Kabeldiefstal-sindikaat gevonnis

Argieffoto bloot ter illustrasie(Foto: SAPD Gauteng)

Vyf lede van ʼn Johannesburg-gebaseerde sindikaat wat tussen 2012 en 2015 oorhoofse koperkabels ter waarde van miljoene rand van Telkom, Transnet en Eskom gesteel het, is in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Malome Matsetela, Amos Ngobeni, Samuel Ngwenya, Linda Malopi en Wilson Khoza is ook skuldig bevind en gevonnis op aanklag van geldwassery en afpersing, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

  • Matsetela is altesaam 77 jaar tronkstraf opgelê vir die diefstal van koperkabels, afpersing en geldwassery. Hy is 40 jaar tronkstraf opgelê vir die diefstal van koperkabels tussen Pofadder en Kenhard, Steinkopf en Port Nolloth, Bedfordview, Malvern East in Gauteng en Stanhope in Malvern. Die hof het hom 27 jaar tronkstraf opgelê vir afpersing en 10 jaar vir vier aanklagte van geldwassery. Die hof het bepaal dat van die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word. Hy sal effektief 18 jaar tronkstraf uitdien.
  • Ngobeni is altesaam 39 jaar tronkstraf opgelê, maar die hof het bepaal dat van sy vonnisse ook gelyklopend uitgedien sal word. Hy is agt jaar opgelê vir afpersing, 23 jaar vir die diefstal van kabels tussen Oudtshoorn en Prins Albert, Pofadder en Kenhardt, Steinkopf en Port Nolloth en in Williston. Hy is ook agt jaar tronkstraf opgelê op vier aanklagte van geldwassery. Hy sal effektief 15 jaar tronkstraf uitdien.
  • Ngwenya is altesaam 35 jaar tronkstraf opgelê. Hy is agt jaar opgelê vir afpersing, 27 jaar vir die diefstal van koperkabels tussen Pofadder en Kenhardt, Steinkopf en Port Nolloth en in Williston. Hy sal effektief agt jaar tronkstraf uitdien omdat van sy vonnisse ook gelyklopend uitgedien sal word.
  • Malopi sal effektief 17 jaar tronkstraf uitdien in plaas van die 31 jaar tronkstraf wat hy opgelê is omdat van sy vonnisse gelyklopend uitgedien sal word. Hy is agt jaar opgelê vir afpersing, 15 jaar vir die diefstal van kabels tussen Pofadder en Kenhardt en Steinkopf en Port Nolloth. Hy is ook agt jaar opgelê op drie aanklagte van geldwassery.
  • Khoza sal ook agt jaar uitdien in plaas van die 18 jaar tronkstraf wat hy opgelê is. Hy is agt jaar opgelê vir afpersing en 10 jaar vir die diefstal van kabels in Kimberley en Brakpan.

“Die sindikaat se plundertog van infrastruktuur het op 10 November 2012 tot ʼn einde gekom toe ʼn stil alarm afgegaan het toe Ngobeni en Ngwenya die Telkom-kabels tussen Oudtshoorn en Prins Albert gesny het,” sê Ntabazalila. “Die polisie het hulle in hegtenis geneem en het gehoor hoe hulle na ʼn derde verdagte verwys wat die gesteelde Telkom-kabel sou oplaai. Die polisie het ʼn verdagte voertuig opgemerk en die verdagte agternagesit.”

Die bestuurder van die motor het stilgehou en weggehardloop.

“Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in George het die ondersoek oorgeneem weens die toename in diefstal van Telkom-kabels in die suidelike Kaap in daardie stadium.”

Die Valke het ontdek dat die voertuig by ʼn motorhuurmaatskappy, Mundzhedzi Consulting in Diepkloof, Soweto, gehuur is. Die maatskappy behoort aan Takalani Makananisi.

Verdere ondersoek het onthul dat die sindikaat die voertuie gebruik het om die Telkom-, Eskom- en Transnet-kabels in die Wes-Kaap en Noord-Kaap te steel. Dit is daarna na Malvern, Johannesburg vervoer waar dit by Malvern Scrap Metal afgelaai is. Malvern Scrap Metal behoort aan Matsetela. Matsetela het daarna die gesteelde koperkabels na SA Metals, Bedfordview, geneem waar hy dit verkoop het. Hy het die opbrengs dan met die res van die beskuldigdes gedeel.

Senior staatsadvokaat John Ryneveld het aan die hof gesê Matsetela het tussen 1 November 2012 en 2 September 2014 meer as R15 miljoen uit 241 transaksies van SA Metals ontvang.

Ryneveld het aan die hof gesê Ngobeni het tussen 4 Junie 2013 en 13 Augustus 2014 altesaam R119 480 ontvang.

Nwenya het R506 114 ontvang tussen November 2012 en April 2014.

Khoza het R446 925 tussen 4 Maart 2013 en 29 Julie 2014 ontvang.

Adv. Nicolette Bell, Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die vonnisse verwelkom. “Ek loof die ondersoek- en vervolgingspanne vir die werk wat hulle gedoen het om seker te maak die beskuldigdes word in hegtenis geneem en suksesvol vervolg vir die plundery van staatsinfrastruktuur. Koperkabeldiefstal het ʼn nadelige impak op dienslewering en die ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SomeOne ·

waarom word vonnisse as gelyklopend toegewys, skelm is eenmaal skelm en altyd skelm, hou hul langer uit die gemeenskap, soos nwenya en khoza , na hul 8 jaar van lekker bly, het elkeen ‘n goeie klomp geld om te bestee

Eugene ·

154 jaar vonnis en die regter laat alles saamloop en hy gaan 18 jaar sit. Hoekom die moeite doen om so baie vonnisse te gee as hy nie een gaan uitdien nie. Ons regters en landdroste is te behep met die kriminele se kastige regte. Kriminele soos die wat miljoene rande se infrastruktuur skade aanrig moet permanent uit die samelewing verwyder word

SjN ·

Hul kan nie somme maak of tel nie, kyk maar net Oscar se vrylating berekeninge?

Amelia ·

stem saam mense is dood agv kabel diewe bv suurstof ) so na regte is hul moordenaars maar nou word vonisse gelyklopend uitgedien dis n skande as hy uitkom heerlike lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.