‘Kapers’ vas wat wegjaag met vragmotor vol drank

Die kapers was vermoedelik op soek na die besending alkohol op die vragmotor. (Foto: SA Polisie)

Drie mans is agter tralies nadat hulle na bewering ʼn vragmotor met ʼn besending alkohol Donderdagoggend in Port Elizabeth gekaap het.

Die vragmotorbestuurder en twee passasiers het in Ou Grahamstadweg stilgehou waar hulle besig met ʼn aflewering was, het kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, gesê.

Vyf aanvallers het hulle uit die vragmotor geboender en in ʼn minibus ingedwing. Die bussie en vragmotor het daarna weggery waarna die vragmotor na die N2-hoofweg afgedraai en weggery het.

Die drie slagoffers is in Booysens Park afgelaai.

Hulle het alarm gemaak en lede van die Port Elizabeth-blitspatrollie en die Kabega Park-misdaadvoorkomingseenheid het die vragmotor op die hoofweg opgemerk en probeer voorkeer.

“Die vragmotor het al vinniger gery en ʼn jaagtog het ontstaan. Die verdagtes het glo op die polisie losgebrand en in die ry items uit die vragmotor begin gooi,” het Janse van Rensburg gesê.

Twee van die vermeende kapers is langs die hoofweg platgetrek. (Foto: SA Polisie)

“Hulle het van die pad af gejaag, al drie het uitgespring en laat spaander. Blitspatrollielede het hulle te voet agternagesit en twee verdagtes aangekeer. Die derde persoon is deur die Kabega Park-misdaadvoorkomingseenheid aangekeer.”

Die polisie het waarskuwingskote geskiet en een van die mans is in die hand gewond.

“ʼn Speelgoedwapen, ʼn warsender (“jamming device”), ʼn motorbattery en klere is verstrooi in die bosse gevind.”

Die drie word aangekla van kaping en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Hulle verskyn later in die landdroshof in Port Elizabeth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blitse ·

Gelukkig is daar nog iets soos blitspatrollie. Hulle kan blykbaar nog hardloop. Polisie kan lankal nie meer nie. Net jammer hulle het in die hand geskiet as die teiken heelwat groter is.

Gert van Wierdapark ·

En toe word hul Groot Dors n Groot Probleem!!!

Niklaas ·

Amper was daar n groot en harde dronkword partytjie die naweek. Tronk se afgewaterde koffie is nou al drinkding wat wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.