‘Karoolam’ geniet nou beskermde status

“As jy in die Karooveld stap en jy breek ʼn takkie af en vryf dit tussen jou vingers … jy ruik die geure.” (Foto: Karoo Meat of Origin/Facebook)

Ná ʼn proses wat jare lank geduur en reusewerk behels het, sal “Karoolam” voortaan dieselfde beskermde status geniet as byvoorbeeld ʼn produk soos rooibos, Champagne, Parmesaan-kaas of Parma-ham nadat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling Karoolam as geografiese indikator (bekend as GI’s) geregistreer het.

Dit beteken produsente wat hul lamsvleis voortaan as Karoolam wil bemark, sal bewys moet kan lewer dat die vleis aan ʼn spesifieke stel reëls voldoen en veral uit ʼn spesifieke geografiese gebied afkomstig is.

Dit bied egter ook veel groter beskerming én ʼn unieke bemarkingsgeleentheid aan boere wie se lamsvleis wel aan die vereistes voldoen nadat die term jare lank misbruik is deur produsente wie se vleis nié van hierdie unieke streek afkomstig is nie. Dit sal ook help om die misbruik van die naam Karoolam by restaurante, hotelle en spyseniers te voorkom.

Johann Kirsten, professor in landbou-ekonomie, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing en ʼn man wat hom as direkteur van die Karoo Lamb Consortium sedert 2011 saam met ʼn groot groep belanghebbendes vir groter beskerming van die naam Karoolam beywer het, het die aankondiging verwelkom.

Kirsten sê dit was ʼn lang proses om die regulasies in Suid-Afrika vir die beskerming en registrasie van GI’s te vestig en af te handel. Suid-Afrika moes oor hierdie regulasies beskik as deel van die SA-EU- vryhandelsooreenkoms om Europese name van oorsprong, byvoorbeeld dié van vleis en kaas, namens die Europese Unie (EU) hier te beskerm. Om dit te doen, moes Suid-Afrika eers bewys lewer dat hy sy eie unieke produkte ook kan beskerm.

Rooibos was die eerste om dié beskerming te ontvang, weliswaar nie onder die nuwe regulasies van die departement van landbou nie.

Kirsten verduidelik die registrasie beteken enigiemand wat met Karoolam handel dryf, moet voldoen aan die definisie daarvoor uitgestippel.

“Jy moet byvoorbeeld bewys dat jou plaas in die Karoo is en jou diere nie uit ʼn voerkraal bemark word nie. Daar moet ook volledige naspeurbaarheid wees en goeie vleishigiëne gehandhaaf word sodat die produkte se reputasie en eienskappe beskerm kan word,” sê Kirsten.

Talle produsente hou hul lamsvleis as Karoolam aan verbruikers voor en Kirsten sê dit was tot dusver maklik om die naam te misbruik.

Produsente wat wel aan die vereistes voldoen, kan deur die Karoo Lamb Consortium werk om die sertifisering te bekom en met geruste hart en met trots hul produk as Karoolam bemark.

Kirsten sê dit was ʼn omvattende proses om uiteindelik tot op die punt van registrasie te kom. Daar is onder meer voerproewe gedoen, die Landbounavorsingsraad het ontledings gedoen, ʼn chemikus het gasse en sensoriese profiele gedoen, botaniste het spesifieke bossies geïdentifiseer en distrikte is afgebaken.

Talle produsente hou hul lamsvleis as Karoolam aan verbruikers voor en dit was tot dusver maklik om die naam te misbruik. (Foto: Karoo Meat of Origin/Facebook)

“As jy in die Karooveld stap en jy breek ʼn takkie af en vryf dit tussen jou vingers … jy ruik die geure. Alles word vasgevang in die vleis. Roosmaryn, kruie … Dit is heeltemal anders as ʼn produk wat van ʼn voerkraal of lusernland kom.

“Die voer bepaal die eienskappe van die vleis.”

Die skape se voer, in hierdie geval die unieke Karoo-bossies wat net in ‘n spesifieke geografiese gebied aangetref word, gee aan die vleis ‘n besondere smaak. (Foto: Karoo Meat of Origin/Facebook)

Kirsten vertrou dat groot winkelgroepe, soos Woolworths en Checkers, die waarde van hierdie eg Suid-Afrikaanse produk sal besef en dit met trots aan Suid-Afrikaners beskikbaar stel om sodoende aan hulle te wys dat hul lam wél uit die Karoo kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.