Jong vrou geopereer ná slangbyt

Elné Erasmus (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Van die foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Elné Erasmus (21) is Dinsdag, langer as ’n week nadat sy deur ’n Mosambiekse spoegkobra in Limpopo gepik is, geopereer om dooie weefsel uit haar hand en arm te sny.

Hoewel die operasie goed afgeloop het, weet dokters nog nie of hulle dalk weer sal moet opereer nie. Intussen probeer Elné se familie en vriende positief bly dat sy gou sal herstel en met haar lewe kan aangaan.

Maroela Media het vroeër berig Elné is in haar ouerhuis op hul plaas naby Thabazimbi op haar regterhand deur die slang gepik toe sy ’n kledingstuk uit haar kas wou haal. Haar pa het terstond met haar na die Mediclinic-hospitaal in Thabazimbi gejaag waar sy betyds teengif ontvang het.

Haar toestand het twee dae later vererger, waarna haar broer, Wynand Erasmus (31), met haar na die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria gejaag het. Daar het haar intensiewe behandeling begin om te verhoed dat sy nie haar hand of arm verloor nie.

Die gesin het haar na dié hospitaal geneem omdat hulle verneem het dat dit ’n besonder goeie navorsingseenheid oor slangbyte het.

Stefanie Smit (27), ’n baie goeie vriendin van Elné, is daagliks in verbinding met Elné se familie en het aan Maroela Media vertel dat Elné se swelling en blase aan haar hand en arm verlede Donderdag erger begin word het.

“Die dokters het vir haar medisyne gegee en gehoop dat die swelling sou sak, maar helaas het dit nie gewerk nie. In daardie stadium het Elné se ma, Elna Erasmus, ook nog nie geweet hoe lank die dokters gaan wag voordat hulle opereer nie,” vertel Smit.

Die dokters het Vrydag vir Elné in kennis gestel dat hulle wil kyk hoe ver die gif versprei sodat hulle op een slag al die dooie weefsel kan uitsny.

Dit is hoe Elné se hand Vrydag gelyk het (Foto: Verskaf)

Elné het Maandag begin met hiperbariese suurstofbehandeling – ’n behandeling waartydens ’n pasiënt in ’n suurstoftenk geplaas word om genesing van koolstofmonoksiedvergiftiging, gangreen, hardnekkige wonde en infeksies te bespoedig. Deur hierdie behandeling kan dokters die aantal operasies om die dooie weefsel uit te sny, verminder.

Die dokters moes egter eers ’n ruk wag vir suurstof, aangesien suurstof in hospitale beperk is weens die behandeling van Covid-19. Hulle moes ook wag vir ’n teatersaal om beskikbaar te raak.

Elné is Dinsdag omstreeks 23:00 geopereer.

Die dokters wag nou 48 uur om te kyk of daar nog dooie weefsel is wat hulle moet uitsny. Daarna sal die veloorplantingsproses begin.

“Ek is bekommerd oor Elné se ouers omdat hulle verlede jaar deur so ’n moeilike tyd gegaan het (weens die uitwerking van Covid-19 op die ekonomie), en toe tref hierdie ding hulle ook nog.” Elné se ouers was genoop om verlede jaar hul mediese fonds te staak omdat hulle dit nie meer kon bekostig nie.

“Elné is ’n sterk jong vrou. Ek is positief dat alles goed sal afloop. Ons los net alles in die Here se hande.”

Omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie, is ’n noodfonds begin om geld in te samel vir die mediese uitgawes. ’n Gholfdag is ook Saterdag by die Thabazimbi-gholfklub ten bate van Elné gehou.

“Die gholfdag het baie goed verloop. Mense was baie ondersteunend. Dit is wonderlik om te sien hoe almal in ’n tyd van nood bymekaar kan staan.”

Om ’n finansiële bydrae te lewer, stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.