‘Kamma-eiendomsagent’ vas

(Argieffoto)

’n 47-jarige man is in Durban in hegtenis geneem nadat hy glo homself as ’n eiendomsagent voorgedoen het en huise verkoop het sonder die betrokke huiseienaars se medewete.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die verdagte het huise te koop in Umlazi en die groter Durban-omgewing op sosiale media geadverteer.

’n Ondersoek het later aan die lig gebring dat die verdagte potensiële kopers sover gekry het om ’n koopaanbod te teken nadat hulle slegs foto’s van die huise gesien het.

Die huise in die foto’s was egter nooit te koop nie.

Volgens Gwala het verskeie potensiële kopers ’n koopaanbod van R220 000 vir ’n huis in Umlazi ingedien net om later uit te vind dat die huis wat die verdagte aan hulle wou verkoop, nie te koop is nie. Die eienaar van die huis was boonop onbewus daarvan dat sy huis te koop aangebied word.

Die saak is onder die polisie se aandag gebring waarna die verdagte Maandag by sy gehuurde kantoor in Windermere in hegtenis geneem is.

Daar is beslag gelê op sy skootrekenaar, selfoon en bedrieglike dokumente.

Die verdagte sal na verwagting vandag in die hof verskyn op aanklag van korrupsie.

Die polisie waarsku nou die publiek teen bedrog van dié aard. Die publiek word ook aangeraai om eiendomsagente se identiteit te verifieer en meer navorsing te doen oor die huise wat te koop aangebied word voordat hulle enige dokumente onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Hoe het die “agent” geld gemaak as die huise nooit regtig verkoop is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.