Kaapstad ‘gereed’ om op aardbewing te reageer

(Grafika: Volcano Discovery)

Die Stad Kaapstad sê hy het verskeie gebeurlikheidsplanne in plek – ook indien ʼn aardbewing die stad tref.

Talle inwoners van die Moederstad was Saterdagaand in rep en roer nadat ʼn skudding, veroorsaak deur ʼn aardbewing van 2,5 ongeveer 10 km noord van Malmesbury in die Wes-Kaap, in die streek gevoel is.

Dié skuddings was egter nie verwant aan ʼn skudding van 6,2 wat sowat 1 600 km suid-suidoos van Kaapstad plaasgevind het, soos vroeër vermoed is nie.

Die Raad vir Geowetenskappe (CGS) het bevestig ʼn aardbewing het Saterdagaand om 20:41 plaasgevind en die Suid-Afrikaanse Nasionale Seismograaf-netwerk het dit opgeteken.

JP Smith, burgemeesterkomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad, het gesê die stad het kennis geneem van die wydverspreide openbare belangstelling in die skuddings. Daar was ook vrae oor Kaapstad se gereedheid om die gevolge van ʼn aardbewing te hanteer en wie se verantwoordelikheid dit is om in só ʼn geval ʼn noodreaksie te koördineer.

Smith sê verskeie faktore moet in ag geneem word. Dit sluit in wat as ʼn groot aardbewing beskou word. Volgens die CGS lê die verskil tussen ʼn aardbewing en ʼn aardskudding in die omvang van die gebeurtenis. In Suid-Afrikaanse konteks word ʼn seismiese voorval van minder as 4,0 as ʼn skudding beskou.

“Hoewel aardbewings nie voorspel kan word nie en ons nie vroeë waarskuwingstelsels daarvoor het nie, het die CGS wel tsoenami-sensors en vroeë waarskuwingstelsels om te verseker mense word ingelig oor enige tsoenami-bedreigings,” het Smith gesê.

Sou ʼn groot aardbewing tref, sal die CGS en die Suid-Afrikaanse Weerdiens die leiding neem.

“Die stad se rampkoördineringspan sal die reaksie op moontlike gevolge koördineer vir interne en eksterne agentskappe soos die polisie, die weermag, die nooddienste en die dierebeskermingsvereniging.

“Die stad se ramprisikobestuursentrum het ʼn noodreaksieplan vir ʼn verskeidenheid moontlike rampe, ook aardbewings. Dié planne word jaarliks hersien en rampgereedheidsoefeninge met al die betrokke rolspelers word gehou om die stelsel op ʼn volgehoue grondslag te toets. Soos met enige moontlike ramp, berus ʼn doeltreffende reaksie op die betrokkenheid van almal, ook die publiek.”

Smith sê die stad se openbare noodkommunikasiesentrum is die primêre kontakpunt in enige noodgeval. Van ʼn selfoon kan die sentrum by 021 480 7700 gekontak word en by 107 van ʼn landlyn.

Vir meer inligting oor wat om in die geval van ʼn aardbewing te doen, kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.