Odette Barkhuizen (43) is omstreeks 13:30 die middag in die oprit na haar kantoor deur kapers doodgeskiet voordat hulle met haar voertuig gevlug het. Joel Fernandes, ʼn familielid van Barkhuizen, het gesê sy het in die oprit van ʼn huis in Oakdene, Glenvista, wat haar maatskappy as ʼn kantoor gebruik, stilgehou en uit haar motor geklim.
“Volgens die beeldmateriaal van veiligheidskameras was die mans [kapers] reeds op die erf,” het Fernandes gesê. “Hulle het haar in die kop en bors geskiet en met haar motor gevlug. Die motor is omtrent ʼn uur later verlate naby Erongolaan gevind.”
Volgens Fernandes was daar twee persone in die huis wat die skote gehoor het. Dit is nie in hierdie stadium duidelik of enige van Barkhuizen se persoonlike besittings gesteel is nie.
Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig dat paramedici na die toneel geroep is, maar volgens haar was Barkhuizen reeds dood toe hulle arriveer. “Sy is op die toneel dood verklaar en daar was niks verder wat die paramedici vir haar kon doen nie,” het sy gesê.
Barkhuizen was die eienaar van ʼn maatskappy wat glas herstel en vervang. Sy was getroud en die ma van twee tienerseuns, ongeveer 15 en 19 jaar oud, het Fernandes gesê.
“Dit gaan glad nie goed met haar man en kinders nie. Hulle het berading ontvang, maar hulle hanteer haar dood nie goed nie. Haar begrafnis sal êrens in volgende week plaasvind, maar dit is vir die familie moeilik om nou begrafnisreëlings te tref en terselfdertyd hierdie skok te verwerk.”
Die polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
37 Kommentare
As ma van twee seuns haar kinders se ouderdom kan ek myself net indink hoe haar kinders moet voel. Ek kry hulle bitter jammer.
Wat word van ons land.jy is nerens meer veilig nie.sterkte aan die man en kinders dis tragies.hou hulle in my gebede.
Dis nie ń kaping. Dis koelbloedige moord. Kaping is net ń vals front want hoekom los jy die kar ń uur later. Siek goed.
Ek voel so jammer vir haar familie, kinders en vriende. Nog ‘n sinnelose moord. Nog ‘n familie wat getraumatiseerd is.
Dit wat Irah sê was ook my onmiddelike idee toe ek dit lees. Dit was geen kaping maar vooraf beplande moord met die steel van die voertuig as dekmantel.