Kaapse damvlakke styg verder

Argieffoto van die Theewaterskloofdam. (Foto: Tony Georgiou via Reënval in SA, Facebook)

Danksy ʼn goeie reëvalseisoen tot dusver het Kaapse damvlakke verder gestyg.

Die gemiddelde vlak van Kaapse damme het nou van verlede week se 88% tot 90,7% gestyg.

Die Kaapse damvlakke het verlede jaar dié tyd op 81,9% gestaan. Die damme is die volste wat dit sedert 2013 was.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, het Dinsdag gesê waterverbruik het met 28 miljoen liter per dag afgeneem, met ʼn gemiddelde verbruik van 633 miljoen liter per dag vergeleke met ʼn gemiddelde verbruik van 661 miljoen liter per dag vir verlede week.

Limberg het gesê die huidige waterbeperkings sal moontlik ná die einde van die reënseisoen (31 Oktober) verder gelig kan word.

“Inwoners moet egter in gedagte hou dat die uitwerking van klimaatsverandering in die daaropvolgende jare nog onseker is en dat dit ook in die uiteindelike besluit rakende beperkings verreken sal word.”

ʼn Afname in watertariewe sal volgens Limberg afhang van ʼn toename in waterverbruik. Die metroraad verkoop tans ongeveer 30% minder water as voor die droogtetydperk, maar daar is ekstra koste daaraan verbonde.

“Dit is belangrik dat die metroraad sy koste dek om te verseker dat die instandhoudings- en aanvullingsprogramme uitgevoer kan word. As die hoeveelheid water wat ons verkoop aansienlik sou toeneem, sal dit in die tariewe verreken word, maar gegewe die onsekere uitwerking van klimaatsverandering is dit miskien nie wys om in dié stadium so ʼn benadering daadwerklik aan te moedig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andréas ·

Baie dankie Almagtige-Drie-Enige GOD vir hierdie Genade in water soos weer ontvang. Aan U al die Eer. Mag die verskeie Rade en Munisipaliteite in navolging ook regverdige tariefverlagings na inkomstegestriemde verbruikers deurvoer asb?

Tjom ·

Was n paar jaar terug by n Stadsraad vs Verbruiker vergadering oor water en krag, waarin Stadsraad dit duidelik gemaak het dat bedryf koste en spesifiek salarisse nie afwaards aangepas sal word nie en portefeuljes nie verminder sou word met afname in vraag nie en dus val die koste verekening weer op die verbruiker. Swak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.