Kaapstad kry rekordgetal aansoeke vir sonpanele  

(Argieffoto: Pixabay)

Almal wil  ʼn huisie by die see hê… En in Kaapstad lyk dit of almal nou ook ʼn sonpaneel op hul dak wil hê.

Volgens Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, het die stad sedert Februarie ʼn rekordgetal aansoeke vir sonpanele ontvang. Hoewel die grootste hoeveelheid geïnstalleerde sonkragkapasiteit in Kaapstad by sakeondernemings lê, word die nuwe aansoeke hoofsaaklik deur residensiële eienaars aangedryf.

Aansoeke wat in Februarie ontvang is, het reeds alle vorige syfers oorskry, en dit het in Maart en April net verder toegeneem.

“Die stad het vanjaar al 2 333 aansoeke ontvang om sonpanele te laat installeer, waarvan byna 700 in Maart was,” het Hill-Lewis gesê.

Volgens hom is dit ʼn 21%-toename in die vraag na sonpanele sedert rekords bygehou word. Dit dui ook op ʼn goeie markreaksie op Kaapstad se aansporings vir ondernemings en huiseienaars om hul eie sonkrag op te wek.

“Kaapstad is die eerste stad in die land wat aan huishoudings en sakeondernemings geld vir hul oortollige sonkrag aanbied. Die stad gaan in Junie begin om ondernemings vir sonkrag te betaal en inwoners sal later vanjaar hul sonkrag vir kontant kan begin verkoop,” sê Hill-Lewis.

Die stad se Power Heroes-veldtog skop ook later vanjaar af en behels onder meer dat inwoners verdere aansporings sal ontvang vir vrywillige energiebesparing, insluitend die geoutomatiseerde afstandbeheerde afskakeling in spitstye van toestelle wat baie elektrisiteit verbruik – soos geisers en swembadpompe.

 

Maroela Media het vroeër berig dat die grootste aanskaffing – ʼn 500 MW-tender om elektrisiteit op die oop mark aan te skaf – einde Maart begin het. Die tender fokus op hernubare energie en versendingstegnologie soos batterystoorkrag en gas. Hierdie kragbronne moet vir ʼn groot deel van die dag krag kan opwek om beskerming teen beurtkrag te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Manie ·

Hoekom moet mense in Kaapstad aansoek doen om sonpanele vir eie gebruik te installeer? Ek weet nie van 1 ander stad/dorp waar dit nodig is nie. Dan is COC nog voorskriftelik ook oor welke fabrikate jy mag gebruik.

Duck ·

Presies wat jy daar sè, Manie, Ek het ook soos ‘n pop aansoek gedoen, gelukkig het ek eers ‘n oproep gemaak, dis ‘n geldmaak storie, Jy mag nie dit doen nie, jy mag nie daai doen nie, end van die dag soek hul ‘n COC en as jou konneksie dit nie maak nie, word jy afgesny en ‘n boete van R6000 om weer her-aansoek te doen. Nee dankie sè die gansie, maar vir my gaan jy nie so uitvang nie! DA se planne is agterbaks. Dit is my 2c. Probeer maar self en sien.

Sandra ·

As die DA so sleg is, hoekom is Kaapstad Mun omtrent die enigste wat nog werk? Hier herstel hulle immers nog pype, daar is minder slaggate in ons openbare paaie, die sanitasie werk. Die skole werk – alles beter as in die ander provinsies. Al wat nie werk is Transnet, daaroor het hulle geen beheer nie. Ons loadshedding is vlak onder die res van die land

Manie ·

Niemand het gesê die DA is sleg nie, hulle is net absurd met eie reëls en regulasies wat nie elders bestaan nie. Hoekom mag ons net COC voorgeskrewe produkte gebruik? Ek ruik ‘n rot.

De Bok ·

Die DA, soos enige linkse party, stel beheer as die hoosgte prioriteit. Die verskil tussen DA en ANC is dat die DA competent is. Nes die ANC, is elke aanbod van “hulp” net ‘n manier om verder beheer te kry oor die populasie.

Delia ·

Die kaapse dwelmhandel netwerke werk ook beter as enige ander plek. Moordsyfers op die Kaapse vlakte met dwelmbedrywighede haal nie die nuus

Papsak ·

Ja nee kyk in hierdie land draai alles om geld alles wat jy wil doen beteken geld nee die regering sien mos net dollars dit is al dink aan hulle sakke

Hayntjie ·

Intussen sukkel mens om die voorwaardes of dan munisipale regulasies vir die installering van sonkrag by die buurman munisipaliteit Drakensberg in die hande te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.