Duisende fietsryers moes Sondagoggend vroeg, kort nadat hulle weggespring het in vanjaar se Kaapstad-fietstoer (ook bekend as die Cape Town Cycle Tour en voorheen die Argus), teleurgesteld teruggaan huis toe nadat die organiseerders dié wedren weens sterk wind gekanselleer het.
Dit volg nadat die organiseerders Saterdagaand ʼn waarskuwing via e-pos uitgereik het waarin hulle aangedui het dat amateur fietsryers dalk twee keer moet dink voordat hulle die wedren aanpak.
“Daar is vir ons gesê daar is ʼn baie groot kans op stormsterk wind in die volgende 24 uur en ons maan julle om asseblief twee keer te dink as jy wil deelneem, veral as jy nie ʼn baie ervare fietsryer is nie,” het die verklaring gelui.
Die roete van die wedren is ook Sondagoggend vroeg verkort en herlei nadat protesaksie op dele van die roete voorgekom het. Die organiseerders het op sosiale media gesê die roete word herlei weens skade aan die pad ná die protesaksie.
Sterk winde wat toe wel Sondagoggend vroeg in Kaapstad geloei het, het gelei tot die kansellasie van die fietswedren.
Talle fietsryers wat reeds dié wedren begin het, se fietse is onder hulle uitgeskep as gevolg van die sterk wind.
Meer as 30 000 fietsryers sou na verwagting aan die wedren deelgeneem het.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Kaapstad-fietstoer, die 40ste een vanjaar, dat die wedren gekanselleer is.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
54 Kommentare
Regtig jammer vir jul almal, soveel voorbereiding en geld, fietsryers kuier maar en ruil vorige jare se ritte ervarings uit. Organiseerders reel maar weer 40ste, maybe next time lucky.
ANC en Zuma se tent is opgewaai is en die toespraak by Zeerust moes afgestel word, Daar was menings dat daar gesien moet word dat hy verhinder word om te praat. Hier waai die wind ‘n Sondag-fietswedren waar mense hulle eie sportplesier beoefen pleks van kerk toe gaan, tot afstel. Laat ons as volk en nasie diep nadink, dalk eers so bietjie besin voor ons op 22 April gaan saambid met Angus Buchan,
Dis jammer dat die wedren gekanselleer is en ek hoop dat die weersomstandighede beter sal wees volgende keer vir julle.
Ek raai dat die wind net n verskoning is. Die eintlike rede is protes want protesteerders weet mos Ons buig voor hulle.
Ek kon nie verstaan waarom die SAUK nie die fietsry op tv2 uitsaai nie en het gedink dat hul dit ook nie meer gaan wys nie. Dit is toe ek die berig in Maroela nuus lees. Ek stem saam met Jannie dat Saterdag die Sabbatsdag is en nie Sondag nie.