Jong sierskaatser droom van Olimpiese Spele, Disney on Ice

Philip Malan (12) voel tuis op die ys. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Wanneer klein Philip Malan (12) van Pretoria-Oos op die ysskaatsbaan is, smelt die res van die wêreld weg.

Hiér voel hy tuis, kalm en tevrede.

Hy het groot drome om ’n Olimpiese sierskaatser te word en sal graag eendag deel van die gewilde Disney on Ice-produksie wil wees.

“Vandat ek ʼn jong seun was, het ek daaroor gedroom om Olympics toe te gaan. Ek weet as ek hard werk, sal ek dit kan bereik,” het Philip vandeesweek aan Maroela Media gesê waar hy by The Grove-winkelsentrum se ysskaatsbaan in die ooste van Pretoria geoefen het.

Sy onmiddellike fokus is egter op die Suid-Afrikaanse sierskaatskampioenskappe wat tussen 10 en 13 Maart in Kaapstad plaasvind – ʼn geleentheid waarvoor hy tans baie hard en toegewyd voorberei. Philip gaan as individu in die pre-novice-afdeling deelneem, asook in die pre-novice paarskaatsafdeling saam met sy jong, maar uiters bekwame, skaatsmaat, Milané Gamberini (9). Dié twee is Suid-Afrika se eerste pre-novice-paarskaatsers.

Hulle geniet dit om saam te skaats en stem saam dat vertroue in mekaar hul wenresep op die skaatsbaan is.

Maroela Media het vroeër ook oor die land – en wêreld – se jongste paarskaatsers, Taria Coetzee en Vincent Grun, berig. Hulle neem in die jeugafdeling (juvenile) deel.

Aangesien Philip ook aan verskeie ander buitemuurse aktiwiteite deelneem, laat sy stampvol skedule hom toe om net vier keer ʼn week sierskaats te beoefen. Die res van die tyd is hy met swemgalas, klavier- en vioollesse én toneelspel besig. Maar sierskaats is ongetwyfeld sy gunsteling‑aktiwiteit.

Philip Malan in aksie. (Foto: Verskaf / Tandala Photography)

Philip Malan (12) en sy skaatsmaat, Milané Gamberini (9). (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Om te skaats, staan hy en sy ma, Gloria, op Maandae, Woensdae en Donderdae om 04:00 op sodat Philip teen 05:00 op The Grove se ysskaatsbaan kan wees.

Om 07:00 moet hy sy skaatse blitsig weer vir skoolskoene verruil om betyds vir skool te wees. Die Curro Hazeldean Primary School waar hy tans ʼn gr. 7-leerder is, is gelukkig naby The Grove geleë.

Philip Malan (12) en Milané Gamberini (9) saam met hul afrigters, Konrad en Yolande Giering. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Op ʼn Donderdag is hy in die oggend en middag aan’t skaats by dié ysskaatsbaan.

Baie mense sal waarskynlik gedaan wees deur net na Philip se bedrywige dagboek te luister, maar vir hom is dit ʼn fees om alles te kan doen waarvoor hy lief is.

“Ek kry tyd vir alles en is nou al gewoond daaraan,” het hy met selfvertroue gesê. Hy het dalk nie baie tyd vir speelafsprake met maats nie, maar sê dat hy baie vriende het “oral waar hy gaan”.

“Ek het baie vriende waar ek bly, ek het vriende op die ys en by my skool. Orals waar ek gaan, is daar soveel mooi mense wat met my vriende is.”

Hy is tans deel van die Evolution on Ice-skaatsklub en word deur Konrad en Yolande Giering afgerig.

Dié egpaar het saam vir meer as ʼn dekade aan die Disney on Ice– en Holiday on Ice-produksies reg oor die wêreld gewerk – Konrad as hoofskaatser en Yolande as produksieregisseur.

Philip Malan (12) en Milané Gamberini (9) op die ys saam met hul afrigter, Konrad Giering. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Hulle het ook sowat ses jaar gelede die ys- en sierskaatsklub Evolution on Ice op die been gebring en dit is tans die grootste klub in die land. Hulle rig meer as 200 kinders van alle ouderdomme by die The Grove se skaatsbaan af.

Konrad sê hy is uiters beïndruk met Philip se vaardighede as sierskaatser, veral omdat Philip dié moeilike sportsoort nou eers so twee en ʼn half jaar beoefen.

Philip is ook een van agt Suid-Afrikaanse kinders wat uitgenooi is om ʼn gesogte ontwikkelingskamp vir sierskaatsers in Italië by te woon. Die kamp by the Ice Lab in Bergamo, noordoos van Milaan, bied onder meer aan sierskaatsers die geleentheid om deur wêreldklas afrigters afgerig te word en hul vaardighede op verskeie vlakke uit te bou.

Philip se ouers het nou vir hom ʼn fondsinsamelingsinisiatief op BackaBuddy van stapel gestuur om hom te help om sy droom om dié kamp by te woon, te bewaarheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.