Kaapstad wil eie ‘Stadspolisiemag’ hê

Die Stad Kaapstad se LEAP-beamptes. (Foto: City of Cape Town/Facebook)

Die Stad Kaapstad wil sy plaaslike wetstoepassingsowerhede se polisiëringsmagte uitbrei sodat dié beamptes, nes die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die volle mag het om misdade in die Wes-Kaap te bekamp en te ondersoek.

“Ons wil ons eie volwaardige Stadspolisiemag hê, met al die nodige magte om misdaad in Kaapstad drasties te verminder,” het Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester, gesê.

Hill-Lewis het Donderdag aangekondig dat hy ʼn formele versoek aan die polisieminister, Bheki Cele, gerig het om hierdie misdaadbekampingsmagte te magtig.

“Ons is in die proses om ons munisipale polisie tot ʼn behoorlike misdaadbekampingsmag te ontwikkel, maar ons sal baie meer moet doen om die oorlog teen misdaad te wen, en ons wíl meer doen,” het hy gesê.

“Ons is ʼn bekwame plaaslike regering en in staat om baie meer te bereik as die nasionale regering net meer mag aan ons oordra.”

Die drukgroep Action Society het reeds gesê hy ondersteun die plan volkome.

“Met bendegeweld en skietvoorvalle wat in die Wes-Kaap toeneem, is dit onmoontlik vir die polisie om gemeenskappe doeltreffend te dien. Daarom maak dit nie sin om die mag nasionaal gesetel te hê nie, maar eerder om dit aan plaaslike regerings uit te brei,” het Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, gesê.

Die Stad se metropolisie en wetstoepassingsbeamptes val nie onder die vaandel van die SAPD nie en is dus beperk in die magte wat die Grondwet aan hulle verleen. Dié beamptes se magte is hoofsaaklik beperk tot misdaadvoorkoming, met ʼn beperkte ruimte vir misdaadondersoeke.

“Deur verder as misdaadvoorkoming te gaan, kan ons soveel meer doen, soos om die SAPD te help om dossiere vir vervolging gereed te maak. Tans moet ons beamptes staatmaak op ʼn polisiediens wat oorweldig is en dus nie die vermoë het om misdaad behoorlik te ondersoek nie,” het Hill-Lewis gesê.

ʼn Onlangse studie het bevind 48% van die SAPD se speurders in die Wes-Kaap het ʼn sakelading van meer as 200 dossiere per beampte. Dit is meer as 300% bo die norm. Normaalweg sal daar tussen 50 en 60 dossiere per beampte wees.

Hierdie probleem word net vererger deur die huidige tekort aan meer as 500 SAPD-speurders in die provinsie.

In ʼn tydperk van net drie maande (tussen April en Junie vanjaar) is byna 200 strafregtelike sake voor die hof gebring, maar eindelik van die hofrol geskrap weens die SAPD se ondoeltreffendheid.

“Dit is 198 sake wat nooit deur die wet getoets sal word nie, 198 misdade waar vermeende oortreders net eenvoudig vry rondloop,” het Hill-Lewis gesê.

Die Stad Kaapstad se LEAP-beamptes. (Foto: City of Cape Town/Facebook)

Hy voer aan dat daar egter ʼn praktiese, realistiese en werkbare manier is om hierdie probleem op te los – naamlik om die plaaslike regering se wetstoepassingsbeamptes se magte te verbreed.

“As die minister nie bereid is om ons eie volwaardige Stadspolisiemag aan ons te gee nie, sal ons onverpoos veg om dit te verwesenlik. Ons is dit verskuldig aan die miljoene mense in Kaapstad wat in vrees vir misdaad leef.”

Die Stad Kaapstad het vanjaar R5,4 miljard vir sy veiligheidsbegroting behartig, met genoeg finansiering om nog 230 beamptes en hulppersoneel aan te stel. Sowat 100 beamptes sal ook binnekort na die Kaapse middestad ontplooi word.

In die komende maande beplan Hill-Lewis om ʼn fasiliteitsbeskermingseenheid van 80 beamptes op die been te bring, wat belangrike munisipale geboue teen vandalisme en personeel teen gewelddadige aanvalle moet beskerm. Dié span ontvang reeds opleiding.

Die Stad se verkeersdienste sal ook binnekort die inwerkingstelling van ʼn 24-uur-hoofwegpatrollie-eenheid sien. Die eenheid sal help om verkeersdienste te verbeter, sterftes op die pad te verminder en wet en orde op die paaie te handhaaf.

Miljoene rande is ook opsy gesit om buurtwagte se opleiding uit te brei en toerusting by te werk.

“Die Stad Kaapstad het die aptyt én entoesiasme om meer polisiëringsmagte te takel en sodoende ook die SAPD by te staan in hul pligte,” het Hill-Lewis afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cecilia ·

Uiteindelik doen iemand iets prakties met my belasting geld

domheks ·

ou hoed sal dit nooit toelaat nie, dan staan sy SWAK bestuur soos ‘n seer vinger uit…

Keelvol ·

Dit gaan nie oor wat hy wil hê nie. Die grondwet sê 1 polisiemag, 1 weermag. Die metropolisie het inderdaad geen bestaans reg nie.

Lourens CFG ·

Die lede moet ook net lede van die Wes-Kaap in diens neem, sodat mens nie gevra word “where is your street” nie, en dit na jy jou adres gee.

VaalDonkie ·

Ek mos eenkeer mos ‘n saak van gewapende roof aanmeld en die ou het nie eens geweet wat die hoofstraat se naam is nie (of dat dit die naam van die hoofstraat was nie). En die kersie op die koek? die bra kon nie skryf nie (en dus heel moontlik ook nie lees nie).

Di ·

DIT is die beste opsie – die meeste wat nou in die polisiemag is, is self kriminele

VaalDonkie ·

Of gee sommer net ons buurtwagte meer mag om arrestasies te doen en te patrolleer.

Snowball ·

Op die foto’s is van die magte redelik rond om die middel. Hoe beweeg hulle flink om iets agterna te sit of te koes? Hoop hulle slaag eers fiksheidstoetse anders lyk hulle soos die meerderheid dikkes huidiglik in SAPS.

Pietertjie ·

Kom ons kyk of Hoed pro-misdaadbekamping is. Indien hy nie onmiddellik toestemming verleen nie (hy hoef verder niks te doen nie), is die teendeel waar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.