Kaapstad: Grondbesettings bedreig behuisingsprojekte

Kaapstadse burgemeester Dan Plato (April 2020) (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Onwettige grondbesettings in Kaapstad bedreig behuisingsprojekte van ongeveer R1,3 miljard.

Raadslid Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het Donderdag in ʼn verkalring gesê indien dié projekte verlore gaan, sal dit nie net nadelig wees vir die toekoms vir die begunstigdes nie, maar vir die hele Kaapstadse gemeenskap.

Hy het gesê slegs in die vorige week was daar 17 grondbesettings – waarvan meeste gestuit is.

Grondbesettings en betogings duur voort in gebiede soos Mfuleni, Khayelitsha, Wallacedene in Kraaifontein, Delft, Dunoon, Firgrove in Macassar, Milnerton en Nyanga.

Booi het gesê die situasie spruit waarskynlik uit politieke en ander opportunisme en word aangevuur deur diegene wat eis dat die stad nie teen grondbesettings sal optree nie. Hy het gesê talle sien dit as ʼn “groen lig” om grond, gemeenskapsfasiliteite en stadsprojekte onwettig te beset.

Hy het gesê die grond wat onlangs beset is, is ook die gebied wat die swaarste getref word deur storms en oorstromings. “As ʼn stad het ons nie die hulpbronne om fondse weg te lei van beplande projekte na besette gebiede nie.” Volgens hom droog die geld ook op wat van die nasionale regering ontvang is, terwyl die behoefte aan nedersettings en basiese dienste al hoe meer toeneem.

Hy het gesê sy departement tree in gesprek met gemeenskappe en luister na hulle, maar hulle “kan eenvoudig nie gesels met iemand wat ʼn petrolbom in hulle hande hou nie”.

Kaapstadse burgemeester Dan Plato het intussen die bystand van die Suid-Afrikaanse Polisiediens versoek om voortgesette betogings te hanteer.

Plato het gesê hy verwelkom Lindiwe Sisulu, die minister van menslike nedersettings, se veroordeling van die huidige vlaag onwettige grondbesettings in Kaapstad. Hy loof haar dat sy wetstoepassingsagentskappe versoek om beslissend op te tree, maar voeg by dat bystand van die SAPD baie beperk is.

Hy het die Wes-Kaapse polisiekommissaris, genl. Yolisa Matakata, versoek om nog beamptes beskikbaar te maak om die stadsraad te ondersteun om waardevolle grond, wat vir dienste, gemeenskapsfasiliteite en behuisingsprojekte geoormerk is, teen “die aanslag van onwettige grondbesettings” te beskerm.

Die stad se wetstoepassers neem die voortou om grond te beskerm, maar word oorweldig deur agt of meer grondbesettings wat daagliks plaasvind.

“Ons is almal in dieselfde bootjie. Die polisie is daar om ons inwoners te dien en ons inwoners het desperaat hul ondersteuning nodig en moet saam met wetstoepassers werk,” het hy gesê. “Verskeie van ons beamptes het al in die hospitaal opgeëindig met ernstige beserings toe hulle op grondbesettings reageer het. Ons diensleweringspersoneel is ook aangeval of is met klippe bestook en beseer toe hulle hul pligte wou nakom.”

Plato het gesê hy neem kennis van berigte van selfaangestelde leiers van die grondbesetters wat met beamptes wil “onderhandel”, maar daar is niks om te onderhandel nie, aangesien niemand die reg het om grond, geboue of behuisingsontwikkelings te beset wat aan iemand anders behoort en dit vir hulleself op te eis nie.

“Grondbesettings beteken dat diegene, wat geduldig vir behuising wag, selfs langer sal moet wag omdat die grond verlore gaan weens die onwettige besettings en nuwe persele geïdentifiseer moet word,” het Plato gesê. “Dit beteken diensleweringsprojekte staan stil en ons inwoners word ontneem van kritieke infrastruktuur-opgraderings, soos die R162 miljoen se waterinfrastruktuur-opgraderingsprojek in Khayelitsha. Die projek is nou in gedrang en dit het ʼn invloed op duisende wetsgehoorsame inwoners in Khayelitsha wat op dié pyplyn staatmaak vir beter water- en sanitasiedienste en beplande behuisingsprojekte. Verskeie behuisingsprojekte is in gedrang en die stad en sy owerhede tree op om dit te voorkom.”

Plato het gesê wetstoepassers, wat nou grondbesettings moet hanteer, moet dus onttrek word uit plekke wat deur bendegeweld geteister word.

Betogers wat infrastruktuur aan die brand steek, moet ook weet dat dit nie net vervang kan word nie, omdat die stad ʼn beperkte begroting en fondse beskikbaar het vir projekte en programme en dit kan nie net herlei word om te vervang “wat misdadigers keer op keer verwoes nie”, het Plato gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dit sal nie skade doen om na te vors of ANC nie agter die grondbesettings sit. Dis volgende jaar munisipale verkiesings

Gerrie ·

Sit die tsunami van Oos-Kaapse mense op busse terug na hul provinsie.

Wilna ·

Dit is so duidelik soos daglig dat die ANC agter hierdie hele storie is. Die ANC probeer elke keer om Wes Kaap in chaos te dompel en swak te laat lyk. Net jammer dat hle die mense Wie die kwesbaarste is gebruik. ANC jle sal nooooooit ons Wes Kaap stemme kry nie.

Jacobus ·

Die regering is nie by magte (en gewillig) om misdaad vas te vat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.