Kenners sê oor ‘vyfde vlaag’

Argieffoto (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Kenners verskil oor of die onlangse toename in nuwe Covid-19-gevalle tekenend van ’n vyfde virusgolf in Suid-Afrika is en sommige meen dat slegs ʼn splinternuwe variant nóg ’n virusgolf tot gevolg sal hê.

Daar bestaan egter min twyfel dat subvariante van die bestaande Omikronvariant waarskynlik verantwoordelik is vir die huidige toename in infeksies.

Altesame 3 222 nuwe koronavirusgevalle is teen Sondagaand in Suid-Afrika aangemeld vergeleke met die 832 nuwe gevalle die week vantevore.

Dr. Aslam Dasoo, sameroeper van die progressiewe gesondheidsforum, het Maandag aan Maroela Media gesê dié toename is hoegenaamd nie onverwags nie, hoewel dit heelwat vroeër gebeur het as wat voorspel is.

“Die feit bly staan dat die vyfde golf aan die kom is.”

Dasoo verwag dat die golf teen einde Mei in volle swang sal wees in provinsies met groter bevolkings, namate die winter sy opwagting maak en mense al meer binnenshuis saamdrom.

“Ons ​​moet aanvaar dat ons steeds in ’n pandemie is.”

Dr. Angelique Coetzee, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, glo egter nie Suid-Afrika gaan binnekort nog ’n virusgolf beleef nie.

(Argieffoto: Unsplash)

“Dit is hoogs onwaarskynlik dat Omikron die vyfde golf sal veroorsaak. Dit maak nie sin nie, aangesien 80% van Suid-Afrikaners reeds weerstand teen Omikron opgebou het.

“Slegs ’n nuwe variant sal nog ’n golf tot gevolg hê en dan sal daardie variant vinniger moet kan versprei en meer ernstige siekte veroorsaak. Dit moet Omikron kan verplaas.” Sy meen die nuwe golf infeksies word deur ʼn subvariant van Omikron gedryf.

Dasoo sê op sy beurt hy voorsien nie dat die vyfde golf ’n magdom Covid-19-verwante hospitalisasies en sterftes sal inhou indien die golf wel deur subvariante van die Omikronvariant gedryf word nie.

“Dit hang alles af van die aantal gevalle wat aangeteken word. Omikron is meer aansteeklik, maar ons moet onthou dat 40% van Suid-Afrikaners reeds teen Covid-19 ingeënt is terwyl naby aan 90% van Suid-Afrikaners al immuniteit teen die virus opgebou het.”

Tog behoort landsburgers, veral dié wat nog nie ingeënt of Covid-19 gehad het nie, steeds versigtig vir die Omikronvariant te wees.

“Ons immuniteit het ’n groot rol gespeel in hoe ons Omikron tydens die vorige golf ervaar het. Indien ons nie immuniteit gehad het nie, sou Omikron ’n erger impak gehad het. Dit is nie ’n swakker virus nie. Dit is dieselfde virus.

Dasoo sê dit is dus baie belangrik dat mense teen Covid-19 ingeënt word en ook hul opvolginentingsdosisse (oftewel booster) ontvang.

Hy meen wel dit sal nie vir die regering nodig wees om weer ’n nasionale ramptoestand in te stel nie. “Hulle kan moontlik weer die reëls rakende maskers en sosiale byeenkomste verskerp, maar ek glo nie dit sal nodig wees om reisbeperkings in te stel, of skole of werkplekke te sluit nie.

Kommer oor Gauteng

Altesame 1 727 nuwe gevalle en 10 933 aktiewe gevalle is teen Sondagaand in Gauteng aangeteken, vergeleke met 460 nuwe gevalle en 4 333 aktiewe gevalle ’n week tevore. Dit is die grootste toename in gevalle en die meeste aktiewe gevalle landswyd.

Jack Bloom sê dié toename is rede tot kommer, veral omdat die Gautengse departement van gesondheid nie in dié stadium oor goeie leierskap beskik nie.

Hy wys daarop dat die departement sedert prof. Mkhululi Lukhele se bedanking in Oktober 2020 nog nie weer ’n permanente hoof gehad het nie.

Maroela Media het destyds berig Lukhele is voor sy bedanking geskors ná die spesiale ondersoekeenheid (SOE) bevind het dat hy nie sy verantwoordelikheid in die toekenning van kontrakte aan sekere maatskappye vir die verkryging van goedere en dienste in verband met die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie uitgeoefen het nie.

Die departement se waarnemende hoof, dr. Sibongile Zungu, is verlede maand vort, terwyl ander senior poste, waaronder hoof‑ finansiële beampte, steeds deur waarnemende personeel gevul word.

“Ons is in hierdie stadium nog in die duister oor die erns van die Omikron-subvariante wat blykbaar die nuwe golf gevalle dryf, maar hospitale kan ’n vloed van Covid-pasiënte in die volgende paar weke verwag,” meen Bloom.

Daar is in dié stadium 1 272 Covid-pasiënte in private en openbare hospitale in Gauteng. Die getal het minder as drie weke gelede onder 1 000 gestaan. Dit terwyl ’n tekort aan personeel ʼn groot uitdaging in die behandeling van Covid-pasiënte bly, sê Bloom.

“Premier David Makhura het erg misluk deur nie bekwame en eerlike topbestuurders aan te stel om die voortdurende krisis in ons hospitale reg te stel wat groot lyding vir pasiënte veroorsaak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Hulle faal steeds om te noem dat natuurlike immunïteit die grootste bydraer is vir laer infeksies en nie die inentings wat volgens die berig van SARU groot lang termyn newe effekte tot gevolg het nie.

Deon ·

Ek is geen mediese kenner nie, ek wil graag weet, hoeveel van hierdie sg subvariante van omicron is daar? Watter een van daardie variante is die een wat mense lewens bedreig, hoeveel van die subvariante wat lewens bedreig is daar. En dan ook, wanneer is dit n golf, as al wat n virus is jou aanval of as een spesifieke variant jou aanval? Die “golf” storie klink so rof en vrees aanjaend maar moet ons nie eerder die sterftes”co morbidities” in ag genome as die maatstaf neem nie? Ons raak siek van allerhande virusse maar as dit nie dodelik is nie dan is dit nie noodwendig heel bo aan ons lys van bekommernisse nie

VaalDonkie ·

Stel dit so: daar is seker al amper 7000 variante van die virus in totaal. En van Omikron kan daar seker ‘n paar honderd wees. Maar hulle worry net as daar ‘n hele paar infeksies waargeneem word met ‘n sekere subvariant. Maar dis normaal vir koronavirusse. Moenie stres nie.

Lida ·

Is winter mense genade griep gevalle nog al die jare hoër in die winter…

Nommer 7 ·

Masker dra en hande sanitize sal die verspreiding van die alombekende 500 jaar oue griep virus hierdie winter drasties verminder. Dit is in 2020 en 2021 onteenseglik bewys. Onthou, as ‘n teorie in die praktyk bewys kan word, dan is die teorie korrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.