Kenners oor noodbegroting: Onsekerheid stuit plaaslike beleggings

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die noodbegroting was in wese bloot ʼn meganisme vir die parlement om die finansiële en monetêre besluite wat reeds gedurende die Covid-19-krisis geneem is, goed te keur en die regerende ANC – nie noodwendig die breë gemeenskap nie – te oortuig dat daar ʼn skuldkrisis dreig.

Só het dr. Azar Jammine, hoofekonoom van Econometrix, gesê tydens ʼn virtuele dinkskrum wat die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool op 25 Junie gehou het. ʼn Paneel van kenners het die minister van finansies, Tito Mboweni, se noodbegroting bespreek en na moontlike oplossings vir Suid-Afrika se uitdagings gesoek.

Die dinkskrum kom nadat Mboweni Woensdag aangekondig het dat die Covid-19-pandemie en gevolglike afsondering ʼn tekort van 15,7% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir Suid-Afrika veroorsaak het, wat uitloop op ʼn begrotingstekort van R761 miljard. Dit is meer as dubbel die aanvanklike tekort van R370 miljard wat die regering voor die uitbreek van Covid-19 in Suid-Afrika voorsien het.

Die paneel was dit eens dat die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds in groot moeilikheid was voordat die Covid-19-krisis getref het en dat die huidige situasie bloot ʼn vergrootglas oor die reeds swak aspekte van die ekonomie plaas.

Tydens sy noodbegroting het Mboweni maer jare vir die wêreld en Suid-Afrika se ekonomie in die vooruitsig gestel. Jammine sê die kern van die probleem is dat ekonomiese aktiwiteit drasties afgeneem het, en belastinginkomste dus ook.

Dít gaan Suid-Afrika byna onvermydelik op langer termyn in ʼn skuldkrisis dompel.

“Mboweni het oor ʼn dreigende skuldkrisis gewaarsku en sodoende ʼn boodskap aan die regering en ander partye gestuur dat hulle nie nou met grondonteiening en nasionalisering moet lol nie, daar is groter probleme om op te fokus,” sê Jammine.

Hy glo dat die regering hierdie keer die risiko van ʼn dreigende skuldkrisis baie ernstig opneem en onderneem om die leisels van die openbare skuldtrajek op langer termyn in te trek. Hoewel dit mooi beloftes is, gee Jammine toe dat die meeste mense skepties sal bly te midde van populisme.

“Mense sal skepties bly omdat die regering se inwerkingstellingsrekord nie waffers is nie. Mboweni het nie gesê presies hoe hy openbaresektor-salarisse gaan sny nie.”

Suid-Afrika is tans baie afhanklik van buitelandse beleggings, maar die huidige situasie vra vir plaaslike beleggings. Tog sê Jammine dat die privaat sektor steeds belê, dis eerder die regering en staatsbeheerde ondernemings wat baie min tot kapitaalbeleggings bydra. “Weens korrupsie en onbevoegdheid het openbaresektor-belegging drasties afgeneem, in stryd met hoe dit in ʼn ontwikkelingstaat behoort te wees.”

Tog stuit die onsekerheid wat deur die wetlike en beleidsraamwerke geskep word, plaaslike beleggings tot groot mate.

Is daar oplossings?

Die grootste uitdaging wat Suid-Afrika in die gesig staar, is leierskap en strategiese visie, glo prof. André Duvenhage. Op ʼn praktiese vlak behoort daar strukturele veranderinge in die ekonomiese sektore en die regering gemaak te word, onnodige uitgawes moet besnoei en vervaardiging aangemoedig word.

“Die regering behoort daarop te fokus om mense byeen te bring, doeltreffende stelsels te ontwerp en verwagtinge te verlaag, veral met die plaaslike verkiesing van 2021 om die draai,” sê hy.

Theo Vorster beklemtoon Mboweni se uitlating dat die manier waarop sake gedoen word, moet verander. “Dis ʼn bewese feit dat die regering nie groot projekte of uitgawes kan bestuur nie. Hierdie feit is net deur Covid-19 onder die vergrootglas geplaas. Die privaat sektor moet deel van die langtermynoplossing vorm.”

Albert van Zyl meen die probleem is dat die openbare sektor nie verantwoordbaar gehou word nie. “Die media en die gemeenskap moet die regering verantwoordbaar hou, en ons moet ook verantwoordelikheid vir ons eie toekoms neem.”

Jammine meen dat die ekonomiese krisis slegs omgekeer kan word deur op die hart van ekonomiese vooruitgang te fokus, naamlik opvoedkundige uitkomste.

“Produktiwiteitsteikens word nie bereik nie danksy swak onderrig. Die land kan slegs gered word deur die onderwys te verbeter. Goeie voorbeelde van waar dit gewerk het, is Indië en China. Baie dinge sal regkom as die land se burgers goeie onderrig ontvang het, daar sal ook meer gelykheid wees. Maar dit sal minstens ʼn dekade neem om te verwerklik,” sê hy.

Hoewel Jammine die logika in die aanvanklike bekendstelling van BBEEE kan insien, is die meganisme daarvan foutief, aangesien dit nie by mense die regte waardes, soos goeie opleiding, harde werk en verantwoordelikheid, om ekonomiese groei te bewerkstellig, tuisbring nie.

“Daar kan enorme geleenthede wees ná Covid-19. Die geheim in Suid-Afrika is om mense hiervoor op te lei en te bemagtig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Wat dan nou van die uitskuif en toemaak van die wit rol/beheer in die ekonomie? Daars soveel lelike goed oor “wit monopolie kapitaal” gesê en daars min of meer gedreig dat lockdown die begin is van radikale ekonomiese transformasie. As al dié goed dan die wonder-oplossings is, waarom is die onlangse begroting stil daaroor? Ek het nogal gehoop dit word uiteindelik ingestel, want dan moet ek uit SA gedeporteer word. Ek begin met liefde in ‘n land waar net my kwalifikasies, ondervinding en bereidheid om hard te werk erken word en en nie weens my “verkeerde” velkleur tot permanente armoede gedwing word nie.

Vrijburger ·

Te laat, te laat – nog net 14% van ons totale batewaarde is nog in die droewige land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.