Kaapstad besig met grootste riool-opgraderingsprojek

Kaapstad-burgemeester Geordin Hill-Lewis toets die afstandbeheerde robotstelsel wat in die riool-opgraderingsprojek gebruik word (Foto verskaf)

Kaapstad is besig om ʼn pypleiding van 28 km te rehabiliteer. Die projek, ter waarde van R715 miljoen, sal na verwagting teen 2025 afgehandel wees. Dit is Suid-Afrika se grootste riool-opgraderingsprojek.

Sowat 300 000 huishoudings op die Kaapse Vlakte insluitend Athlone, Hanover Park, Lotusrivier, Ottery, Grassy Park, Eagle Park en gebiede rondom Pelican Park sal voordeel trek uit dié opgraderingsprojek.

“Beamptes op grondvlak sê ons is op dreef om hierdie megaprojek teen 2025 af te handel,” sê burgemeester Geordin Hill-Lewis. “Ons belê in 2023/24 ʼn bedrag van R206 miljoen in hierdie projek om seker te maak ons haal ons doelwit.”

Tydens hierdie geskiedkundige projek, die grootste wat nog ooit in demokratiese Suid-Afrika onderneem is, word grootmaat riolering, wat in die 1960’s gebou is, opgegradeer. “Ons maak dit toekomsbestand vir die volgende 100 jaar sodat dit tot voordeel kan strek vir toekomstige generasies Kapenaars”.

Die stadsraad sal oor die volgende drie jaar R1,3 miljard belê in grootmaat rioleringsopgradering aan die Kaapse Vlakte, Philippi, Milnerton en Gordonsbaai-pypleidings.

“Vir die nuwe finansiële jaar sal ongeveer 73% van Kaapstad se infrastruktuurbegroting, of net meer as R8 miljard, aangewend word vir noodsaaklike opgradering om laerinkomste-huishoudings, informele nedersettings en armer gemeenskappe te bevoordeel.”

Kaapstad-burgemeester Geordin Hill-Lewis aanskou die vordering aan die riool-opgraderingsprojek op die Kaapse Vlakte (Foto verskaf)

Buiten die verbetering aan basiese dienste en persoonlike en gemeenskapswaardigheid, is die omvang van Kaapstad se R43 miljard-driejaar-infrastruktuurpypleiding groter as Johannesburg en Durban gesamentlik. Dit sal ook oor die volgende drie jaar meer as 135 000 poste in die stad skep, aldus Hill-Lewis.

Vir die opgradering op die Kaapse Vlakte maak die stad gebruik van slootvrye tegnologie gebruik wat beteken dat daar nie langdurige ontwrigtings en opgrawings hoef plaas te vind nie.

“Inwoners en ondernemings sal nie verontrief word deur ingrypende konstruksiepersele in die gebied nie. Die enigste teken dat instandhoudingswerk plaasvind, sal sommige personeel en voertuie by mangat-toegangspunte wees. Dié metode is ook ongeveer drie keer meer kostedoeltreffend as gebruiklike konstruksie-opgrawingswerk,” verduidelik Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie.

Tydens ʼn besoek aan die perseel het beamptes die tegnologie eerstehands beleef. Pypleidings, wat vier meter ondergrond is, word eers geprofileer deur ʼn robotiese kruipmasjien wat lasers gebruik om die toestand in die pyp te ondersoek. Data word dan aan beamptes bogronds gestuur en hulle kan dan bepaal watter metode aangewend moet word om die pypleiding op die mees kostedoeltreffende manier te herstel.

Kaapstad is ook op dreef om sy doelwit te behaal om rioolpypvervanging vir die 2022/23- finansiële jaar, wat Junie 2023 eindig, tot 50 km te verdubbel. Dit is deel van ʼn groot rioolpypfokus waar 100 km elke jaar reg oor die metro vervang sal word met ʼn totale belegging van R850 miljoen oor die volgende drie jaar.

Dié program is deel van ʼn strategie om rioolstortings mettertyd te verminder, insluitend opgradering aan grootmaat riolering, proaktiewe opruiming van rioollyne, reaksiespanne wat kan reageer op rioolstortings en digitale afstandmeting-stelsels vir vroeë waarskuwings oor rioolstortings.

“Hierdie ingrypings het reeds tot ʼn 30%-afname gelei in rioolstortings in Kaapstad die afgelope twee jaar.” Kaapstad sal vordering verder bly monitor met ʼn reaktiewe voorvalbestuurstelsel.

Vir 2022/23 voer die stad 36 pypvervangings uit. Altesaam 22 is reeds afgehandel en 14 sal na verwagting voor 30 Junie afgehandel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Shakespeare ·

Welgedaan manne. Ons is trots op julle. Daar is lig in die Wes Kaap omdat die regte party regeer.

Marcello ·

Wow !!!! As daar een stad in die land is wat vooruitgang bevorder, dan is dit Kaapstad. Bravo !!!! vir die Premier en Burgermeester, wat op grondvlak vir mense omgee, en deel van hulle is. Bravo !!!!!!!!!!!! veral vir Geordin Hill-Lewis.

Manie ·

Wag bietjie voordat die DA in Kaapstad so opgehemel word. Ja hulle doen baie goeie dinge, maar gooi ook gereeld ‘n blinde oog oor die probleme wat ander belastingbetalers in hulle metro ondervind. Inwoners in die Edgemead/Monte Vista/Plattekloof Glen area sukkel al etlike jare met ‘n ondermaat riool lyn wat riool oorstromings veroorsaak omrede sommige inwoners hulle stormwater in die riool lyn stort. Die einste burgemeester woon in die area en moet sekerlik bewus wees van die probleem, terwyl die raadslede in die ereas skitter in hulle afwesigheid.

Theresa ·

Die regte party aan bewind, en saam met AfriForum VF+ en Solidariteit Action SA ACDP kan niks hulle oortref nie, volgens my n gedugte span, wat ons almal se ondersteuning nodig het…en waarby elke SA’r sal baat..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.