te doen nie.

“Dit is betekenisvol dat ander manstudente probeer het om die aanvalle op die jong vrou af te weer.”

Sommige omstanders het egter die manstudent te lyf gegaan, en hy is onder polisebewaking na ʼn hospitaal geneem.

Die vrou is ernstig beseer en het sedertdien ʼn operasie ondergaan, het IOL berig.

Ingrypings nie genoeg

Die derde manskonferensie oor positiewe manlikheid is reeds aan die gang. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Ramaphosa sê hoewel daar mense was wat tussen beide kon tree in dié geval, is dié soort ingrypings bloot nie genoeg nie, aangesien die meeste slagoffers van geslagsgebaseerde geweld dikwels hul aanvallers ken.

“Dit is dus gepas dat die Afrika-Unie (AU) vandeesweek sy derde manskonferensie oor positiewe manlikheid in Pretoria aanbied.”

Die beraad beoog om aktief daartoe te werk om ontslae te raak van “toksiese manlikheid”. Suid-Afrika bied die beraad saam met Azali Assoumani, die AU-voorsitter en president van die Comore, aan.

“Vir die AU, net soos vir ons eie land, is die beëindiging van geslagsgebaseerde geweld ʼn prioriteit,” sê Ramaphosa.

“Samesprekings is tans aan die gang oor die inhoud van ʼn Afrika-konvensie om geweld teen vroue en meisies te beëindig, in opdrag van die AU-beraad vroeër vanjaar. Sodra dit deurgaan is, sal die konvensie die eerste regsinstrument op die vasteland wees vir die voorkoming en uitskakeling van alle vorme van geweld teen vroue en meisies.

“Suid-Afrika is ook deel van ʼn vereniging van Afrika-staatshoofde wat hulle daartoe verbind om programme op nasionale vlak en op die vasteland te implementeer wat positiewe manlikheid bevorder en meer mans en seuns aanmoedig om deel te wees van die stryd teen geslagsgebaseerde geweld.”

Ramaphosa sê die enigste manier hoe die vasteland dié soort geweld gaan hokslaan, is deur te fokus op voorkoming.

“As ons ʼn nasie van mans wil grootmaak wat positiewe rolmodelle is, wat na hul gesinne omsien, wat positiewe manlikheid toon en wat geensins ʼn vrou of kind wil seermaak nie, moet ons met jong mans werk,” sê hy.

SA neem voortou

Suid-Afrika het reeds ʼn nasionale strategie aanvaar om geslagsgebaseerde geweld te help bekamp. Een van die pilare van die strategie ​​is oor voorkoming.

“Ons het met die burgerlike samelewing, akademici en navorsers, tradisionele leiers, jeugorganisasies, die geloofsgemeenskap en die private sektor oor die kwessie van voorkoming in gesprek getree.

“Hieruit is ʼn aantal inisiatiewe in verskeie sektore tot stand gebring wat aan jong en ouer mans die ruimte bied om idees oor manlikheid te bespreek. Mans word versoek om hul eie vooroordele, vooropvattings en chauvinisme wat geslagsgebaseerde geweld aanhelp krities te oorweeg.

“ʼn Aantal staatsdepartemente het ook ingrypings gereed wat daarop gefokus is om positiewe manlikheid te bevorder deur middel van dialoog, werksessies, bewusmakingsveldtogte, psigososiale ondersteuning en programme vir gedragsverandering.”

Ramaphosa was in Augustus deel van die presidensiële indaba vir jong mans en seuns in Soweto, waar hy met hulle gepraat het oor hul eie ervarings, hoe hulle manlikheid beskou en hoe dit hulle houding teenoor geslagsgebaseerde geweld beïnvloed.

“Toe ek met hulle gepraat het, het ek besef dat jong mans in Suid-Afrika baie druk ondervind wat hul houding teenoor vroue en meisies beïnvloed. Dit sluit in die gebrek aan positiewe manlike rolmodelle, afwesige pa’s, kwesbaarheid vir werwing deur misdadigers, druk om skool te verlaat en ʼn salaris ​​te verdien, en druk om seksueel aktief te word voordat hulle gereed is daarvoor,” sê Ramaphosa.

“Hoewel mans in die meeste gevalle misdade teen vroue en kinders pleeg, moet mans ook aan die voorpunt wees van ʼn nuwe samelewing wat die gelyke regte van vroue en meisies respekteer, en ʼn samelewing tot stand bring waarin geslagsgebaseerde geweld geen plek het nie.”

Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat die komende beraad die voorkomingspogings in die land en op die vasteland sal verskerp en terselfdertyd mans en seuns sal aanspoor om ʼn groter rol te speel om die siklus van geweld te breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

…een ding van die A en C , hulle kan praat en praat en nog praat, en niks gebeur ooit nie!

Nici ·

Geweld teenoor vroue en meisies gaan nie verander totdat mans en seuns nie genoeg respek ontwikkel nie. Met die pornkultuur waarin hulle grootword gaan die geweld en misbruik net erger word.

annie ·

Cyril het self stories agter sy blad. Wat nooit eintlik gesê word nie is dat dogters en ouers opgevoed moet word oor hoe vroue welvoeglik aantrek en waar om weg te bly en hoe om hul te gedra in die openbaar wat nie as uitlokkend geïnterpreteer sal word nie. Onderwysers is deesdae bang om meisies aan te spreek en vroulike studente loop soms byne nakend op kampusse rond maar glo die mans moet net kyk en niks meer nie en dan kamma verbaas as daar verkeerde reaksie is.

Pieter ·

Die probleem kan slegs opgelos word deur goei opvoeding by die huis en n uitstekende onderwysstelsel. Daarvan is daar maar min in hierdie land van ons.

WitBlits ·

Maar Mr Ramaphosa, in die een kant hou jy vol dat vroue dieselfde regte as mans moet he, met respek hanteer word en beskerm moet word, en aandie ander kant is jy hand om die blaas en se jou steun toe aan lande waar vroue en meisies absoluut GEEN regte het nie…. Hoe dan nou???

Janine ·

“As ons ʼn nasie van mans wil grootmaak wat positiewe rolmodelle is, wat na hul gesinne omsien, wat positiewe manlikheid toon en wat geensins ʼn vrou of kind wil seermaak nie, moet ons met jong mans werk,” sê hy. HAHAHAHAHAAHAHAHAHAHAHAHA!

Jannie ·

Opvoeding begin in die ouerhuis en die samelewing waarin kinders grootword. Hoe pappa vir mamma behandel speel groot rol – en in sommige kulture is dit reg dat ‘n man ‘n vrou regsien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.