Jong pa sterf in motorfietsongeluk

Van laerskool af het onderwysers Carl as ’n blymoedige seuntjie beskryf, wat altyd ’n glimlag op sy gesig gehad het (Foto: Crezelda Rix, Facebook)

“Hoe sê jy vir die wêreld en jouself: Jou kind, broer en man is dood…? Dit voel so onwerklik en wreed… ’n Gat is in ons almal se harte en lewens. Ons weet nie hoe ons moet voortgaan nie.”

Die familie van Carl Rix steier oor die motorfietsongeluk waarin hy die afgelope naweek van hulle af weggeruk is. Rix sou volgende maand 32 jaar oud geword het en was ook die trotse pa van ’n vier maande oue babaseuntjie.

Rix se ma, Annaliese Rix, vertel hy was die algemene bestuurder van Madikwe Berrie, ʼn bloubessieplaas in Limpopo, en moes Saterdagmiddag direkteure oor ’n projek op ’n buurplaas ontmoet het. Hy het met ’n veldmotorfiets na die plaas gery.

“Die vergadering met die direkteure het later aangehou as wat Carl verwag het. Hulle het eers omstreeks 19:00 klaargemaak en hy moes toe na die plaas waar hy gewoon het, terugry,” vertel Annaliese aan Maroela Media.

“Hy het nie daarvan gehou om in die donker met die motorfiets te ry nie omdat hy op slegte grondpaaie moes ry en ook met wilde diere gekonfronteer kon word. Hy het egter die paaie soos die palm van sy hand geken.”

Carl het sowat 500 meter van sy huis vermoedelik vir ’n voël uitgeswaai. Volgens Annaliese moes dit ’n voël gewees het, want daar het klomp vere op die ongelukstoneel gelê. Sy motorfiets het gegly en hy het kop eerste van die motorfiets afgeval. Hy het sy kop gestamp en is op slag dood.

“Carl is sedert 2008 aan ons geleen en hy sal nou voortleef in sy seuntjie, vir wie hy baie lief was” (Foto: Verskaf)

“Ons sou die aand by Carl en sy vrou, Crezelda, en hul babaseuntjie, Kye, gekuier het. Ons het hom al so 17:00 se kant terug by die huis verwag. Ons het nie besef dat ons hom nooit weer sou sien nie.”

Annaliese beskryf die ongeluk as ’n frats. Sy probeer sin maak van sy skielike dood omdat hy al verskeie kere in die verlede die dood in die oë gekyk het, maar wonderbaarlik oorleef het.

In 2008, toe Carl ’n eerstejaar aan die Universiteit van Stellenbosch was, is hy deur vyf mans by sy woonstel ingewag en erg aangerand. “Hulle sou hom doodgemaak het, maar ’n motor wat by sy woonstel stilgehou het, het die mans afgeskrik. Hy is ’n jaar later met ’n vuurwapen aangehou.”

In Augustus 2012 was Carl ook byna dood in ’n ongeluk by die Afriski-oord in Lesotho, waar hy van ’n ski-helling geval het en vir twee uur vermis was.

“Die mense by Afriski het my daardie dag gebel met die nuus dat Carl klinies dood verklaar is. Ek het net daar en dan die Here gesmeek om genade. Vyf minute later het hulle my weer gebel en gesê hulle kon hom bybring. Hy was bewusteloos toe hulle hom gevind het omdat hy koptrauma opgedoen het. Hy het ook aan hipotermie gely omdat hy twee uur lank in die koue sneeu gelê het. Carl kon daardie jaar nie met sy studies voortgaan nie.”

Annaliese vertel haar seun het trauma op trauma oorleef en net elke keer sterker aan die ander kant uitgekom en bo sy uitdagings uitgestyg.

“Hy is sedert 2008 aan ons geleen en hy sal nou voortleef in sy seuntjie, vir wie hy baie lief was.”

Carl en Crezelda was twee jaar lank getroud (Foto: Verskaf)

Volgens Annaliese was Carl ʼn boer in murg en been. Hy wou aanvanklik ’n landbou-ekonoom word, maar sy vrye gees en sy passie vir die grond en buitelewe het hom egter na die plaas gelok. Hy het na sy studies as hoof van sampioengroei by Highveld Mushrooms begin werk, waarna hy sy kundigheid by Cherry Ridge as kersieboer voortgesit het. Hy is op ’n jong ouderdom as die bestuurder van Madikwe Berrie aangestel.

“Hy het Madikwe Berrie in ʼn bietjie meer as ’n jaar tot nuwe hoogtes gebring. Een direkteur het gesê hy was die grootste aanwins vir die besigheid.”

Annaliese sê oral waar Carl gegaan het, het hy sy stempel afgedruk en ’n groot impak op mense gemaak. “Hy het almal met die grootste respek en menswaardigheid hanteer. Hy was ’n omgee-mens; sensitief en skrander. Hy sou deur vuur vir sy vriende stap.”

Van laerskool af het onderwysers hom as ’n blymoedige seuntjie beskryf, wat altyd ’n glimlag op sy gesig gehad het.

Annaliese kan ook nie uitgepraat raak oor die passie, toegewydheid en veerkragtigheid waarmee hy die lewe aangepak het nie. Sy sê hy het die lewe voluit geleef.

Carl en Crezelda was twee jaar lank getroud. Hy was ook baie geliefd deur sy pa, Francois Rix, en hy laat ook ʼn broer, Peter (29), en suster, Andrea (27), agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Willem ·

Sterkte vir daai gesin. Ons het 2wek terug ook ń jong pa begrawe

Sandra ·

So jonk. My innige simpatie aan sy vrou, ouers en sy ou baba seuntjie

Misky ·

Sjoe, dis vreeslik hartseer en op so jong ouderdom. Sterkte aan almal en koester die klein mannetjie

ES ·

Baie sterkte aan sy familie – ek het 8 jaar terug ‘n vriend aan die dood afgestaan wat op soortgelyke wyse verongeluk het met sy motorfiets. Hy het ook ‘n klein seuntjie (6) en sy verloofde agtergelaat.

'n Leser ·

Sterkte aan die hele familie. My hart gaan uit na julle.

Excalibur ·

“Ek het jou by jou naam geroep, Jy is Myne”…Koningskind, Lieflingskind JY is tuis by jou hemelse Vader maar jou voetspore op aarde is vasgevang in rou en mensetyd; Jou geliefdes Onthou om vir ALTYD te onthou want in tyd sal die mooi soos ‘n roosknop ontvou en jy Koningskind jou geliefdes kom haal soos Christus dit bepaal…RIV

Mieliestronk ·

Annaliese, my hart huil saam jou. Jy trek mense deur in hulle tyd van nood, en nou is jy daar. Sterkte, ons dink aan jou.

Anoniem ·

Innige Simpatie en Meegevoel aan sy vrou en res van sy familie asook kollegas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.