Kaapstad wéér beste lughawe in Afrika

Dit is die agtste agtereenvolgende keer dat die lughawe as die beste in Afrika aangewys word. (Foto: Cape Town Airport/Twitter)

Kaapstad- internasionale lughawe het Woensdagaand in Amsterdam by die toonaangewende Skytrax World Airport-toekennings vir die agtste agtereenvolgende jaar weggestap met die toekenning vir beste lughawe in Afrika.

Die lughawe het ook vir die derde agtereenvolgende keer die toekenning ontvang vir beste lughawepersoneel in Afrika.

“Hierdie jongste eerbetoon is verdere bewys van die uitnemende standaarde en diensvlak wat ons in die Wes-Kaap bevorder,” sê premier Alan Winde. “Die toekenning bevestig ook dat ons toerismefasiliteite wêreldklas is. Dit is net gepas vir ons provinsie – ʼn topbestemming vir besoekers, plaaslik en internasionaal. Die bestendige groei wat ons in toerisme sien is integraal vir ons ekonomiese groei, herstel en werkskepping. Ek wil die lughawe se personeel en bestuur graag gelukwens. Julle het ons weereens trots gemaak.”

Mireille Wenger, minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het ook die bestuur en personeel van die lughawe gelukgewens. “Kaapstad- internasionale lughawe is ʼn noodsaaklike deel van ons toerisme en gasvryheidsekonomie. Om vir die agtste keer die toekenning vir beste lughawe in Afrika te ontvang sal beslis dié belangrike bedryf ʼn verdere hupstoot gee.”

Volgens ʼn oorsig van die Wes-Kaapse toerismeprestasie in 2022 het die provinsie ook uitgetroon as die beste in die land, wat betref oorsese markte met die hoogste aantal toeriste wat in dié provinsie aangekom het, naamlik 697 132. Ander hoogtepunte sluit in:

  • Die Wes-Kaap het die hoogste buitelandse direkte spandering aangemeld (R14,4 miljard)
  • Uit bronmarkte was ses uit die top-10 oorsese markte van Europa met Nederland (91%-herstel teenoor 2019) en Switserland (94%-herstel teenoor 2019)
  • Die Wes-Kaapse plaaslike mark het altesaam 3,4 miljoen reise in 2022 aangemeld, ʼn verhoging van 290% jaar-op-jaar, met ʼn herstel van 78% teenoor 2019
  • Plaaslike reise wat na die Wes-Kaap onderneem is, het totale spandering van R12,7 miljard in 2022 verteenwoordig – ʼn algehele herstel teenoor 2019.

“Toerismeherstel in die Wes-Kaap bly indrukwekkend en dra baie by tot ons ekonomie en werkskepping,” voeg Wenger by. “Ons sal voortgaan om ons bestemming te bly bemark sodat ons selfs nog meer besoekers kan lok.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

WILLEM ·

Welgedaan – dit wys jou met die regte personeel kan dit gedoen word. Waar is die res van RSA?

Harley Davidson ·

Die hele Suid-Afrika kon die beste in Afrika gewees het maar toe kom die ANC regime met die hulp van die NP regime en die res is hartseer geskiedenis

Harley Davidson ·

Kry die weskaap onafhanklik en jy het die beste land in Afrika.

Nici ·

As Kaapstad lughawe die beste is in Afrika dan se dit nie veel van Afrika standaarde nie. Ek vind dit ‘n plek om te verdwaal en geen idee te he waar om te ry of parkeer nie. Dis vreeslik sleg ontwerp met geen logiese orde nie.

Frederik C ·

Die beste in Afrika, beteken nie noodwendig dat dit goed is nie.

Nici ·

As Kaapstad lughawe die beste is in Afrika dan se dit nie veel van Afrika standaarde nie. Ek vind dit ‘n plek om te verdwaal en geen idee te he waar om te ry of parkeer nie. Dis vreeslik sleg ontwerp met geen logiese orde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.