Kaapstad bekommerd oor meer huisbrande

‘n Brandweerwa buite die parlement. (Foto: Maroela Media)

Die Stad Kaapstad is bekommerd oor die getal huisbrande in formele woonbuurte wat die afgelope jaar aangemeld is en die sterftesyfer as gevolg van dié brande.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die stad se brandweer het tussen Julie verlede jaar en Junie vanjaar ʼn toename van meer as 35% in huisbrande gesien.

Daarby was net vyf van die byna 2 000 huisbrandvoorvalle wat deur die jaar aangemeld is, vir altesame 20 sterftes verantwoordelik.

“Hoewel die toename in huisbrande toegeskryf kan word aan beurtkrag wat meer gereeld ingestel word, het ons nie in hierdie stadium genoeg bewyse om so ʼn verband te bevestig nie,” sê Smith.

Hy het bygevoeg dat huisbrande ook dikwels uitbreek weens nalatigheid of dwelmmisbruik.

“Gemeenskappe en huiseienaars moet bewus wees van brandveiligheid en waaksaam wees oor die gebruik van vlambare materiale, kooktoestelle en ander hittebronne.”

Volgens Smith het die stad se brandweer die afgelope 12 maande op altesaam 22 618 voorvalle gereageer, waarvan byna 15 000 algemene brandvoorvalle was. Brande was dus verantwoordelik vir net meer as 66% van alle voorvalle waarop gereageer is.

Die res van die voorvalle waarop die brandweer moes reageer vorm deel van spesiale diensoproepe, insluitend reaksies op voertuigongelukke, mediese noodgevalle, reddingsvoorvalle en voorvalle waarby gevaarlike materiale betrokke was.

“ʼn Algehele vergelyking van brande wat jaarliks sedert 2019 aangemeld is, wys dat die getal brande oor die algemeen relatief staties gebly het, met ʼn noemenswaardige afname in ʼn aantal kategorieë, insluitend plantegroeibrande en informele residensiële brande.”

 

Só vergelyk die getal voorvalle waarop die brandweer die afgelope paar jaar gereageer het:

Kategorie 2019/20 2020/21 2021/22
Totale voorvalle 22 497 22 634 22 618
Spesiale diensoproepe 8 500 7 203 7 007
Algemene brande 13 997 15 431 14 978
Plantegroeibrande 9 694 11 003 9 731
Informele woonbuurte 1 636 1 702 1 424
Formele woonbuurte 1 383 1 447 1 968
Sterftes 170 188 224

Reaksietye

As deel van sy diensvlakooreenkoms beywer die stad se brandweer- en reddingsdiens hom om binne 14 minute op ten minste 70% van alle voorvalle te reageer. Smith sê die brandweer het tussen Januarie en Maart vanjaar byna hierdie doel bereik. Sowat 63% van alle voorvalle is binne 14 minute op gereageer.

Smith voer aan die stadige reaksietyd kan wees omdat bemanning van ʼn spesifieke stasie ontbied word om met ʼn groot voorval te help, soos plantegroeibrande of die brand by die parlement vroeër vanjaar. Terwyl hulle besig is met ʼn groot brand elders in die stad, is daar dan ʼn stadiger reaksietyd op plaaslike oproepe.

“Nog ʼn aspek om in gedagte te hou is dat die stad se brand- en reddingsdiens mediese en trauma-reaksies verskaf; ons het egter nie reddingsvoertuie by elke brandweerstasie nie, aangesien daar primêre nood- mediese diensverskaffers is. Waar die brand- en reddingsdiens dan wel reageer, beteken dit dat dit die voertuig langer kan neem om by die toneel of voorval uit te kom, afhangend van waar hulle hulself bevind wanneer die oproep ontvang word,” sê hy.

Die brandweerdienste in die Wes-Kaap het boonop die afgelope jaar onder aanvalle deur lede van die publiek deurgeloop.

“In die meeste gevalle word voertuie met klippe gegooi op pa na noodgevalle. Brandspanne word dan verhinder in hul pogings om hul pligte uit te voer, soos vroeër vanjaar in Langa gesien is, toe brandslange gesny is terwyl personeel besig was om die brand te blus,” sê Smith.

“In baie gevalle sal die brandweer dan eers wag vir polisiebegeleiding voordat hulle na ʼn gebied gaan. Nodeloos om te sê beïnvloed dit ook die brandweer se reaksietye.”

Smith is egter vol vertroue dat die brandweer se uitvoering van sy pligte in die komende boekjaar glad sal verloop.

Net meer as R12 miljoen gaan oor die volgende paar maande bestee word om bestaande brandweervoertuie, insluitend watertenkwaens en pompe, te vervang.

Daarbenewens sal lugbrandbestrydingstoestelle aangekoop word en ʼn groep seisoenale brandbestryders vir die warmer maande aangestel word om te help met die toename in plantegroeibrande gedurende die somer.

Altesame 23 nuwe rekrute ondergaan tans opleiding om voltydse brandbestryders te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.