Kapenaars maak harte oop terwyl brand steeds woed

Inwoners van verskeie buurte is reeds gevra om hul huise te verlaat. (Foto: Dylan Moore/Vredehoek-Facebook-blad)

Die brand wat sowat 24 uur gelede aan die voet van Tafelberg in die omgewing van die Rhodes-gedenkteken begin het, het nou ook in die rigting van Vredehoek versprei. Inwoners van Peppertreeweg het reeds begin om die gebied as voorsorgmaatreël te verlaat.

Inwoners van Disa Park is ʼn kort ruk gelede ook gevra om hul wonings te verlaat, terwyl rampbestuurspanne op pad is na Zonnebloem om die situasie daar te bepaal.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Maandagoggend gesê alle pogings wentel in hierdie stadium om aktiewe brandbestryding, hoewel sommige plekke moeilik is om te bereik. Lugbrandbestryding sal hopelik vandag ingespan kan word om die vlamme te blus. Dit sal egter alles afhang van die heersende windtoestand.

Talle geboue is in puin gelaat. (Foto: Stad Kaapstad)

Smith sê benewens die mense in Vredehoek wat hul huise moes verlaat, was geen ander ontruimings oornag nodig nie.

Die brand woed reeds byna 24 uur lank. (Foto: Gift of the Givers/Facebook)

Minstens twee brandbestryders is beseer, maar geen beserings onder burgerlikes is nog bevestig nie.

“Daar is tans baie bespiegeling oor bykomende brande wat begin is en of die oorspronklike brand doelbewus gestig is,” sê Smith.

“Dit sal deel vorm van die ondersoek, maar die stad kan bevestig dat ʼn verdagte in sy 30’s gisteraand in die omgewing van Duiwelspiek in hegtenis geneem is.”

Die polisie ondersoek die saak.

Talle eiendomme, waaronder staateiendom, private huise, die restaurant by die Rhodes-gedenkteken en historiese strukture soos Mostert se Meul het groot skade in die brand opgedoen.

Studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) het reeds die kampus verlaat.

‘n Gebou van die Universiteit van Kaapstad in ligte laaie. (Foto: Stad Kaapstad)

Prof. Mamokgethi Phakeng, vise-kanselier van die UK, het aangekondig in die lig van die brand by die Rondebosch-kampus en die ontruiming van koshuise word alle akademiese bedrywighede by die UK Maandag en Dinsdag voorlopig opgeskort.

Die organisasie Gift of the Givers het reeds minstens 4 000 kospakkies aan studente van die Universiteit van Kaapstad uitgedeel. (Foto: Gift of the Givers/Facebook)

“Die veiligheid van studente en personeel is die belangrikste. Vir veiligheidsredes sal die kampus gesluit word en niemand anders behalwe die nooddienste sal toegang kry nie. Ons is almal bekommerd oor die omvang van die skade aan die Rondebosch-kampus en sal meer inligting bekend maak sodra ons kan,” het Phakeng gesê.

Kos en noodbehuising is reeds beskikbaar gestel vir studente wat Sondag hul koshuise moes verlaat.

Die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers was een van dié wat ingegryp het om items soos seep en tandepasta, asook warm etes, aan studente te help verskaf. Die organisasie het teen gisteraand reeds 4 000 etes aan studente verskaf.

Phakeng sê UK is uiters dankbaar teenoor diegene wat kos en ander noodsaaklike items vir studente geskenk het, asook almal wat ander soort steun aangebied het.

“Ons bedank alle nooddiensondersteuningspersoneel wat saam met die universiteit, die Stad Kaapstad en SANParke gewerk het.

“Ons gedagtes is in hierdie tyd veral by die ongelooflike brandbestryders.”

Ujala Satgoor, uitvoerende hoof van UK-biblioteke, sê die leeskamer van die Jagger-biblioteek is heeltemal in die brand verwoes. Die brandopsporingstelsel in die gebou het ingeskop, die brandluike het toegemaak en ʼn verdere verspreiding van die brand na die res van die gebou kon verhoed word.

“Sommige van ons waardevolle versamelings het verlore gegaan, maar ʼn volle assessering kan eers gedoen word sodra die gebou veilig is en ons kan terugkeer.

“ʼn Amptelike verklaring sal uitgereik word en tot dan vra ek mense om nie te spekuleer nie,” sê Satgoor.

Benewens die skenkings aan studente by die UK, het mense ook ingespring om noodvoorraad aan nooddienswerkers beskikbaar te stel. Smith sê mense het dadelik hul “harte en beursies oopgemaak” om te help.

Weldoeners het ook hul harte vir die stad se nooddienswerkers oopgemaak. Skenkings het ingestroom. (Foto: Stad Kaapstad)

Charlotte Powell, woordvoerder van die Stad Kaapstad se ramprisikobestuursentrum, het ʼn beroep gedoen op inwoners wat gevra word om die gebied te verlaat, om chroniese medisyne, ID’s, paspoorte, kontant, selfone, gebottelde water, nie-bederfbare kos, ʼn stel klere, ʼn kombers en toiletware saam te neem.

“Indien hulle gevra word om die gebied te verlaat, moet inwoners nat handdoeke of lappe om hul monde en gesigte draai.”

Powell sê die Dierebeskermingsvereniging (DBV) sal hulp verleen met enige diere wat in die harwar verlore raak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Ek wou my huis ook oopmaak vir hawelose UCT studente, maar ek wonder nou: is my huis, my motor, my velkleur, my kleredrag, my eetgerei ens ens darem aanvaarbaar vir hulle? Is ek nie dalk te koloniaal vir hulle nie? Hulle betoog mos gedurig vir decolonise education.

Anoniem ·

Ek sou ook nie kwalifiseer nie Jaco, ekself, my eetgerei, huis se plafonne, motors, vloerteëls en selfs my Foxterriër is te lig van gelaat.

Magrietha ·

Help asb onvoorwaardelik, die wiel kan draai, as ons nader gebly het, sou ons so graag wou help…..staan saam

Mariana ·

Dit is ‘n aaklige situasie, soveel onnodige skade. Maar steeds bly die vraag was dit kwaadwillig. Ek wil antw op Jaco se kommentaar en sê ja mens weet nie hoe jy dit moet benader nie, maar ongeag gaan dit ook dan daaroor om mense te help en seker nie kwaad met kwaad te vergeld nie. As jy nie reg voel om jou huis oop te stel nie, moet dan nie. Die ou wêreld raak elke dag ‘n leliker plek.

quartus ·

Ek glo vas dit is brandstigting en dat dit verband hou met die komende munisipale verkiesings

TO ·

In hegtenis geneem, regtig, gratis geleerdheid, gratis blyplek, gratis kos om op parool uit te kom en met nog aan te jaag. Miljoene rande se skade, mense wat moet ontruim, duisende diertjies dood, brandweermanne se lewens in gevaar met die sterk winde en hulle lag lekker want die belastingbetalers sal net meer belas word

Stephen ·

Just curious if the Kolisi funding appeal includes white students to be assisted?

Anoniem ·

Ai !!! Ai!!! wat ‘n tragiese gebeurtenis. Sou daar skuldiges wees wat die brand veroorsaak het…………………..wat se finansiele bydrae sal hulle kan maak om die skade te herstel?????!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.