Kaapse brandbestryders blus brand op vragskip

Die skip moes ʼn ent weg van die hawe anker gegooi het en brandbestryders is ontbied om die skip te hulp te snel. (Foto: Verskaf)

Die brand wat dae lank op ʼn vragskip van 54 000 ton buite die Kaapse hawe gewoed het, is eindelik geblus nadat Kaapstadse brandbestryders ingetree het.

Die skip het op 2 September uit Brasilië vertrek en was vir Hongkong bestem toe die brand in sy diggepakte vragruim uitgebreek het.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die vragskip het vroeër vandeesweek aan die brand geraak terwyl dit nog op see was.

“Die brand het in die vragruim uitgebreek en die kaptein het besluit om daardie gedeelte van die skip te verseël,” sê hy.

“Die skip het Dinsdag by die hawe in Kaapstad aangekom, maar omdat die brand nog nie onder beheer was nie, is dit toegang geweier en kon dit nie in die hawe vasmeer nie.”

Die skip het ʼn ent weg van die hawe anker gegooi en brandbestryders is ontbied om die skip te hulp te snel.

Die Kaapstadse-metro se brand- en reddingsdienste het ʼn span van tien mense saamgestel en die nodige toerusting bymekaar gekry om na die skip te vertrek.

Die span moes ʼn tien meter lange touleer gebruik om die vragskip se dek te bereik.

Die brand het in die vragruim uitgebreek en die kaptein moes daardie gedeelte van die skip verseël het. (Foto: Verskaf)

Die diggepakte vragruim waarin die brand ontstaan het, is oopgemaak en die brandbestryders het vinnig werk daarvan gemaak om deur die 215 m lange vaartuig te beweeg na die bron van die brand.

Die brandbestryders kon naby genoeg aan die hittebron gekom het om water naby dit te spuit. Hulle moes die kompartement egter vinnig verlaat sodat dit weer verseël kon word. Soos wat die water die hittebron bereik het, het dit vinnig in stoom verander.

Een van die brandbestryders het erge hoeveelhede rook ingeasem en is dadelik na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal geneem.

Volgens Smith sterk hy aan in die hospitaal.

Dit het dae lank geneem vir die interne temperatuur van die skip om te daal, maar teen Donderdag was die skip toegelaat om die hawe binne te vaar.

Brandbestryders het aan land gewag vir die vragskip en dadelik by die aankoms aan boord gegaan om die brand verder te blus.

“Met behulp van brandbestrydingstoestelle het die brandbestryders ʼn gekonsentreerde mengsel van saamgeperste skuim gebruik om die vlam in die vragruim te blus,” sê Smith.

“Die brandbestrydingspogings het deur die nag geduur, maar die brand is eindelik Vrydagoggend geblus.”

ʼn Brandbestrydingstoestel is aan boord gelaat terwyl die interne skade ondersoek word.

Dit is onduidelik hoe die brand presies ontstaan het.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Dit is puik werk wat die brandbestryders gedoen het. ‘n Brand aanboord ‘n skip is ‘n nagmerrie. Ek kan getuig daarvan.

Jacobus ·

Welgedaan JP Smith en jou span. Dit is net in die Kaapstad hawe waar so iets gedoen kan word in SA.

Karoo ·

Knap gedaan Kaapstadse-metro brand- en reddingsdienste onderlyding van JP Smith!!!! Julle maak die Wes Kaap trots. Hoop julle kolega sterk mooi aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.