Kenners sê burgery moet as teenwig vir staatsmag optree

huis eiendom

Argieffoto.

Die sakeorganisasie Sakeliga sê praktiese kwessies moet gepak word om rigting te gee aan die debat oor eiendomsreg. Die organisasie het Woensdag tydens ʼn seminaar met ander instellings en kenners vergader om ʼn verklaring te help formuleer wat gebruik kan word as ʼn verwysingsdokument tydens die debat.

“Die deklarasie moet verduidelik hoekom ons (onteiening) teenstaan en wat ons as alternatiewe voorstel, sodat ons ʼn positiewe bydrae kan lewer,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga gesê.

Russell Lamberti, ekonoom, markstrateeg en medestigter van die Ludwig von Mises Instituut van Suider-Afrika, het by die beraad gewaarsku dat ʼn gemeenskap neig na chaos sodra weggedoen word met eiendomsreg. Hy sê eiendom is fundamenteel tot optrede en wanneer dié reg weggeneem of streng voorgeskryf word, veroorsaak dit apatie in ʼn gemeenskap. “Mense begin glo die staat, wat nou die eienaar of voog (van eiendom) is, gaan namens hulle optree,” het Lamberti gesê.

Lamberti sê besit van eiendom moet ook beteken dat burgers beheer oor die eiendom behou. “Eienaarskap en beheer is nou verwant. State beperk deesdae eiendomsreg en neem nie net burgers se eiendom deur beslaglegging nie, maar ook deur voorskrifte en bepalings oor hóé hulle die eiendom mag gebruik.”

Dié stelselmatige oorneem van burgers se beheer oor hulle eiendom vind onder meer gestalte in beleid soos swart ekonomiese bemagtiging, waar daar beperkings geplaas word op hoe ʼn onderneming bestuur mag word, het hy gesê.

Lamberti sê mense besit dalk nie eiendom nie, maar dat hulle steeds eiendomsreg moet hê.

“Onteiening sonder vergoeding is uiters gevaarlik en vernietigend, maar [ʼn mens] moenie vergeet dat onteiening mét vergoeding stééds problematies is nie. Dit is steeds onteiening. As jy jou eiendom wou verkoop, sou jy dit gedoen het.”

Lamberti meen om iemand se plaas te vat en hulle ʼn benaderde waarde van die markprys te betaal, is beter as om dit sonder enige vergoeding te doen, maar dit bly ʼn groot probleem.

Hy sê in ʼn moderne samelewing bestaan titelaktes wat deur die staat erken word, maar dat dit dus ook aan die staat ʼn monopolie vir die erkenning van eiendom gee. In ʼn sogenaamde vriendelike staat is dit goed, maar wanneer die staat “onvriendelik” word, hou hy ook al die mag oor eiendom. “As die mag in die verkeerde hande beland, kan die staat dus ook eiendom ‘ontken’,” het Lamberti gesê.

Prof. Danie Goosen, die rektor van Akademia en gerekende filosoof, het gesê ʼn gebrek aan eiendomsreg kan lei tot die vernietiging van burgers se private, gesins- en gemeenskapslewe. “Eiendomsbesit skep ʼn vastigheid wat onder meer die gesins- en private lewe moontlik maak. As ons die bousteen van eiendomsreg wegvat, val die hele orde inmekaar,” het Goosen gemaan.

Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, sê grondwetlikheid gaan oor die verdeling van gesag, maar ook die verspreiding daarvan. Volgens hom moet daar wigte en teenwigte wees om ʼn magsentrum te balanseer.

“Eiendom is ʼn konstitusionele aangeleentheid, want dit stel jou in staat om ʼn burger te wees. Enige vorm van ingrypende inmenging in eiendom is strydig met die gedagte van burgerskap. Inbreuk op eiendom is nie net dít nie, dis veel groter: Dit kalwe weg aan jou vermoë om ʼn burger te wees,” het Malan gesê.

Hy het bygevoeg dit kan op ʼn blatante wyse gedoen word, soos deur onteiening sonder vergoeding, maar ook op ander wyses soos die hef van buitensporige belasting of deur baie streng regulering.

Malan sê instellings soos sakeondernemings, vakbonde, kerke en universiteite moet hul mag uitoefen om as teenwig vir die staat te dien. As instellings hulle mag aan die staat oorgee – deur byvoorbeeld ʼn afhanklikheid van staatsubsidies, of deur interne kwessies in die howe te laat besleg – kan hulle nie as teenwig vir staatsmag optree nie.

Hy sê gemeenskappe moet mekaar op ʼn plaaslike vlak vind en op klein skaal begin saamwerk.

Lamberti stem saam dat mense op voetsoolvlak gewoonlik makliker raakpunte met mekaar vind en dat daar op dié vlak saamgewerk moet word.

Malan en Lamberti is dit ook eens dat daar verskillende maniere is om met selfbestuur te begin – dit kan so klein wees soos om ʼn sonkraggeyser te installeer om jou afhanklikheid van Eskom, en dus die staat, te verminder, of om as gemeenskap verantwoordelikheid vir die veiligheid in jou buurt se parkie te neem.

“Een manier is om dinge te doen wat tyd verg, maar nie geld kos nie,” het Lamberti gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

gatiep ·

Bang vir daai wigte en teenwigte woorde.
Ons gewig is heeltemal te min vir die swaargewigte.

Hans Richardt ·

Die kuns van enige geveg, is om jou teenstander te oorwin, sonder fisiese geveg, al is jou teenstander super swaargewig!

Lerato ·

Die 1913 landwet het swart boere van hulle grond sonder vergoeding ontneem.

TimJan ·

Wigte werk nie in die voortrekker geskiedenis , ook nie hier nie.

Geen verdere kommentaar…….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.