Jong pa veg om lewe ná skietaanval

Gerald van Jaarsveld is ses keer tydens ’n huisroof geskiet. (Foto: Verskaf)

’n Jong pa van Brakpan in Gauteng veg tans om sy lewe in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg nadat hy Donderdagoggend ses keer in sy huis geskiet is.

Gerald van Jaarsveld (32), sy verloofde, Kathleen van Wyk (35), die paartjie se ses kinders (tussen drie en 16 jaar oud) asook twee pensioenarisse wat by die gesin woon, is na bewering tussen 04:00 en 05:00 deur sowat vyf gewapende mans oorval.

Volgens Sonika Hugo (30), Van Jaarsveld se suster, is haar broer vyf keer in die been en een keer in die maag geskiet. Van Wyk is ook een keer in die maag geskiet.

“Die kinders is ook met wapens gedreig en daar is komberse oor hul koppe getrek. Die pensioenarisse (wat anoniem wil bly) is nie tydens die voorval beseer nie.

“Die rowers het ’n televisiestel en drie selfone gesteel en in my broer-hulle se Kia Picanto gevlug.”

Gerald van Jaarsveld en sy verloofde, Kathleen van Wyk. (Foto: Verskaf)

Van Jaarsveld en Van Wyk is ná die skietvoorval na die Verre Oos-Rand-hospitaal in Springs geneem, waar Van Jaarsveld drie noodoperasies ondergaan het. Van Wyk se wond is toegewerk en sy is Sondag uit die hospitaal ontslaan.

“Gerald moes aanvanklik ’n noodoperasie ondergaan om die wonde skoon te maak en sy lewer te bind. Toe sy lewer nie wou ophou bloei nie het hy ’n tweede noodoperasie ondergaan. Hy is later wéér geopereer omdat daar gal in sy buik gelek het,” sê Hugo.

Hugo, wat van Oudtshoorn in die Wes-Kaap gekom het om die gesin by te staan, is toegelaat om haar broer in die hospitaal te besoek.

“Hy was tydens my besoek aan ’n ventilator gekoppel en moet volgens my kennis steeds 60% suurstof ontvang.”

“Hy kon nie met my praat nie omdat hy ’n pyp in sy keel gehad het, maar hy het vir my gekyk, sy kop geknik en effens glimlag.

“Die dokter het vir my gesê sy kans op oorlewing is in dié stadium 50%. Dit kan enige kant toe gaan,” sê ’n emosionele Hugo.

Gerald van Jaarsveld veg tans om sy lewe in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Van Wyk kon haar verloofde ook besoek voordat hy Maandag na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas is – glo omdat sy nierfunksie verswak het en hy moontlik dialise sou moes kry.

Daar het glo trane uit sy oë geloop toe Van Wyk hom moes groet.

Chris Hani Baragwanath het die familie intussen meegedeel dat Van Jaarsveld sepsis opgedoen het, maar gesê hoewel sy niere gekrimp het, hy nie dialise benodig nie.

“Die sepsis word met antibiotika behandel en hy wag tans vir ’n beskikbare bed in die intensiewe sorgeenheid. Hy word op die oomblik in die hospitaal se trauma-afdeling behandel.

“Kommunikasie is egter in dié stadium ’n gemors. Ons sukkel om ’n dokter in die hande te kry en my broer het ook nie sy foon by hom nie. Die personeel verskaf min tot geen inligting wanneer ons hulle bel om te hoor hoe dit gaan of wat volgende moet gebeur.”

Die gesin is ook uiters bekommerd oor geld en mediese uitgawes, aangesien Van Jaarsveld, ’n elektrisiën, die gesin se hoofbroodwinner is.

Hugo het intussen ’n Back-a-Buddy-fondsinsameling begin met die hoop om finansiële steun te kry en te verseker dat die kinders versorg is.

“Ek is as kind aangeneem en is eers 12 jaar gelede met Gerald, my biologiese broer, herenig. Hy is baie spesiaal vir my,” sê Hugo.

Sonika Hugo en haar broer, Gerald van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

“Gerald is ook nie net my broer nie, maar my beste vriend. Vir hom sal ek baklei tot daar niks meer oor is nie.”

Volgens Hugo ontvang die kinders tans berading by die skool aangesien hulle baie getraumatiseerd is. Sy sê Van Wyk is ook erg getraumatiseerd.

Kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder van die Brakpan-polisiestasie, het aan Maroela Media bevestig dat ’n saak van huisroof en poging tot moord ondersoek word.

Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Indien iemand ʼn bydrae wil maak om die gesin te ondersteun of Van Jaarsveld se mediese kostes te help dek, kan Hugo of Van Wyk se broer, Bertie, onderskeidelik by 076 792 4140 en 083 275 8497 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

isabelle ·

ons bid vir die man se spoedige herstel ons spreek lewe Here wees saam hom Amen

Jeffrey ·

Sjo dit is baie hartseer. Maak my woedend. Ons land het ek geen hoop meer voor nie. Wens ek kon landuit!!

Henk ·

ALMAGTIGE GOD EN HEMELSE VADER Hou asb U hand oor hierdie mense, daar is klein kindertjies wat hulle ouers nodig het en ek glo U het groot planne vir hierdie gesin.

My broer ek ken jou van geen kant af nie maar byt net vas, onse HEMELSE VADER sal julle beskerm.

ES ·

Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons onsself moet bewapen vir beskerming teen hierdie booswigte.

Jou lewe beteken niks vir hierdie misdadigers nie. Jou lewe is ‘n selfoon en TV werd… maak mens net woedend.

Keelvol ·

Dit is onaanvaardbaar dat die pers altyd na mense net op hulle vanne verwys. Dit is teken van disrespek. Die titles Mnr, MeV, Mej of selfs ander titels is die aangewese manier.

Cherokee ·

Ek het ook voorheen, jare gelede, daarteen kapsie gemaak maar die ‘pers’ het my daarop gewys dat dit standaard is. Standaarde kan wel verander word. Ek stem egter nie saam dat titels soos deur jou genoem, gebruik moet word nie. Voorname sal die ding doen.

Anel ·

Die is die regering se skul en hulle moet die kostes dra, in ‘n privaat hospitaal waar hy die beste sorg kan kry en waar die dokters die familie die nodige inligting kan gee EN waar hy ten minste 1 besoeker kan ontvang!!! Sterkte vir hierdie familie. En die klagtes moet ten minste 2 van poging tot moord wees!!!

Anoniem ·

Genade……..sterkte aan die familie. Spoedige herstel word almal toegebid.

Pieter J ·

Dan wil Bheki Cele nog ons vuurwapens ook wegvat sodat dit nog makliker is om on te beroof en te vermoor.

Hercules ·

Liewe Andi Motsepe , 5 mans op vrye voet , een man in die hospitaal ejn veg om sy lewe .

Robbie ·

Baie sterkte
Dis wat my erg kwaad maak terroriste loop by jou huis in en vernietig n gesin
Maar die gehoorsame burger moet sy vuurwapens ingee
Want die land moet wapen vry wees
Absoluut belaglik, Geweld is buite beheer nie die polisie of weermag kan dit onder beheer bring nie
Baie Baie sterkte aan die familie Ek hoop Dat die Jong man sal oorleef en nie met erge nagevolge moet saam leef nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.