Kersvader ruil slee vir ambulans

(Foto: CCP)

Kersvader ruil vanjaar weer sy slee vir ʼn ambulans, wanneer nooddienswerkers en ander vrywilligers oudergewoonte tussen 14 en 19 Desember bymekaarkom om behoeftige kinders en ouer mense vir Kersfees te bederf.

Die jaarlikse Kersfees-gemeenskapsprojek (CCP) hoop om vanjaar altesaam 32 000 Kerspakkies aan behoeftige gemeenskappe aan die noorde en weste van Pretoria, asook die Moot te oorhandig.

Hiervoor word ʼn konvooi van sewe ambulanse en twee reddingsvoertuie ingespan, wat met loeiende sirenes sowat 100 km deur die strate van Pretoria sal paradeer. Best Care- en Ambulink-ambulansdienste verskaf die voertuie, wat spesiaal vir Kersfees versier word. ‘n Helikopter sal ook elke dag vir ‘n uur lank oor die gebied vlieg waar die konvooi beweeg, om inwoners in die omgewing in te lig dat die projek in hulle area bedrywig is.

Xander Loubser, paramedikus en koördineerder van die projek, sê vanjaar se verrigtinge sal in Mountain View en Suiderberg afskop, waarna die hele konvooi en vrywilligers die volgende dag die inwoners van Daspoort, Booysens, Claremont en Hermanstad bedien.

Op 16 Desember gaan vrywilligers Pretoria Tuine takel, gevolg deur Wolmer in Pretoria-Noord en teen 18 Desember sal die konvooi deur Parktown, Wonderboom-suid en Roseville beweeg. Die jaarlikse projek sal op 19 Desember in Danville tot ʼn einde kom.

“Vir langer as tien jaar bring hierdie  gemeenskapsinisiatief nou al duisende bure bymekaar vir ʼn unieke feestelike ervaring,” sê Loubser.

“CCP beloof om hierdie ervaring weer in 2022 aan gemeenskapslede te bring.”

Vir die CCP om hierdie projek te verwesenlik word nagenoeg R260 000 benodig om al die pakkies gereed te kry vir die gemeenskap. ʼn Astronomiese bedrag van R419 000 is op die ou einde ingesamel.

Die astronomiese bedrag wat ingesamel is, is te danke aan GROOTfm 90.5, mediavennoot van die ‘Krismis vir Kinders’-veldtog, en die gemeenskap wat in hul massas hierdie bydrae gelewer het.

“Ons maak nog elke keer slegs staat op die ondersteuning van plaaslike ondernemings en welwillende mense.”

Loubser het toegegee dat hy aanvanklik bekommerd was dat die projek nie vanjaar die lig gaan sien nie, aangesien daar toe nog bitter min skenkings ingekom het. Sy wanhoop het egter in hoop verander toe skenkings kort daarna begin invloei.

“Ek wil vir mense daar buite, wie se geloof getoets word, sê: Hou moed, want Hy stel ons nooit teleur nie! Sonder hoop is daar geen lewe nie.”

Die projek is destyds deur vier gemeenskapslede van Hercules, onder wie Loubser, begin om gemeenskapsontwikkeling in Pretoria te ondersteun. Dit wou terselfdertyd die ongesiene helde in die gemeenskap, soos nooddienspersoneel, vereer deur liefde en hoop te skep.

Sedert die stigting in 2011 groei die projek jaarliks, met plaaslike gemeenskappe wat telkens organiseerders se verwagtings oortref met die omvang van hul vrygewigheid.

Hoewel die fondsinsameling vir vanjaar se projek reeds afgehandel is, is daar steeds maniere om by hierdie inisiatief betrokke te raak.

Luidens CCP se Facebookblad kan lede van die gemeenskap vanaf volgende week naderstaan om  die duisende pakkies te help verpak. Hulle kan ook aansoek doen om op voetsoolvlak pakkies aan gemeenskapslede te oorhandig.

Inwoners van Pretoria kan boonop hul eie voertuie inskryf om in die strate rond te kerjakker, mits dit uniek versier is vir Kersfees. ʼn Lywige kontantprys is natuurlik op die spel vir die beste en mees unieke voertuig.

Volgens Loubser kan mense selfs praktiese skenkings maak soos klere of kostuums vir Kersfeeskarakters, plastieksakkies vir verpakking, water en verversings vir diegene wat die pakkies aflaai en brandstof vir die voertuie wat vir minstens vier dae ses roetes gaan ry.

In die gees van deursigtigheid vra Loubser egter dat diegene wat wel skenkings wil maak, liefs eers kontak maak met CCP by [email protected]. Die projek se webblad kan ook hier besoek word vir meer inligting.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Ambulanse is nie baie veilig nie wees maar versigtig.Dankie vir gebaar.

Meerkat ·

Goeie diensbaarheid.

Moet net nie te hard en ver verkondig nie. Daars te veel vlieë met ore wat kwaad sal doen.

Anonymouse ·

Hulle doen dit nou al ‘n paar jaar, en ek het dit self al gesien. Daar was groot opgewondenheid en skares het hulle plekke op die sypaadjies opgeneem. Dis ‘n wonderlike idee en ek hoop dit sal eendag uitbrei.

In hierdie land het ons te min geleenthede vir gemeenskappe om bymekaar te kom en sosiaal te verkeer. Ek hoop vir nog baie meer Kersparades, markte, sportsdae en ander sosiale byeenkomstes waarheen ons nie kilometers ver heen hoef te ry nie, en wat nie gepaardgaan met mega-maatskappye se reklame nie. Intieme, informele gemeenskaps byeenkomstes waar mense mekaar kan leer ken.

Nico ·

Die mense gaan so te kere vir ‘n heidense dag wat nie eers die geboorte van Jesus Christus is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.