Jy gaan opdok! Belastingskale geensins aangepas

Enoch Godongwana, die minister van finansies. (Foto: GCIS)

Sommige hardwerkende Suid-Afrikaners kan nou moontlik selfs minder per maand uitkry, sou hulle vanjaar bevorder word.

Die begroting is Woensdag bekend gemaak en daar word vanjaar geen voorsiening gemaak vir fiskale sleuring nie.

Luidens die begroting sal belastingskale in die komende boekjaar geensins aangepas word om inflasie in berekening te bring nie. Dit beteken dat werkers moontlik in ʼn ander salarisskaal kan val indien hulle ʼn verhoging in ooreenstemming met inflasie kry, en dus meer sal moet betaal aan belasting.

Dié besluit alleen sal R16,3 miljard in bykomende inkomste vir die staat genereer – meer as die R15 miljard wat Enoch Godongwana, die minister van finansies, benodig om op te maak vir minder belastinginkomste die vorige jaar.

Mediesefondskrediete – ʼn belastingaftrekking wat gedoen kan word as jy aan ʼn mediese fonds behoort – sal óók nie aangepas word om inflasie in berekening te bring nie.

Die minister “spaar” hiér ʼn verdere R1,9 miljard.

Die regering hoop dat belastinginkomste-invorderings vir die 2024‑’25- finansiële jaar na verwagting R1,86 triljoen sal beloop nadat invordering aansienlik in 2023-’24 verswak het.

R738,7 miljard hiervan sal deur persoonlike inkomstebelasting gegenereer word en R302,7 in korporatiewe inkomstebelasting.

Ekonome het in aanloop tot die 2024-begrotingsrede verwag dat belastingskale moontlik nie in ooreenstemming met inflasie aangepas sal word nie, in ʼn poging om meer inkomste te genereer.

Die jaarlikse belastingvrye drempel bly weens dié besluit dus op R95 750 vir Suid-Afrikaners jonger as 65; R148 217 vir Suid-Afrikaners ouer as 65 en R165 689 vir diegene ouer as 75.

Die feit dat mediesefondskrediete óók nie met inflasie aangepas word nie, beteken dat mediesefondskrediete onveranderd op R364 per maand vir die eerste twee lede en R246 per maand vir bykomende lede bly.

Belastingverhogings

Godongwana het wel ʼn paar ander belastingverhogings vanmiddag aangekondig.

Aksynsbelasting op drank en tabak sal met onderskeidelik 6,7% en 7,2 % verhoog, waarmee die minister nog R800 miljoen in bykomende inkomste gaan genereer.

Die minister het dit egter nie gedurf waag om in ʼn verkiesingsjaar aan BTW te raak nie.

Godongwana het nes die vorige twee jaar ook geen verhoging in die algemene brandstofheffing en heffing vir die Padongelukkefonds aangekondig nie.

Die besluit om hier geen verhoging in te stel nie, sal R4 miljard se belastingverligting alleen aan Suid-Afrikaners bied.

Die minister het wel besluit om plastieksakke en gloeilampe duurder te maak in ʼn poging om ʼn paar ekstra rand in die sak te steek.

Die prys van ʼn plastieksak sal vanaf 1 April 2024 van 28c per sak na 32c per sak verhoog word.

Suid-Afrikaners sal ook vanaf dán R5 meer vir ʼn gloeilamp betaal. Die prys word begin April vanaf R15 per gloeilamp na R20 per gloeilamp verhoog.

Die minister sê die verhogings wat wel ingestel is, is ingestel om onmiddellike fiskale druk te probeer verlig en die staat se skuldvlakke te stabiliseer.

Hou Maroela Media dop vir meer oor die staat se skuld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jan ·

Geen verandering in oumens pensioen nie? Dis ver minder as die minimum loon

Papsak ·

Se my net waar gaan dit stop hierdie goed neil ons op elke hoek en draai so kan dit mos nou wragtig nie aan gaan nie het hy nie breins nie so moet ons maar net tevrede wees ek self n ou mens masr nou ja maar so

Bolandse Nooi ·

Hierdie belasting besigheid slaat my dronk. Kyk, Wiskundig is ek beslis nie aangelê nie, gaan ek nou MEER belasting betaal op my salaris wat oor 2 jaar presies dieselfde gebly het???

willie ·

So die arme belastingbetaler moet maar nou net opdok vir cANCer se onvermoe en streke!!!!!!

Pieter ·

Motorists will see some fuel carbon tax increases — R0.11 per litre for petrol and R0.14 per litre for diesel taking effect from 3 April 2024.

Anel ·

Maar daar word groot geld eenkant gesit vir die kaders se salarisvehogings!!!! Niks vir werkskepping nie!!!

AREND1 ·

Nou kan die staat 16 miljard rand extra spaar net om in hulle sakke te beland.

Hoopvol ·

Jy sal nie méér betaal as jou salaris dieselfde gebly het nie. Die bedrag wat jy oorhou sal dieselfde bly – maar dieselfde geld is nou minder werd as ʼn jaar gelede…

ʼn Verhoging in salaris kan jou in ʼn hoër belastingkategorie plaas, maar jy sal steeds meer uitkry. Jy sal waarskynlik teen ʼn hoër koers belas word op die verhoging-gedeelte wat jy kry, maar die belasting op die “oorspronklike deel” van jou salaris sal onveranderd bly. Die nominale bedrag wat jy uitkry sal dus groei, maar jou reële besteebare inkomste (koopkrag van jou geld) is waarskynlik minder as jou salaris net inflasieverwant gestyg het.

Hoopvol ·

ʼn Verhoging in salaris kan jou in ʼn hoër belastingkategorie plaas, maar jy sal steeds meer uitkry. Jy sal waarskynlik teen ʼn hoër koers belas word op die verhoging-gedeelte wat jy kry, maar die belasting op die “oorspronklike deel” van jou salaris sal onveranderd bly. Die nominale bedrag wat jy uitkry sal dus groei, maar jou reële besteebare inkomste (koopkrag van jou geld) is waarskynlik minder as jou salaris net inflasieverwant gestyg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.