Kaapstad vir gesogte reistoekennings benoem

Die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad. (Foto: Facebook)

Die Stad Kaapstad is vir verskeie kategorieë by die Wêreldreistoekennings benoem.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, het ʼn beroep op Kapenaars gedoen om voor 24 September – wanneer stemmery sluit – vir die Moederstad te gaan stem om te help verseker die stad kry die erkenning wat hy verdien.

Kaapstad is benoem in die kategorieë as Afrika se voorste strandbestemming, voorste sakereisbestemming, voorste stadsbestemming, voorste fees- en geleentheidsbestemming, asook voorste vergadering- en konferensiebestemming.

(Foto: TMACC)

“Dit is nie toevallig nie. Baie werk is gedoen om te verseker ons stad is ʼn voorkeurbestemming, maak nie saak waarna jy op soek is nie. In 2018 het toerisme nagenoeg R18,1 miljard tot ons plaaslike ekonomie bygedra en meer as 113 000 direkte werksgeleenthede ondersteun. Dit is hoekom toerisme ʼn prioriteit vir die Stad Kaapstad bly,” het Vos gesê.

Vos sê as deel van die stad se strategie om weer lewe in die toerismebedryf te blaas, is sy onderneming- en beleggingsdepartement hard aan die werk aan sy sespuntplan wat Kaapstad sal posisioneer as dié plek om te woon, te werk, te ontspan, te besoek, in te studeer of in te belê.

Hy sê hy is vol vertroue dat die stad in samewerking met Kaapstad-toerisme en die nuwe strategie wat ontwikkel is die toerismebedryf weer op koers gaan kry en ʼn volhoubare en inklusiewe toekoms vir die belangrike en lewendige sektor kan uitwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.